Thursday, October 15, 2015
NG Kerk Sendeling stort sy hart uit oor die Algemene Sinode se besluit!
Ds. Erik van Zyl, 'n sendeling in Kaokoland en dosent by NETS, het gereageer op 'n vraag oor wat Christene te doen staan wanneer 'n denominasie ten gunste van homoseksuele leraars besluit. Sy antwoord kom na aanleiding van die Algemen Sindoe se besluit om voortaan selfdegeslaghuwelike te seën en voltrek in die NG Kerk. Ek kon die pyn voel in Ds. Erik van Zyl se hart. Terwyl hy swoeg en sweet om mense te vertel hoe om vry te kom van hul sonde, is sy kerkverband besig om die evangelie en die Woord van God af te breek tot humanistiese goedheid. Ds. Erik van Zyl skryf soos volg:
"Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor!"
Wat dink ek oor die feit dat die NG Kerk se Algemene Sinode homoseksuele-burgerlike verbintenisse goedgekeur het en predikante nou toelaat om sulke verbintenisse in die kerk te bevestig?
Ek antwoord graag en begin deur te wys op Jesus as ons Here en enigste Hoop!
"Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Johannes 1:29) roep Johannes die Doper uit toe hy vir Jesus sien. Ek onthou nog goed die woorde van prof Flip Theron in die Dogmatiek klas , “Menere moet nooit toelaat dat iemand jou sonde van jou af wegneem nie, want dan kan Jesus Christus dit nie wegneem nie!” As ons mekaar se sonde wegneem, mekaar ontsondig, mekaar regverdig in ons sonde, mekaar se sonde institusionaliseer, mekaar se sonde wettig dan kan Jesus ons nie meer verlos nie. Die NG Kerk het sopas die sonde van homoseksuele dade gewettig, geïnstitusionaliseer, weggeneem en vrygespreek! Diegene wat die NG kerk se vryspraak aanvaar, MIS die vryspraak van Jesus al het HY daarvoor met sy kruisbloed betaal! Dit is die toppunt van liefdeloosheid!
Miskien argumenteer jy dat sekere homoseksuele dade nie sonde is nie, want Paulus was onbewus van die “kern-homoseksualiteit” in die 21ste eeu se homoseksuele-verhoudings gekenmerk deur liefde en trou. Dan was Paulus seker ook onbewus van “kern-gieriges”, “kern-egbrekers”, “kern-pedofiele” , “kern-alkoholiste”.....
Daarom bly hy ongemaklik konsekwent wanneer hy ons sonde aanspreek, “Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie! [Nie een van die sondes is erger as die ander nie, maar ons durf nie waag om enige een van hulle te wettig nie, want dan geld die volgende vers nie meer nie!] So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God!” ( 1 Korintiërs 6:9-11; Nuwe Direkte vertaling)
Dit is alleen met die donkerbril van humanistiese eksegese en teologiese gimnastiek dat sekere NG Kerk teoloë dié Woord van die Here kan afwater en verdraai totdat dit sê wat hulle wil hoor! Dit laat my sidder en herinner onmiskenbaar aan Jesaja 5:21, “ Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” Spreuke 16:25
Oor die vraag wat Jesus sou gedoen het en of hy vir prof Carson sou beaam het?
Jesus het alle sondaars met ope arms ontvang en liefgehad, want dit is vir hulle sonde wat hy gesterf het. Jesus het ook vir die sonde van homoseksuele dade gesterf. Wanneer die owerspelige vrou wat op heterdaad in egbreuk betrap is voor Jesus staan en die skare haar wil stenig, dan spreek Jesus haar vry met die woorde, “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.” (Johannes 8:11) Ek reken dat Jesus min of meer dieselfde sou sê vir ’n homo-seksuele persoon wat op heterdaad betrap sou word, “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”
In die evangelies sien ons dat Jesus die snykant van God se wet in die nuwe bedeling veel skerper kom maak het! In Levitikus 20:10 lees ons, "Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
In Matteus 5:27 sê Jesus, "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ [aangehaal uit Eksodus 20:14] Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”
Ek wonder wat sou Jesus gesê het van Levitikus 20:13, "Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.”
In die lig van Jesus se uitspraak in Matteus 5:27 sou Jesus waarskynlik min of meer iets soos die volgende gesê het, "Julle het gehoor dat daar gesê is: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Maar Ek sê vir julle: Elke man wat na ’n ander man kyk en hom begeer, het reeds in sy hart met hom ’n homoseksuele daad gepleeg."
Om terug te kom by die vraag of Jesus prof Don Carson sou beaam het?
Kom ons kyk weer waarmee prof Carson sy antwoord afsluit. “Homosexuality has become in our day, in many denominations a trigger for a very simple issue; will we live under the authority of the Word of God or will we not? And that is absolutely everything. You just can’t duck that one. Sooner or later you face that issue or you die.”
Kom ons luister nou na Jesus se woorde in Matteus 5:18-19 waar hy kommentaar lewer oor die vervulling van die wet wat onder andere Levitikus 20:13 ook insluit en daarby ons ook vermaan om die Woord te gehoorsaam. “ Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is. Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.” Ek dink tog Jesus sou prof Don Carson beaam het as iemand wat onmiskenbaar buig voor die gesag van die Woord om dit te gehoorsaam.
Jy verwys in jou epos na die Algemene Sinode se besluit as wonderlike nuus, maar weet jy daar is vele NG Kerk lidmate wat anders op die Sinode besluit gereageer het. Die algemene gevoel is ’n gevoel van verslaentheid en hartseer omdat die Woord van God geminag is in hierdie saak. Baie lidmate voel na die besluit nie meer tuis in die NG kerk nie.
Verder gee die Algemene Sinode ruimte dat albei standpunte binne een denominasie gehandhaaf kan word (kerkrade moet self besluit), dit is nie alleen onhoudbaar nie, maar ook vals en skynheilig. Hier het ons twee Skrif-interpretasies wat ligjare van mekaar verwyder is (sien dr JI Packer se artikel aangeheg) en onmoontlik binne dieselfde geloofsgemeenskap geakkommodeer kan word. Een predikant sal twee gays binne in ’n stabiele verhouding oproep tot bekering en ’n ander een sal hulle bemoedig om hulle homoseksuele identiteit met vrymoedigheid uit te leef. Dit is blatante skynheiligheid en grens aan godslastering.
Dus moet lidmate en gemeentes van die NG Kerk nou self kies watter lewenswyse en praktyk hulle wil navolg. Watter een sal ons kies?
Wanneer ons kies moet ons net besef dat God se Woord nie verander het nie, “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (Jesaja 40:8). Daarmee saam moet ons kies met die wete dat “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8).
“ Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (Spreuke 16:25)
Vriendelike groete in Christus
Erik van Zyl (VDM - NG Kerk Namibië)
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)
Dankie vir jou goeie werk, met hierdie Blog, Jaco. Ek ken ds. Erik goed, hy is 'n ware man van God en doen wonderlike werk vir die Here!
ReplyDeleteDankie Johannes. Ek kan in sy brief voel hoe sy hart huil!
DeleteMag die Here julle Namibiese NG Woordbedienaars wat Sy wil soek steeds meer toerus.
ReplyDeleteNa aanleiding van onlangse NG senode besluite en die artikel, sien gerus die volgende artikel: As jy glo jy mag nie oordeel nie, dan het satan jou ook oogklappe aangetrek, en weerhou jou van die waarheid!!!! Sien die artikel oor onder meer waaroor jy moet oordeel en waaroor jy nie mag oordeel nie, oor wat die Bybel sê oor homoseksualiteit, om false leeringe uit te wys, om jou broeder te vermaan, ens... http://www.chrisvanderwesthuizen.co.za/gedagtes/127-jy-moet-oordeel-se-die-bybel . Gee asseblief jou opinie en share.
ReplyDeleteDankie Jaco en Erik vir 'n verantwoordelike artikel wat die Skrifgesag konsekwent handhaaf. Baie seën op julle werk.
ReplyDeleteWat sê ek vir die homoseksuele wat na my toe kom om hom te help om die probleem waarvan die Heilige Gees hom oortuig het dat dit verkeerd is, te oorwin? Dat die Here vir hom lieg?
ReplyDeleteEn aan die jongman wat deur die Here van sy probleem verlos is, dat God hom van iets verlos het wat nie verkeerd is nie?
Die vyand se jongste vrugbare terrein van misleiding is die humanisme, wat alles wat behoudend is bevraagteken, alles wat reg is as verkeerd bestempel en verwarring saai deur geleerde leiers te verlei.
God ons skepper, het man en vrou geskape om deur 'n liefdes daad voort te plant en lewe te verwek in die vrou, God se wil. Wanneer ons dan as mens dan 'n liefdes daad tussen mense van dieselfde geslag (wat nie lewe sal wek nie) goed praat en of doen, gaan ons teen God se wil en gee ons, ons self oor aan wellus (lust) van ons eie liggaam.
ReplyDeleteDit is interessant dat die skrywer slegs gedeeltes uit die bybel kies wat sy punt pas. God is liefde. Dit kom baie meer kere in die bybel voor as enige van die negatiewe aanhalings in die artikel. Die woord liefde kom nie een keer voor in die artikel nie. Laat my wonder oor wat sy riglyn vir die lewe nou eintlik is. My verstaan van die riglyn is egter ook deur Jesus opgesom as: liefde vir God en liefde teenoor jou naaste. Sien maar min liefde in die kommentare ook. Mag God se liefde ook vir julle 'n waarheid word ... en los maar die oordeel oor aan God hy is baie beter daarmee as ons mense.
ReplyDeleteDankie vir jou bydra. Net die volgende. God se liefde is heilig en rein gelyktydig. Kyk gerus na die kruis van Jesus as jy wil sien hoe God oor sonde voel. Hy is so lief vir die sondaar dat hy sy sonde aan die kruis veroordeel. Hy is ook so lief vir die sondaar dat hy hom nie in sy sonde laat nie, maar bevry daarvan. God haat sonde met 'n passie en dit demonstreer Jesus se aaklige dood. God het nooit Jesus laat sterf om mense in hul sonde te laat bly rol nie. God se liefde is ook rein en heilig. Die liefde van bo is vol wysheid, reinheid, goedheid en eerbied vir God bo alles. God het nie sonde geskep nie. Die wat beweer God het sonde geskep deur mense gay te skep om met ander mans te slaap ken nie God se liefde nie. God skep geen onreinheid nie. Daar was geen onreinheid voor die sondeval nie. Die liefde wat van God af kom is ook lief vir die waarheid en nie die leuen nie. Dit is wonderlik om die klem op liefde te lê. Die Bybel plaas ook klem op die liefde maar nie net op die liefde nie. God se karakter is meer as net die liefde. God is ook heilig, sondeloos, woede, regverdiging en oordeel. Al die eienskappe is gelyk en in harmonie in wie God is. God het die mens man en vrou geskep nie man-man of vrou-vrou nie. Die sonde het dit gebring. Gaan lees gerus wat ek hieroor verduidelik het by die skakel. http://jacodebeer.blogspot.co.za/2015/10/praat-saam.html
DeleteLees ook die aangaande "human sexuality" vanuit die Skrif. http://jacodebeer.blogspot.co.za/2015/10/human-sexuality.html
Groete.
Dankie vir die artikel. Dit stel als so mooi. Liefde vir ons naaste is juis om alles binne ons vermoe te doen om toe te sien dat ons naaste nie verlore gaan nie maar gered word....die Skrif is duidelik daaroor dat die wat onder andere homoseksualiteit beoefen nie die koninkryk van God sal beerwe nie. Ek het my naaste so lief dat ek nie gaan toesien hoe hul volhard in sonde en sodoende nie die ewige lewe beerwe nie. Ons kan nie langer volhou om mense se ore te streel en God se Woord minag nie. As ons dit doen moet ons die gevolge van ons dade ook aanvaar....
DeleteDankie vir die Reply.
ReplyDeleteDie nuwe humanistiese beweging praat baie van liefdeloosheid, asof iemand wat jou help met identifisering van sonde 'liefdeloos' is.
Ook hierdie seining is iets wat die duiwel graag gebruik om ons te oortuig dat ons niemand moet 'veroordeel' nie, want jy is ook mos nie volmaak nie. Jesus het immers gese " laat die een wat nie sonde het nie die eerste klip gooi"
Ons moet versigtig om nie nou die baba met die badwater uit te gooi nie, want God het ons ook beveel om mekaar te vermaan. Hoekom?
Sodat ons juis bewus kan raak van sondes waaraan ons gewoond geraak het, en nie meer agterkom in ons eie lewens nie.
Die vraag is regtig: wie is liefdeloos, die ou wat op die wal van die rivier staan en vir die ou op die boodjie skreeu, OPPAS, DAAR IS 'N VERSKRIKLIKKE HOEE WATERVAL OM DIE DRAAI, KOM UIT DIE RIVIER UIT, of is die regte liefdeloosheid die ou wat op die wal staan en skree: "SIT TERUG EN KYK VIR DIE MOOI OMGEWING"
Die duiwel het ons in hierdie saak kom oortuig dat dit liefdeloos is as jy iemand waarsku van 'n gevaar.
Kom ons reik in liefde na die homoseksuele uit en waarsku hulle dat volharding in sonde tot die dood lei, eerder as om in liefdeloosheid hulle 'n klop op die skouer te gee en te se: mooi so jong man. Jy leef eerbaar.
En as jy my sien volhard in sonde, moet my asb nie los om verlore te gaan nie, maak liewer my gevoelens seer en vermaan my.
Groete
Carel Kuun
amen
ReplyDelete