Daar is 'n baie kort, maar uitstekende brief vandag in die Volksblad wat ek hieronder sal plaas. Laat ek eers 'n konteks skets waarby die brief pas.
Die NG Kerk sinode het onlangs drie groot sake hanteer - Artikel 1, Belhar en Homoseksuele verbintenisse. Hoe het hulle dit gedoen? Deur stemming. Met Belhar en Artikel 1 het die meeste kerke "nee" gestem. Die ironie is dat die Sinode beweer hulle het God gehoor oor Belhar en Artikel 1 en dat dit veronderstel was om geïmplementeer te word. Nelus Niemandt (vorige moderator) het so vêr gegaan deur verskeie kere in die media te noem dat beide die sake baie belangrik is en hulle sal nou ander manier moet kry om dit te implementeer. Op die onlangse Algemene Sinode is daar toe gestem op 'n voorstel van die Wes Kaap sinode dat elke streek sinode addisionele belydenisskrifte kan byvoeg by die drie formuliere van eenheid wat reeds die kerk se belydenis grondslag vorm. Die besluit was 'n stap in die rigting om alles te probeer doen om Belhar in te kry sodat die NG Kerk kan herenig met die VGKA. Wes Kaap en Suid Kaap sinodes was die enigstes wat 'n "ja" stem kon kry en dit stel hulle nou in staat om Belhar by die drie formuliere van eenheid te voeg. Die vraag nou is het die gemeentes God reg gehoor toe hulle "nee" gestem het of het die Algemene Sinode reg gehoor? Wat het die oorweldigende meerderheid stem nou eintlik beteken terwyl die kerk tog voortgaan om Belhar toe te laat op streekvlak? Hoe kan 'n huis bly staan wat so verdeeld is? Die ironie is die Algemene Sinode beweer dat hulle die stap geneem het om kerkskeuring te voorkom en eenheid te bevorder. Ek dink dit is anders om. Plaaslike sinodes en gemeentes kan nou teen die sinode staan en weier om sekere besluite te implementeer. Gemeentes kan selfs nou "preek" teen hul eie Algemene Sinode. Die Algemene Sinode laat God nou soos 'n pion lyk. Maw. ons kan nou oor God en Sy waarhede stem en stem tot ons reg stem wat ons wil hê.
Die saak oor gay-huwelike is ook so hanteer. Dit kom nou al jare en lê op die sinode se tafel vanaf 2007. Daar was baie druk vanaf die liberale kant om dit goedgekeur te kry. Die ANC regering het dit ook 'n hele paar jaar terug gewettig. Die NG Kerk probeer so hard om polities korrek te wees om sodoende weer in te wees by die regering. Die Afrikaner se kultuur en taal is onder druk wat ook bydra tot die druk om weer in te wees by die regering en samelewing. Aan die anderkant is daar ook sterk stemme van Bybelse gelowiges teen gay huwelike. Die afgelope twee jaar het die NG Kerk toe 'n taakspan aangestel om die saak te ondersoek. Publieke byeenkomste is gehou waar mense hul menings kon lig. Emosionele stories is bymekaar gemaak en 'n toenemende emosionele saak is gebou aangaande die inklusiwiteit van 'n gay leefstyl in die kerk. Met die pas afgelope Algemene Sinode is daar oor 'n twee dae periode tyd gespandeer aan al die emosionele stories. Die tema van al die stories en verduidelikings is dat mense wat in 'n gay verhouding staan opreg lief is vir mekaar en dat God nie so opregte liefde sal veroordeel. Dit is gemotiveer met emosionele stories vanuit die gay gemeenskap oor liefde, goedheid en seerkry weens verwerping. Daar is gestem en met 'n 60% meerderheid is toe besluit dat gay huwelike met die seën van God deur die kerk voltrek mag word. Persone wat 'n gay lewenstyl praktiseer mag ook as leraars aangestel word. Die basis van die besluit was "Liefde is Liefde" en kan nie verkeerd wees nie. Maw. die fondasie van die besluit is; solank as wat twee mans of vroue opreg lief is vir mekaar, seën God hul huwelik ongeag of Hy dit so geskep het of nie. Die vraag is weer, het die ander 40% God verkeerd gehoor? Het die kerk God verkeerd gehoor en verstaan die afgelope 2000 jaar? By implikasie beweer die NG Kerk dat God dus nou 'n radikale rigting verandering maak vanaf Sy oorspronklike skeppingsplan. God se keuse is bepaal en beïnvloed deur die veranderde kultuur van die moderne mens. Die spilpunt waarop die verandering draai is 'n demokratiese stem vanuit die sondige mens oor wat reg en verkeerd is.
Met die konteks en agtergrond sal die kort brief nou baie meer gewig dra.
DEMOKRASIE EN DIE WOORD
"Daar doen die kerkleiers dit warempel weer. Stem ewe demokraties oor wat die Woord sê! Party kerkleiers stem sus en anders so, maar dit maak nie saak nie, want albei groepe is reg en kan doen soos hulle goed dink.
Indien dit nie regtig saak maak nie, dan beteken dit die kerkleiers hou hul doenig met beuselagtighede. Hulle behoort hulle eerder te bemoei met sake wat regtig belangrik is.
Indien dit nie beuselagtighede is nie, kan albei groepe nie reg wees nie, kan nie demokraties daaroor besluit word nie en moet die kerkleiers baie gou tot besinning kom, want nou skep hulle net verwarring" (Arie van der Bijl, Bloemfontein).
Die vraag is, laat God ons toe om demokraties te stem en besluit wat die Woord sê? Ek dink nie so nie. Die Bybel openbaar 'n "top-down" benadering van God af. Hy openbaar Homself en die mens moet Hom gehoorsaam. Hy skep die mens en maak die reëls. Hy gee Sy wette en vereis gehoorsaamheid. Hy verander nooit en bly van ewigheid af tot in ewigheid dieselfde. God is lofwaardig omdat Hy is wie Hy is. Dit wie Hy is verdien onvoorwaardelike aanbidding, vrees en respek. Ons is sondig op alle terreine van ons menswees en nie in staat om te besluit oor sonde nie (Rom. 3:11; 2 Cor. 4:4; 1 Cor. 2:14). Ons het die Heilige Gees nodig om God se heiligheid en waarheid aan ons te openbaar deur Sy Woord. God gaan nie vandag heteroseksuele huwelike skep en more dit verander nie. God het gesê, "So sê die HERE, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan! (Isa. 48:17). Dit is nie ons wat besluit nie. Dit is God wat openbaar en leer. God se openbaring is nie progressief en verander soos die tye verander nie. God spreek en dit is so. God is net eenvoudig "EK IS" (Ex. 3:14).
God het Homself duidelik in Sy Woord openbaar en daar is nie "nuanses" wat elke eeu nuwe betekenis gee aan wat God gesê het nie. Die gay debat gaan fundamenteel oor hoe God die mens geskep het. Daar word deur die liberale teoloë so gefokus op die 7 tekste waarin die woord homoseksueel genoem word dat hulle die hele Bybel mis. Dit is asof hulle dink hul bewys hul punt wanneer hulle slegs die 7 tekste verkeerd kan bewys. Die ander ironie is dat hulle die "fundamentele" Christene beskuldig van enkele tekste uittrek om 'n teologie op te bou. As jy egter na die hele Bybel kyk van Genesis 1:1 tot Openbaring 22:21 is daar geen beeld en openbaring van die huwelik tussen twee mans of vroue nie. Nêrens het God openbaar dat menslike liefde die basis is waarop reg en verkeerd draai nie. God skep en gee die opdrag. Liefde is die gehoorsaamheid aan Sy opdragte (John 14:12-17; 1 John 5:3; 2 John 1:6). God het deur die hele OT en NT eenvoudig duidelik openbaar dat Hy die mens man en vrou geskep het. Dat Sy wil en plan is dat die man sy huis sal verlaat, sy vrou sal aankleef en een vlees word met sy vrou. Die hele Bybel openbaar dat kinders uit 'n liefdevolle huwelik 'n gawe van God is (Ps. 127:3-5). Daar is geen ander beeld en openbaring deur die hele Bybel aangaande die huwelik nie. Waarop moet 'n Christen nou sy geloof baseer? Op iets wat nie eers bestaan nie? Dit is moedswillige ongehoorsaamheid om eie idees te volg.
Die huwelik tussen man en vrou is selfs so belangrik dat God openbaar het deur die apostel Paulus dat die huwelik tussen bruid en bruidegom 'n beeld is van Christus en Sy kerk (Eph. 5:21-33). Christus kom terug om Sy bruid te haal. Die bruid moet haarself rein en skoon hou vir die bruidegom. Mans moet hul vrouens so liefhê soos Christus die kerk het. Vrouens moet aan die liefde van hul mans onderdanig wees en hul respekteer. Waar is daar op enige plek in die hele Bybel enige ander beeld en openbaring van die huwelik? Ek het die vraag al gevra en die liberale teoloë kon my nog nie wys waar die Bybel enige ander beeld van die huwelik openbaar nie. Die man se liggaam is nie geskep deur God vir seks met 'n ander man nie. Die man en vroulike liggaam is geskep deur God om mekaar te komplimenteer in 'n seksuele verhouding. Hoe word twee mans een vlees deur seksuele kontak? Dit is nie so deur God geskep nie. Selfs die wetenskap lag vir diesulkes wat beweer twee mans of twee vroue is geskep om een te wees. Liberale teoloë wil ons laat glo God het sonde geskep deur te beweer mense word gay geskep en dat die gay lewenstyl nie sonde is nie. Die eenvoudige waarheid van die Bybel is dat God man en vrou geskep het om in 'n liefdevolle huwelik te staan, voort te plant, en kinders groot te maak tot Sy eer (Gen. 1:27-28; 2:24; Matt. 19:4; Eph. 5:31). Die ander stemme word deur God se openbaring verteer in Sy heilige openbaring deur die Woord.
Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal vir My ‘n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. (Jer. 7:23)
Friday, October 16, 2015
Is God demokraties?
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)
No comments :
Post a Comment