Wednesday, November 18, 2015

Een strewe vir Een geloof in Een Here Jesus vir Een Kerk. "Mag hulle Een wees soos Ons Een is!"

Die kerk van die Here Jesus is nie die NG kerk of die Doppers of die Baptiste of die Hervormers of wat ook al nie. Die kerk is die een liggaam van Christus. Die Woord is die enigste gesag oor almal en die saak oor die gay debat raak alle gelowiges. Die praktiese dag tot dag bestuur van 'n gemeente is wel hul eie saak, maar daar is net een geloof, een hoop, een Woord, een Here Jesus en een liggaam. Ons is verbind deur 'n gemeenskaplike verlossing deur 'n gemeenskaplike Here Jesus. Toe Judas aan die gemeentes skryf om te stry vir die geloof het hy hulle herinner dat ons een "common faith" het waarvoor ons stry. “Beloved, although I was very eager to write to you about our common salvation, I found it necessary to write appealing to you to contend for the faith that was once for all delivered to the saints” (Jude 1:3). In die verband is daar nie my geloof en jou geloof en jou kerk en my kerk asof ons twee verskillende godsdienste is nie. Ons is saam in die stryd.

Ek kom ook mense teë wat in die NG kerk is en opinies huldig oor die gay-debat, die maagdelike geboorte van Jesus of die opstanding van Jesus. Ek het ook broers in die NG kerk met wie ek saam gesels oor die sake. My moeder dien nog daar op die kerkraad en ek help haar. Ek het daar groot geword en gooi nie net alles weg nie. Dit raak my op vele terreine direk. Die oomblik as 'n sogenaamde Christen opstaan en beweer gay is nie sonde nie en die Woord is nie onfeilbaar nie, of Jesus is nie deur 'n maagd gebore nie, of het nie liggaamlik opgestaan nie, raak dit my direk. Dit is 'n stryd vir een geloof in een Here Jesus. Ongelowiges dink nie aan my kerk en jou kerk nie. Hulle sê Christene is verward en weet nie wat hulle wil glo nie. Die oomblik as iemand sy geloof en liefde bely in die Here Jesus ervaar ek 'n band deur een geloof. Dit is wat ek in my hart beleef uit die Woord oor kerk.

Ek ervaar ook 'n groot las wat ek glo deur die Here opgelê is in die verband. Kerk is vir my veel groter as net die NG kerk of my gemeente en jou gemeente. As gelowiges huil, huil almal wanneer die Woord vernietig word. As daar herlewing is iewers en oorwinnings word gesmaak,  juig ons saam. As iemand wat myself voorberei vir die bediening is die kerk van Jesus vir my belangrik en nie net my ou klein gemeente nie. As Christene in Sirië doodgemaak word huil my hart. As die NG kerk die Woord verlaat en die skape word mislei, huil my hart. As die kerk in Zambië floreer jubel ek. As die kerk in Amerika terugkeer na die Woord verbly ek my in die Here. As Europa deur liberale teologie oorgeneem word, dan bid ek en smeek "red U kerk." As die charismatiese beweging kerke plaaslik oorneem, waarsku ek. Daar is een Vader, een Gees en een Here Jesus wat die las op my hart plaas want dit is sy mense. Ek glo dit behoort waar te wees vir ons almal en was ook die Here Jesus se gebed en begeerte.

Die Here Jesus het kort voor Sy inhegtenisname soos volg gebid: "Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo - dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het" (John 17:20-21). Sy gebed was nie net vir Sy eie dissipels nie. Sy gebed was vir elke gelowige wat deur die eeue in Hom sou glo. Ons gebed en strewe behoort dieselfde te wees as ons Hoepriester sin. Een strewe vir een geloof in een Here Jesus vir een Kerk.

No comments :

Post a Comment