Tuesday, November 24, 2015

NG Gemeente Albertyn verklaar dat die Alegemene Sinode die verlossing van Jesus en Skrifgesag misken.


Die NG Gemeente Albertyn verwerp die AS se Skrifgebruik. Daar is baie waarhede vervat in die kort verklaring. Die vernaamste vir my is die waarheid rondom die verlossing van Jesus. Christene is mense wat wedergebore is en van sonde bevry is. Wat hul sonde met berou bely het en aktief daarteen stry met die krag van die Gees. Dit is nie mense wat slawe van sonde is nie. Dit is wel mense wat foute maak en soms swig onder versoeking en struikel. Daarom skryf Johannes dat ons, ons sondes kan bely en gereinig word deur die bloed van Jesus (1 John. 1:7). Dit is nie mense wat hul sonde ontken nie, maar herken en bely met berou en versaak (1 John 1:8-9). Maar Johannes skryf ook dis nie mense wat 'n praktyk van sonde maak nie, want die Gees en die onverganklike saad van die Woord leef in hulle (1 Pet. 1:23). Mense wat wedergebore is, leef nie in sonde nie (1 John 3:5-10). Die Gees wat inwoon in gelowiges stel hulle in staat om oor sonde te heers deur Sy leiding (Gal. 5:16-25).

Lees gerus hul verklaring hieronder en die punte wat hul maak rondom sonde en die oorwinning oor sonde.


1. In die lig van God se Woord glo ons dat die beoefening van homoseksualiteit ’n sonde is en daarom teen die wil van God is (Lev. 18:22; 20:13; Rom. 1:24-28; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim. 1:9-10).
2. Ons glo dat die Skrif duidelik daaroor is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen die wil van God is (vgl. bv. 1 Kor. 7:36).
3. Ons erken dat gelowiges, totdat die Here hulle kom haal, teen sonde sal stry, daarom aanvaar ons elkeen wat in Jesus glo en bereid is om teen sy/haar sonde te stry, met ope arms as lidmate van die gemeente (1 Tim. 6:11; 2 Tim. 2:22; Rom. 15:7).
4. Ons glo dat elkeen wat in Jesus Christus glo met die krag van die Heilige Gees oorwinnend oor sy/haar sonde kan stry (Rom. 6:1-6; 1 Kor. 6:11; 10:13).
5. Ons bely vanuit die Skrif dat ’n huwelik slegs die verbintenis tussen een man en een vrou is (Gen. 2:24; Ef. 5:21-33).
6. Ons glo verder dat die Skrif op geen manier toestemming gee vir ’n burgerlike verbintenis tussen twee mense van dieselfde geslag nie, ongeag of daardie verbintenis gekenmerk word deur liefde en trou.
7. Ons spreek ons diepe kommer uit oor die manier waarop die Skrif hanteer word. Ons sien in die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings ’n duidelike miskenning van die gesag van die Skrif.
8. Ons is diep bekommerd oor die verwarring wat daar veral by lidmate oor hierdie aangeleentheid bestaan, veral by lidmate en gelowiges wat worstel met hulle seksuele oriëntasie.

Die Kerkraad van Albertyn gemeente sal, nadat die Noordelike Sinode reageer het op die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings, besluit oor moontlike inskakeling by ’n ander streeksinode van die NG Kerk en oor die betaal van eweredige bydraes.

No comments :

Post a Comment