Monday, June 27, 2016

Die Uitverkiesing deur Dr. Willie Marais

Die is 'n transkripsie van 'n preek oor die uitverkiesing deur Dr. Pieter Willem Marais.

In Handelinge 13:48 lees ons: “Toe die heidene dit hoor, was hulle bly oor die woord van die Here en hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”

Hier word baie duidelik gesê dat almal wat vir die ewige lewe bestem was, gelowig geword het. Daaruit moet ons aflei dat die ander nie gelowig geword het nie, omdat hulle nie vir die ewige lewe bestem was nie.

Dit geld ook vir Israel. Al was Israel die uitverkore volk van God (vgl. Ps. 147:19,20; Rom. 9:4,5), is nie almal hoof vir hoof gered nie. Paulus skryf: “Dit wil nie sê dat die woord van God verval het nie. Immers nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie.” (Rom. 9:6). Dit wil sê, nie almal wat vleeslik tot die volk Israel behoort, behoort aan die geestelike Israel nie. (vgl. Rom. 9:7,8)

‘n Bietjie verder verduidelik Paulus dat die redding van die mens nie gegrond is op enige verdienste nie, maar berus op die vrye genade en die voorneme van God volgens die uitverkiesing wanneer hy skryf: “Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” “Daar staan ook geskryf: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing, dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep. (Rom. 9:11-13).

Die diepste grond van die uitverkiesing is dan ook die liefde van God. Hy het reeds aan Israel gesê: “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal. Omdat die Here jou liefhet en Hy Sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur Sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die Farao, die koning van Egipte.” (Deut. 7:7,8).

En in die Nuwe Testament lees ons: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê”. (Joh. 3:16)

Niemand word dus op grond van sy werke gered nie (Gal. 2:16), Want dan het Christus Jesus tevergeefs gesterf, (Gal. 2:21) Daarom staan daar geskryf: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.” (Ef. 2:8,9 )

Wie roem , moet in die Here roem (1 Kor. 1:31), want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. (Rom. 11:36) God het ons uitverkies sodat ons Sy lof kan verkondig. (Jes. 43:20,21)

Ons word dus nie uitverkies omdat God vooruitgesien het dat ons heilig en onberispelik sal lewe nie, maar net andersom: “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens Sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus Sy kinders te wees.” (Ef. 1:4,5) Ons word dus uitverkies om heilig en onberispelik te lewe en nie omdat ons heilig en onberispelik lewe nie.

Die Here het in Sy liefde dit so beskik dat ons deur Christus Jesus Sy kinders mag wees.

Wat beteken die uitverkiesing? Dit beteken dat God uit die hele verdorwe, menslike geslag ‘n sekere aantal mense, uit louter goedheid, en sonder verdienste van hulle kant, in Sy ewige, onveranderlike raad in Christus Jesus ons Here uitverkies het om Sy kinders te wees, terwyl Hy die ander in hulle val en verderf, waarin hulle hulleself gewerp het, laat bly.

Die feit dat God sekere, bepaalde mense bo ander uitverkies het, beteken nie dat Hy party mense verontreg het deur hulle in hulle sonde en vervloeking te laat nie, want God skuld hulle niks nie.

Alle mense het in Adam gesondig en het hulle sodoende skuldig gemaak aan die vloek van die ewige dood. Paulus skryf: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het.” (Rom. 5:12) Dit beteken dat, net soos die mens na die sondeval was, so was ook die kinders wat hy voortgebring het, deur die voortplanting van die verdorwe natuur. Daarom word alle mense in sonde ontvang en as kinders van die toorn gebore. (Ef. 2:3; Job 14:4; Ps. 51:7) En dit kan ons verstaan omdat die mensdom ‘n organiese eenheid uitmaak. Daar staan byvoorbeeld geskryf: “’n Mens kan sê dat ook Levi, wat tiendes invorder, deur Abraham aan Melgisedek die tiende gegee het, want Levi, was nog in die liggaam van die stamvader toe Melgisedek vir Abraham tegemoet gegaan het.” (Heb. 7:9,10) Die brief wys terug na ongeveer vyfhonderd jaar vroeër. En op presies dieselfde wyse kan ons sê dat ons in Adam gesondig het, toe hy aan God ongehoorsaam geword het, want ons was nog in die ligaam van Adam toe die sondeval plaasgevind het. Om presies dieselfde rede kon Christus Jesus vir die ganse mensdom sterf (2 Kor. 5:15) en ons skuld by God betaal (2 Kor. 5:21), omdat Hy organies een met die mensdom is. (Joh. 20:17)

Daarom sou God niemand veronreg as dit Sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom kan niemand God ook verwyt as Hy uit Sy vrye welbehae besluit het om tog ‘n sekere aantal van hierdie mense vir Homself aan te neem en die ander in hulle sonde en vervloeking te laat bly nie.

Jesus het die eienaar in een van Sy gelykenisse aan een van die ontevrede dagloners laat vra: “Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? (Matt. 20:15) Almal en alles behoort tog immers aan God. (Ps. 24:1) En Hy kan met Sy eiendom maak wat Hy wil.

Teen elkeen wat teen die uitverkiesing van net sommige mense wil murmureer, kan ons die woord van Paulus stel: “Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: “Waarom het jy my so gemaak?” Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders en iets alledaags te maak nie? En as God dieselfde wou doen? Hy wou Sy toorn laat sien en Sy mag laat bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van Sy toorn die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra. So sou Hy ook die rykdom van Sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore vir die heerlikheid voorberei het. En onder hulle is ook ons, wat Hy nie net uit die Jode nie, maar ook uit die ander nasies geroep het.” (Rom. 9:20–24)

God het dus besluit om die ander wat nie uitverkies is nie, in hulle sonde en vervloeking, waarin hulle hulleself in Adam, as Adam gewerp het, te laat bly, en om nie hulle die saligmakende geloof en die genade van die bekering te gee nie. Om Sy geregtigheid te openbaar, het God dus besluit om hierdie mense aan hulleself oor te laat, hulle onder Sy regverdige oordeel te laat bly, en om hulle nie alleen vanweë hulle ongehoorsaamheid in Adam nie, maar ook oor al die ander sondes te veroordeel en te straf. Daarom is daar selfs sprake van grade van straf in die hiernamaals. (Luk. 12:47) Die besluit oor die verwerping maak God beslis nie die bewerker van die sonde nie, want dit is deur die mens dat die sonde in die wêreld gekom het. (Rom. 5:12) God is immers die regverdige Regter wat sonde straf. (Hand. 17:30,31)

Hierdie leer is tereg verskriklik vir almal wat God en die Verlosser, Jesus Christus, verag en hulleself geheel en al aan hulle sondige begeertes oorgegee het. Vir hulle geld die woorde in Spreuke 16:4: “Die Here het alles gemaak met ‘n doel, ook die goddelose vir die dag van straf.”

Maar almal wat hulle tot die Here wend en verlang om gered te word, en nog nie ‘n lewende geloof in Christus, of die vaste vertroue, die gewetensrus en die beoefening van kinderlike gehoorsaamheid ervaar nie, moet hulleself nie tot die verworpenes reken nie, maar veeleer vashou aan die beloftes van die Woord wat sê dat die Here die goeie werk, wat Hy in hulle begin het, enduit sal voer, en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus kom. (Fil. 1:6,7) Die Here het gesê dat Hy die lamppit wat dof brand nie sal uitdoof nie en die geknakte riet nie sal afbreek nie. (Jes. 42:3)

Dit bring ons by ‘n belangrike vraag: hoe sal ons weet dat ons uitverkies is? Paulus skryf aan die Tessalonisense en sê: “Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dit om julle ontwil. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. Onder baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom. So het julle ‘n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. Van julle af is die woord van die Here in Masedonië in Agaje verkondig, en oral het mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.” (1 Tess. 1:4)

Paulus verklaar dus dat hy van hulle uitverkiesing seker is omdat hulle op die evangelie gereageer en tot inkeer gekom het.

Op presies dieselfde wyse kan ons ook weet of ons uitverkies is, as ons daarvan seker is dat ons al op die evangelie gereageer en tot inkeer gekom het. (Vgl. 1 Pet. 3:15,16)

Die uitverkiesing is byvoorbeeld die oorsaak van ons geloof en geloofsgehoorsaamheid (Hand. 13:48), van ons saligheid (2 Tess. 2:13), van ons heiligheid (Ef. 1:14) en van ons volharding. (1 Kor. 1:8)

Daar staan geskryf: “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens Sy raadsbesluit.” (Ef. 1:11)

Hierdie woorde beteken nie dat ons van ‘n ewige vryspraak mag praat nie, want as alles gebeur volgens Sy raadsbesluit, en as dit beteken dat alles dus van alle ewigheid af bestaan, dan geld dit ook van die skepping van die hemel en die aarde. En ons kan nie van ‘n ewige skepping praat nie, want daar staan geskryf: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” (Gen. 1:1) Net so het ons verlossing ‘n begin. Paulus skryf en sê aan die Tessalonisense: “Die Here het julle lief, en God het julle uitverkies om van die eerstes te wees wat gered word. Julle is gered deurdat die Gees julle vir Hom afgesonder het en deurdat julle die waarheid glo.” (2 Tess. 2:13) Die redding van Tessalonisense het kragtens die uitverkiesing ‘n begin gehad. Hulle is eerste gered. Dit het in die tyd plaasgevind.

Daar staan byvoorbeeld geskryf: “Die wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En die wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.” (Rom. 8:30) Ons vryspraak is dus ‘n uitvloeisel van die uitverkiesing, en kan dus met die uitverkiesing geïdentifiseer word nie. Ons kan dus nie van ‘n ewige vryspraak praat of regverdiging praat nie, want ons kry eers die uitverkiesing en dan die vryspraak.

Dit beteken dat die uitverkorenes in die tyd gered word. Paulus skryf; “Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, ontvang. Hulle is dus mense wat nog verlos moet word.

Wanneer Petrus aan die uitverkorenes van God skryf, die vreemdelinge in die wêreld wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kapadosië, Asië, en Britnië (1 Pet. 1:1), dan së hy van hulle: “Julle daarenteen, is die uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na Sy wonderbare lig.” (1 Pet. 2:9) Maar Hy roep hulle nogtans op om hulle te beywer om hulle roeping en verkiesing vas te maak: (Seutelwoord: “Hy roep hulle om hulle roeping en verkiesing vas te maak”) “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus”. (2 Pet.1:10,11)

Die boodskap van die Bybel is dus nie: ons is uitverkies, ons moet net glo nie, maar net andersom: ons moet in die Here Jesus glo en dan kan ons glo dat ons gered (Hand. 16:30,31) en dus uitverkies is. (2 Tim. 2:10)

So het Paulus ook in sy prediking gesê: “Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer, en in ons Here Jesus te glo.” (Hand. 20:21) Die Skrif handhaaf dan ook die noodsaaklikheid van die geloof. (Mark. 16:16; Joh. 3:36)

Dit beteken weer nie dat ons op grond van ons geloof alleen salig word nie, maar slegs dat ons deur middel van ons geloof Christus Jesus as ons Geregtigheid aanvaar. Geloof is die werktuig waardeur ons die verlossing ontvang (Rom. 4:5)

Die gevaar is nie denkbeeldig nie, dat ons juis vanuit die erkenning van die soewereine genade van God aan die erns in die prediking afbreuk kan doen. En dit mag nie.

Paulus en Barnabas het in Ikonium so gepreek dat ‘n groot menigte Jode sowel as Grieke gelowig geword het. (Hand. 14:1) Dit was die Geesvervulde wyse waarop die boodskap gebring is, wat die mense daar tot geloofsgehoorsaamheid gebring het. Ons kan dus ook verstaan waarom Paulus die Korinthiërs smeek om die versoening met God te aanvaar wat Christus bewerk het. (2 Kor. 5:20). Niemand het sterker as Paulus die leer van die uitverkiesing gestel nie (Rom. 9:6-24), en tog het hy geen probleem daarmee dat die mens ook ‘n verantwoordelikheid het nie. Al het hy byvoorbeeld geglo dat God al die mense op die skip gaan red (Hand. 27:21–26), het hy nietemin ‘n bietjie later van die matrose gesê: “as hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.” (Hand. 27:31) Al weet Paulus dat dit God is wat in ons werk om te wil, word ons nietemin deur Hom opgeroep om ons eie verlossing uit te werk. (Fil. 2:12,13). Dit is dus uit die Skrif duidelik dat die oproep tot geloof en bekering steeds midde in die gemeente van Jesus Christus gehoor moet word (vgl. Op. 2:5,16,21,22, 3:3,19), want nie almal in die gemeente het kennis van God nie. (1 Kor. 15:34) Die mense vir wie die koninkryk bedoel is en wat in die diepste duisternis gegooi word (Matt. 8:12) en ‘n swaar straf sal kry, is ook in die gemeente (Luk. 12:47). In die gemeente is daar die meisies wat geen olie in hulle lampe het nie (Matt. 25:1–3), en daar is ook die lote wat gevaar loop om afgesny en in die vuur gegooi te word. (Joh. 15:1-6 ).

Om hierdie rede kan ons verstaan waarom Paulus aan die gemeente in Korinte sê: “Daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12) en waarom hy later aan dieselfde gemeente skryf: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.” (2 Kor. 13:5) Dit beteken in maklike Afrikaans, maak seker of julle al kinders van God is. Hierdie selfondersoek kan een van twee antwoorde oplewer, of ‘n mens kan ontdek dat jy nog nie gered is nie, of ‘n mens vind uit dat jou saak met God reeds reg is.

So ‘n ondersoek kan natuurlik alleen deur elkeen van ons self onderneem word, want elkeen van ons moet eendag vir homself aan God rekenskap gee. (Rom. 14:10,12)

As ons seker wil maak of ons uitverkies is, dan moet ons onsself afvra of ons al die vrugte van die uitverkiesing dra. Dit is byvoorbeeld ‘n ware geloof in Christus Jesus (Joh. 5:24), kinderlike vrees vir God (Pred. 12:13), droefheid oor die sonde en bekering daarvan volgens die wil van God (2 Kor. 7:10), die honger en dors na die geregtigheid (Matt. 5:6), die dra van vrugte wat by die bekering pas (Luk. 3:8); die doen van goeie dade waarvoor ons bestem is (Ef. 2:10), en die liefde vir ons medemens. (1 Joh. 3:14; 4:11)

As ons die vrugte van die uitverkiesing nie in ons vind nie, moet ons met erns luister na wat die Here Jesus vir ons sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.” (Matt. 4:17)

Maar as ons verlossing dan louter genade is (Ef. 2:8,9), en as ons wedergebore as’t ware ‘n opwekking uit die dood is (Joh. 6:63; Ef. 2:1), waarom is geloof en bekering dan nog nodig?

God behandel ons nie soos marionette nie. Met die sondeval het die mens nie opgehou om ware mens te wees nie. Ons beskik nog steeds oor ‘n verstand en oor ‘n wil, en dus oor ‘n vermoë om te kan kies, al kan ons vanweë die sonde, nie meer doen wat ons wil nie. (Gal. 5:16,17) Daarom gebeur dit dat dieselfde Gees wat die wedergeboorte skenk, ook indring in die diepste wese van die mens. Hy open die geslote hart (vgl. Hand. 16:14), maak die wil wat dood was, lewend en gewillig (Fil. 2:12,13), werk die geloof (Joh. 6;29) en skenk die bekering (Hand. 5:31), sodat tereg gesê kan word dat die mens deur genade wat hy ontvang het, glo en hom bekeer.

Die wil om te glo, sowel as die geloof, word in die mens tot stand gebring. Hy wat in die mens werk om te wil, sowel as die geloof, word in die mens tot stand gebring. Hy wat in die mens werk om te wil, sowel as om te werk, bewerk alles in almal. (Fil. 2:12,13)

Daarom werk hierdie Goddelike genade van die wedergeboorte nie in die mense asof hulle marionette is nie, ook vernietig dit nie die mens se wil en sy eienskappe nie, en dwing dit hom nie met geweld en teen sy sin nie.

Deur Sy vrye wil het die mens, toe hy nog gestaan het, homself in die verderf gestort en deur sy vrye wil, wat nou deur die Gees nuut gemaak is, staan hy weer uit die sondeval op.

Net so sluit hierdie bonatuurlike werking van God, waardeur Hy die mens wedergebore laat word, die gebruik van die evangelie nie uit nie, maar Hy sluit dit juis in, sodat byvoorbeeld gesê kan word dat ons weergebore word deur die Woord wat aan ons verkondig is. (1 Pet. 1:23.25) Daarom het Paulus Jode sowel as Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo (Hand. 20:21), en kon hy die Korinthiërs smeek om die versoening met God, wat Christus bewerk het, te aanvaar. (2 Kor. 5:20)

Namate die kinders van God al meer oortuig raak van hulle uitverkiesing, omdat die vrugte van die uitverkiesing kragtiger in hulle werk, begin hulle om hulle al meer voor God te verootmoedig, hulle begin om die diepte van Sy barmhartigheid al meer te waardeer en bewys met woorde en dade hulle liefde en dankbaarheid teenoor God. Hulle begeer ook al meer om in die weë van die uitverkorenes te wandel. (2 Kor. 3:18)

Baie mense wat deur die bediening van die evangelie geroep is, kom egter nie na Hom toe nie en word nie bekeer nie. (Hand. 28:24)

Die skuld hiervoor lê nie by die evangelie, of by Christus wat deur die evangelie aangebied word nie, ook nie by God wat mense deur die evangelie roep en aan hulle ook verskillende gawes gee nie. Die skuld lê by die mens self.

Die belofte van die evangelie is dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Joh. 3:16) Hierdie boodskap moet ook aan alle volke en mense, sonder enige onderskeid, verkondig word (Matt. 28:19), met die eis tot bekering en geloof. (Mark. 15:16)

Aan almal wat hierdie evangelie hoor en nie glo nie, moet gesê word dat dit hulle eie skuld is as hulle in ongeloof sterf, omdat hulle dan sonder hoop en sonder God is. (Mark. 16:16)

Vir almal wat begeer om gered te word, kan gesê word dat die Here Jesus self gesê het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). En Hy het ook gesê: “Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.” (Joh. 6:37) Ja Sy arms van genade is wyd oop vir ons almal wanneer Hy sê: ”Kom almal wat dors het, kom na die water toe...” (Jes. 55:1) en ook: “Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe...” Jes. 55:3)