Ek wil kortliks my mening lig oor die Voortrekkermonument en Vrymesselaars debat.
Ek stem nie saam met die koppeling van Vrymesselaar-simboliek aan die Voortrekkermonument nie. Dit beteken nie daar is godsdienste wat se simbole en beelde werklik betekenis het nie. Byvoorbeeld Hindoeïsme: hul beelde het baie simboliek, maar dit word openlik gekoppel aan hul godsdiens. Dit kan opgelees en met feite geverifieer word. Die hele Vrymesselaar debat met simboliek in kerke en monumente is in 'n groot misterie gehul. Dit kan nie direk met feite en gebeure bewys word nie. Dit beteken ook nie daar is nie individue wat wel hierby betrokke is en selfs in die kerk is nie. Ons weet mos nou dat ongelowiges wat die werke van Satan bevorder, teenwoordig is in die kerk soos die gelykenis van die koring en onkruid aan ons verduidelik (Matt. 13:36-43).
Die probleem met baie van die teorieë is dat dit baie spekulatief is en mens sukkel om dit met feite te bewys. Feite is iets wat met datum, tyd, plek, mense en wat gesê en gedoen is verbind kan word. Die misterie en geheimenis daaragter maak dit nog meer aanloklik. Hoe bewys mens dit regtig sonder klinkklare uitlatings en planne. Al hoe jy dit werklik kan bewys is deur mense se lewens en geloof direk te koppel aan die monument. Mens moet onthou die kerk in Suid Afrika het 'n ryk geskiedenis in die gereformeerde leer. Het die kerkvaders in ons verlede geweet van die geheime planne en dit goedgekeur. Beteken dit alles wat die gereformeerde tradisie in Suid Afrika gedoen het was goddeloos? Ons moet nie vergeet dat geloof en kerk baie nou gekoppel was aan die bou van die Voortrekkermonument. Dit was 'n direkte gevolg van die wonderwerk met die slag van Bloedrivier. Is ons werklik nou bereid om te sê ons gelowige voorouers wat by Bloedrivier betrokke was het doelbewus 'n afgodstempel gebou wetende wat God gedoen het? Ek betwyfel dit. Dit beteken ook nie ons voorouers het nie foute gemaak en op plekke Bloedrivier verkeerd gaan interpreteer rondom apartheid nie. Daar is mos baie voorbeelde in die Bybel hoe Israel God se dade verkeerd gaan interpreteer het vir hul eie idees.
Mens kan basies enigiets inlees in 'n simbool of beeld en 'n baie geloofwaardige teorie daaragter skep. Sameswering en misterie agter 'n goeie teorie gee dit juis "geloofwaardigheid", want mens kan dit nie reg of verkeerd bewys nie. Dit sal verewig aanhou en die misterie daaragter is so bemarkbaar. Die menslike aard is maar net so vatbaar vir sameswering en misterie dat dit soos soetkoek opgeëet sal word. Ek persoonlik dink van al die sensasie en sameswering wat ons lees is maar 'n baie klein persentasie waar. Ek dink dis juis die hoeveelheid misterie en sameswering wat die bietjie wat wel waar is verbloem. Ek dink dis 'n baie slim set van Satan om sy werklike leuens weg te steek deur van die verwarringstegniek gebruik te maak. Hy skop stof op om ons besig te hou op verkeerde plekke. Hy laat ons energie mors op misterie sodat ons aandag weg is van die werklike probleme. Baie mense het nie meer vertroue in apologetiese skrywes weens die slim set. Sodoende dink baie mens elke teorie is maar net nog 'n storie. Die uitwys van werklike dwaling en leuens verloor so geloofwaardigheid. Satan is mos die vader van alle leuens en weet hoe om alles tot sy voordeel te gebruik.
Laat ons egter nie die grootste sameswering van alle tye vergeet nie. Dit speel af reg voor ons oë elke dag. Dit het begin met die val van Satan en die misleiding en versoeking van mense om sy agenda uitgevoer te kry. Sy doel is om die Seun van God aan die hakskeen te byt en so by God uit te kom. Daar is vyandskap tussen sy nageslag en die nageslag van God (Gen. 3:15). Die storie is 'n werklike storie en ons sien dit elke dag in verskillende vorme afspeel. Satan verlei sy geslag en gebruik hulle om God se geslag by te kom. In die wêreld is daar geestelike saad van satan en geestelike saad van God. Dis die uitverkorenes van God teenoor die nasate van Satan. Sy navolgers het gekom deur die sondeval. Op so manier het hy 'n hand in die mensdom gekry. Laat ons nie vergeet die Slang van ouds se kop is vermorsel en Sy werke is aan bande gelê (Rev. 20:2). Hy is nie vry om te maak soos Hy wil nie. God is in beheer van elke bewegende molekule. Sy kop is vermorsel en sy einde is opgeskryf. Die meeste van die tyd lyk dit vir my of Christene lewe asof God nie bestaan nie. Hulle praat asof God nie in beheer is nie. Laat ons nooit vergeet dit is God wat alles reeds voorbeskik het en alles sal uitwerk soos Hy dit beplan het (Is. 47 3-11). "Daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen. Soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen."
Alhoewel die hele Vrymesselaars teorieë van die Voortrekkermonument baie geloofwaardig lyk en klink, kan dit nie klinkklaar bewys word nie. Ek weet nie of die bedoeling met die Voortrekkermonument doelbewus Vrymesselary was nie. Ek het al die teorieë gelees en kon nog nooit werklike bewyse gekry dat dit gebou was met die doel om afgode te aanbid nie.
Dit gesê ontken ek nie die bestaan van Vrymesselaars nie. Ek dink net mens moet versigtig wees om met sameswering op hol te gaan sonder werklike feite. Werklike feite is nie goed wat net so lyk en ooreenstem met Vrymesselaar simbole nie. Ware feite is goed wat mense werklik gedoen het met 'n spesifieke doel en agenda. Dit is goed wat aan mense gekoppel word wat deur hul leer, lewe, geloof en vrug bevestig word. Die mense wat betrokke was met die bou van die Voortrekkermonument was Christene wat in die destydse gereformeerde tradisie was. Die kerkvaders van destyds sou mos geweet het en sou iets gesê het. Tensy ons beweer ons voorouers was goddelose Satanaanbidders.
Behalwe dit, dink ek daar is 'n groter saak te maak vir afgodery bloot op die houding van mense se hart. Enige iets is 'n afgod wat die eer van God inneem in my lewe bo Hom. Jesus het gesê ons moet nie belange hier op aarde hê wat belangriker as die koninkryk van God is nie, want waar ons hart is, daar sal ons toewyding wees (Matt. 6:19-24). Ons kan nie twee meesters dien nie (Matt. 6:24. Jy sal altyd die een afskeep en Jesus staan nie in kompetisie met enige iets of persoon nie. Dit beteken mense kan 'n afgod maak van hul kultuur, erfenis en monumente. Wanneer ons kultuur, erfenis en monumente die koninkryk van God en die evangelie oorspan, is dit verkeerd. Op die manier aanbid mense hul erfenis bo God. Dit beteken nie ons kultuur en erfenis is noodwendig verkeerd en moet verwerp word nie. Enige kultuur is welkom in die koninkryk van God, mits dit nie teen Sy Woord is nie. Dit is vir my beter om hierop te konsentreer, want dit gaan oor die hart vir God. Hy soek 'n hart wat onverdeeld op Hom gerig is. Op die einde van die dag gaan enige sonde oor die aanbidding van iets behalwe God.
Wednesday, April 15, 2015
Die Voortrekkermonument en Vrymesselaars
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)
Dankie Jaco, dis min of meer hoe ek voel. Mense hardloop agter wilde bewerings aan, en vergeet die dinge waarop dit werklik aankom soos die invloed van materialisme en post-modernisme in vandag se kerk...
ReplyDeletegroete
Johannes de Koning
Ekverstaan dit ook so, dankie Jaco. Mens moet in hierdie dae versigtig wees om allerhande dinge in te lees in bepaalde situasies en/of simboliek. By die opening vd Voortrekkermonument het die destydse eerste Minister Dr DF Malan in sy toespraak "Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?" 'n God-gesentreerde boodskap gegee & die Afrinkanervolk opgeroep om terug te keer na die basis van geloof in God. Hy het o.a. die hou van huisgodsdiens genoem as 'n element wat nie verwaarloos moet word nie. Dit was 'n duidelike uitspraak van 'n volk onder God. Die feit dat die son op die sarkofaag skyn op 16 Des is herinnering daaraan dat soos die Skrif se, "die son van geregtigheid" (van God) skyn op Sy soewereine werk van redding. Mense het dit sonder bewys omgeswaai na son-aanbidding & Vrymesselary. Die Voortrekekrmonument gee 'n ryk kyk op die geskiedenis soos God daarin gewerk het deur mense wat op Hom vertrou het te midde van geweld, moord & doodslag.
ReplyDeleteDankie. Stem saam.
DeleteEk wil net byvoeg dat die Voortrekkermonument in wese in beeld 'n geskiedenis-boek is.
ReplyDeleteAbsoluut!
DeleteGoeie dag Jaco,
ReplyDeleteEk stem breedwag saam met wat jy hierbo skryf en wil dit nie noodwendig debatteer nie. Ek het wel Denise Woods se boek 'Reaping the Whirlwind' gelees - ek sou raai jy het moontlik ook al daarmee omgegaan - en wonder net of daar nie dalk so 'n ietsie van beide betrokke kan wees nie? Weereens, ek glo nie daarom die Monument behoort bloot verwerp te word ens. nie, maar of selfs al het kerkleiers ens. dit om de regte redes opgerig, ander betrokke (politiese) partye dit as 'n geleentheid gesien het om wel ook Vrymesselaar agendas te bevorder? Ek gaan nie klinkklare bewys hier uitlê nie en daarom kan dit juis as 'n samesweringsteorie afgemaak word, maar ek wonder ook of Woods se uitleg rondom die konstruksie van die Monument wel met alternatiewe teorieë weerlê kan word.
Haar aanklag is natuurlik teen die idee, wat wel seker by baie bestaan - soos jy hierbo ook noem - dat die Monument en Afrikanerkultuur self baie mense se god is ten koste van God self.
Ek het vanoggend eers op die blog afgekom en lees graag verdere artikels.
Voorspoed met jou werk in Kaokoland.
Servaas Hofmeyr
PS - ek hou van "by Christ's work alone are we saved". Gaan goed saam met skrywes van Gorman ens. wat die "by faith alone beginsel herbesoek".
Hallo Servaas. Ek stem met jou saam. Die oorspronklike idee was dalk goed of nie, maar ons het dalk oor tyd die beelde verafgod en meer gemaak daarvan as wat bedoel was. Monumente op hul eie is nie noodwendig verkeerd nie maar wat ons daarvan maak. Ek kan nie met gesag praat oor die mense se harte wat betrokke was nie en wat hul bedoeling en geheime motiewe was nie. Al was dit goed, weet ek enige sondige mens het die vermoeë om 'n afgod van enige iets te maak. Ons as Afrikaners dink ek het oor tyd afgode gemaak van ons kultuur en beelde. In Jeremia se tyd het Israel ook 'n afgod van die tempel gemaak in die sin dat hulle die tempel begin aanbid het en nie God self nie. Die tempel was net 'n beeld wat na God wys. God het die tempel en hul hele kultuur weggevat deur Jerusalem en die tempel te laat verwoes en hulle weg te voer in ballingskap vir 70 jaar. Die doel was dat hulle Hom alleen sal soek en vashou. Ek dink jy kry die idee wat ek probeer sê. Groete.
Delete