Iemand het my gevra wat ek van oom Angus se "Sacret Assembly" gedink het. Dit was 'n byeenkoms wat gereël was vir Saterdag, 19 November, in die FNB stadion in Johannesburg. Die doel van die byeenkoms was 'n oproep tot bekering en vertroue in God te midde van rasse haat en korrupsie in Suid Afrika. Ek het Saterdag so stuk geluister en hier volg my oorsig oor die byeenkoms.
Die doel van die skrywe is nie om oom Angus persoonlik af te kraak nie. Ek wil nie teen hom as persoon praat nie, maar daar is groot kommer by my met die inhoud en aanslag van sy boodskappe. Sy bedoelings mag goed wees, maar die bedoelings van ons hart alleen is nie die waarborg dat ons nie mense mislei nie. Die menslike hart is bedrieglik bo alle dinge (Jer. 17:9). Predikers het 'n baie groot verantwoordelikheid. Daarom sê Jakobus nie almal moet predikers wees nie (James 3:1).
Wat ek gesien en gehoor het was emosionele aanhitsing met min inhoud. Daar is bitter min van die Persoon en werk van Jesus verkondig asook die sonde van die mens. Min is verduidelik oor die evangelie en hoe iemand geregverdig word voor 'n heilige God. Die moderne neiging is om 'n vreeslike emosionele pleidooi te maak met min inhoud. Mense hoor die naam Jesus maar min van wie Hy is en wat Hy gedoen het. Min word vertel van wie God is en wie die mens is en hoe hy geregverdig kan word voor 'n heilige God.
Angus het die hele tyd vertel hoe ons land moet bekeer. Ek het myself afgevra waarnatoe bekeer die mense nou. Waarvan bekeer hulle? Hoekom? Weens hul emosies of omdat God, God is en heilig is. Mense word die hele tyd deur middel van intense emosies vertel die Woord en Jesus is die antwoord, maar die antwoord word nie verduidelik nie. Die woorde "Jesus" en "die Woord" is net leë konsepte as dit nie deur gesonde teologie verduidelik word nie. Die woord teologie beteken immers "kennis van God." Bybelse geloof en bekering is gebaseer op Bybelse inhoud. Jesus en die Woord is nie konsepte wat in die lug hang nie. Jesus is 'n vaste Rots wat deur die Woord baie diep en wyd omskryf word. Die Persoon wat red het baie spesifieke eienskappe. Mense word gered deur hul vertroue volkome te plaas in die volledige werk en Persoon van Jesus Christus. Het oom Angus mooi verduidelik wat sonde is, wat God se oordeel oor sonde is, hoekom Jesus moes kom, wat Hy gedoen het en hoe iemand geregverdig word voor God? Is redding deur genade alleen, deur geloof alleen in Jesus Christus alleen verduidelik aan 'n emosionele gelaaide massa? Na my mening nie.
Baie sulke emosionele bekerings hou nie want die mense verstaan nie die evangelie nie. Daar is min verduidelik hoekom Jesus moes sterf en wat het hy vir ons gedoen. Die nodigheid van wedergeboorte en die sondige verdorwenheid van die mens is glad nie vanuit die Bybel verduidelik nie. Die begrippe is essensiële elemente van die ware evangelie. Inteendeel, daar is baie erg klem gelê op persoonlike staaltjies en 'n emosionele oproep om te glo. Maar wat moet geglo word? In wie moet geglo word? Waarvan moet bekeer word en hoekom? Wie is Jesus? Die antwoorde is nie gegee nie.
Ek wil nie oom Angus as persoon sleg maak nie, maar dis tyd dat hy leer dis Jesus wat red en nie 'n klomp motiverings slagspreuke en persoonlike staaltjie nie. Dis een ding om kortsigtige stellings te maak en baie op emosionele opsweping staat te maak. Dis 'n ander ding om 'n Christus-gesentreerde en Bybel-gefundeerde boodskap te bring. Emosies kom en gaan maar geloof in die Persoon en werk van Christus bly ewig staan. Die byeenkoms was baie emosioneel en met min van Christus self. Daar was min Bybelse teologie verkondig met baie rond en bont slagspreuke. Jesus homself het onuitputlike inhoud. Ek het min daarvan gehoor.