Plaasmoorde is deel van 'n kultuur van moord en wetteloosheid in Suid Afrika. Ons land is 'n komplekse mengelmoes van politieke haat en armoede. Ons land het 'n geskiedenis van bloed oor alle volke heen. Al die goed werk saam om moord en roof in ons land te dryf. Om dus een tipe moord bo ander uit te sonder is nie so eenvoudig nie. Daar is ander groepe mense in ons land wat ook voel die moorde wat hulle beleef het aandag nodig weens die geskiedenis van ons land.
Voor ek verder skryf wil ek eers die volgende bely. Plaasmoorde is 'n gruwelike sonde in die oë van God. Dit is walglik en moet ten sterkste veroordeel word. Wat ook al die motiewe, daar is NIKS wat dit regverdig nie. Die regering moet plaasmoorde net so prioritiseer soos enige ander moord. Alle Christene, wit en swart, moet dit ten sterkste veroordeel, net soos hulle moord teen alle ander groepe op gelyke vlak veroordeel.
Sommige Christene reageer nou en doen 'n oproep vir protes en gebed. Wat dan van al die ander moorde in ons land? Is daar 'n verskil tussen die moord op 'n onskuldige boer teenoor die moord op 'n onskuldige kind in die Cape Flats? Nee, daar is geen verskil in God se oë nie. Die moord van 'n hawelose is net so verkeerd as die moord van 'n gesiene boer wie se vrou en kinders nou sonder 'n man en Pa is. Hoekom reageer sekere Christene dan so erg oor 74 plaasmoorde (2015/2016), maar nie oor meer as 100 000 (2015) aborsies nie. 'n Baba word in sommige gevalle in stukke uit die baarmoeder geskeur. Protesteer en bid ons daarteen? Is daar 'n verskil? Nee, daar is nie 'n verskil nie.
Maar dit ontbloot dalk die motiewe van ons hart. Jy sien, ons moet eerlik vir onsself vra, "gaan dit oor onsself of oor God?" As dit oor God gegaan het sou ons reaksie oor alle moord dieselfde gewees het. Dan sou 100 000 aborsies ons gewalg het en sou die moord op 'n onbekende kind in die Cape Flats ons ook tot gebed gedring het.
Dalk is ons sin vir die heiligheid van lewe skeefgetrek deur ons eie selfsug. Is ons motiewe selfbehoud of heilige vrees vir God? Of gryp ons nou na God omdat dit naby ons lyf gekom het, maar vir 'n lang tyd het ons al die sondes in ons eie hart misgekyk. Vir 'n lang tyd het ons ook nie veel omgegee oor God en Sy woord nie. Moet ons nie eerder na God bekeer vir die regte redes nie? Vir Sy eer en glorie nie? Dan sal alle onreg ons ewe veel pla.
Verder moet ons as Christene bietjie nadink oor "wat is kerk?" Dit het 'n groot invloed op ons reaksie. Hoekom reageer ons net as dit oor "ons eie volk" gaan? Is alle Christene nie ons geestelike familie nie?
Die kerk is 'n multikulturele kerk wat uit alle volke, nasies en tale bestaan (Eph. 2:11-22). Daar is mense van alle kulture binne haar wat geraak word. Dus word die kerk deur alle moord en roof geraak. Die ledemate van die liggaam ervaar ewe veel pyn. Die kop kan nie dink die voet se seer is minder belangrik nie (1 Cor. 12:21-26). Die kerk is een liggaam met verskillende tipe ledemate en die hele liggaam ly as een lidmaat beseer is. Die liggaam funksioneer nie optimaal as een lidmaat ongesteld is nie
As een ly, ly almal saam. As een bly is, juig almal saam (1 Cor. 12:26). Die kerk moet medelye en solidariteit betoon teenoor al haar lede onder alle omstandighede.
Die kerk moet roof en moord veroordeel waar dit ook al gebeur. Alle Christene moet alle sonde haat, van 'n klein wit leuen tot 'n gruwelike moord oor alle groepe heen. Alle sonde verdien God se ewige oordeel. Dit beteken ons reaksie moet dieselfde wees vir die moord op alle mense. Ons moet ewe hard skree vir 'n moord op die Cape Flats as die moord op ‘n gesiene boer.
Verder moet ons onthou, Christene mag nie wraak neem nie (Rom. 12:19). Ons moet die evangelie aan ons vyande bring en hulle oproep om te bekeer van hul sonde (2 Cor. 5:20-21). Ons moet vir hulle bid en aan hulle liefde betoon (Matt. 5:44). Ons moet die wat teen ons sondig vergewe en die oordeel aan God oorlaat (Matt. 6:14-15).
Dit beteken nie ons moet stilbly nie. Ons moet in liefde die Woord van die Here spreek en Christus se voorbeeld volg soos Hy sy vyande en moordenaars liefgehad het.
As ons van harte glo alle lewe is belangrik sal ons op gelyke vlak protesteer vir alle misdaad teen die mensdom. As ons verder ook met ons swart broers en susters verenig en net soveel waarde heg aan hulle pyn sal ons dalk verbaas wees hoeveel steun ons kry uit anderskleurige geledere vir ons saak. Ons kan maar swart dra en alleen opruk na die parlement, ons gaan nie gehoor word nie. Die regering sien ons as wit mense wat net vir hul eie pyn stry terwyl daar 19000 moorde is wat net so gruwelik is.
Die essensie is..."Ons kan so blind raak deur ons eie pyn dat ons vergeet om dissipels van Jesus se liefde en genade te wees vir ALLE mense."
MAAR...mense sukkel om tans die stelling reg te verreken. Hulle is op die oomblik so emosioneel dan dink hulle jy sê boere se pyn is niks en hulle moet stilbly.
Inteendeel, kom ons plaas dit net in die regte perspektief binne die regte raamwerk. Die regte raamwerk en perspektief is 'n Bybelse wêreldbeskouing. Nie ons eie nie. Binne daai perspektief moet ons dissipels wees van Christus vir alle mense en is alle lewe en pyn ewe belangrik vir God.
Vrae:
Sal ons ook optrek na die Cape Flats waar ‘n kind vermoor is deur gangsters? Sal ons ook swart dra vir die meer as 19000 moorde waarvan plaasmoorde ‘n kleiner persentasie is?
Wat moet Christene doen?
Verenig eerste met mekaar onder een Hoof, Christus. Verstaan dat die kerk, as volk van God, uit alle tipe mense bestaan. Dat alle tipe lidmate, volwaardige lidmate is, almal se pyn dieselfde is, en ewe belangrik is.
Tweedens, veroordeel alle moorde. Plaasmoorde is nie uniek en verdien meer aandag nie. Alle moord moet ewe hard veroordeel woord. Die kerk se lidmate ly ewe veel. Omdat 'n moord naby my mense is, maak dit nie meer belangrik vir die land en die kerk nie.
Wat moet die kerk doen?
Kondig ‘n dag van gebed af en vra dat alle gemeentes ‘n biduur hou om saam te bid oor Suid Afrika. Bid vir ALLE moord, roof, korrupsie en wetteloosheid. Bely dat ons gedwaal het en nie die Woord van God gehoorsaam nie. Bid dat die Here 'n herlewing van Bybelse Christenskap bring onder alle Christene. Bid dat Christene sal terugkeer na die Woord alleen. Bid dat Christus Sy kerk sal verenig onder Hom as Hoof. Pleit by Christus om Sy kerk te genees van al haar dwaling.
Ondersoek die moontlikheid vir die kerk (alle kerke) om ‘n gesamentlike media verklaring uit te reik dat alle mense na die beeld van God geskape is en dat alle moord sonde is. Dat plaasmoorde nie ‘n hoër klas moord is as ander nie. Dat alle Christene saam staan teen moord in geheel omdat God dit haat.
Dat die kerk 'n ernstige oproep rig aan die regering om 'n voorbeeld te stel deur 'n lewenstyl van wetgehoorsaamheid. Dat die regering ook reageer en alle moord veroordeel en dat daar ernstig opgetree gaan word teen alle korrupsie, moord en wetteloosheid - eerste in die regering.