Saturday, July 31, 2021

Gereformeerde Onderwys - Wêreldbeskouing


In hierdie tweede uitgawe in die reeks, wil ons kyk na wêreldbeskouing as 'n motivering vir Gereformeerde Onderwys.

Wat is ‘n wêreldbeskouing?

In ons vorige artikel het ons gesien dat ons Gereformeerde leer onlosmaaklik deel is van ons daaglikse lewe. Daardie leer syfer daarom deur na ons onderwys toe. Dit vorm ook die basis vir die kind se wêreldbeskouing. Die vraag ontstaan dan, wat is ‘n wêreldbeskouing, en is dit enigsins belangrik?

Eenvoudig gestel, is ‘n wêreldbeskouing die manier waarop ‘n mens die lewe en die wêreld rondom hom sien en ervaar – die sogenaamde bril en perspektief waarna ons na die lewe kyk. Dit is ‘n stel basiese beginsels waarop die manier hoe die persoon die lewe sien en ervaar gebaseer is. Dit is ‘n raamwerk wat die mens help om sin te maak van wat rondom hom aangaan.

Omdat jou wêreldbeskouing ‘n stel beginsels is, beïnvloed dit  hoe jy op alles reageer: van jou teologie en filosofie, tot jou wetenskap en kuns. Voorbeelde van wêreldbeskouings is bv. postmodernisme, humanisme, pragmatisme en die verskillende ander gelowe.

‘n Gereformeerde wêreldbeskouing word gebou op die Woord van God, soos uiteengesit in die belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid. ‘n Lidmaat van ‘n gereformeerde kerk behoort dus ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te hê.



Verskillende wêreldbeskouings?

As ons sê dat ‘n wêreldbeskouing die manier is waarop ons die lewe sien en ervaar, besef mens dadelik dat verskillende mense verskillende  wêreldbeskouings het – ons ervaar dit ook daagliks. Mens kan bloot na die kommentaar op sosiale media kyk om dit te ervaar: vir enige standpunt wat gestel word (en soms vir bloot onskuldige opmerkings) sal heftige argumente vír of téén daardie standpunt gelewer word, en daardie argumente sal telkens uit bepaalde wêreldbeskouings voortvloei.

As ons egter na die Bybel kyk, sien ons daar is net twee maniere om na die lewe te kyk: ons sien dit óf soos God dit sien, óf soos die Satan dit sien. Die vader van die leuen wil ons wys maak dat daar verskillende maniere is om die lewe te sien, en dat almal ewe geldig is. Die Bybel leer ons egter anders - ons lees bv. die volgende woorde in 2 Tim 3:14-17: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” (AFR83). Die Bybel, as onfeilbare woord van God, is die enigste manier hoe ons ‘n regte lewenswyse kweek, en hoe ons voorbereid sal wees vir elke goeie werk.

Daarom, as iemand nie ‘n Christelike wêreldbeskouing huldig nie, handhaaf hy noodwendig ‘n nie-Christelike wêreldbeskouing. Dieselfde geld vir ons skole – as die vakinhoud nie vanuit ‘n Christelike wêreldbeskouing opgestel is nie, is dit uit ‘n nie-Christelike beskouing opgestel. Die vraag is dan: mag ouers hulle verbondskinders aan so ‘n  nie-Christelike wêreldbeskouing  blootstel?




Wêreldbeskouing in praktyk

Hoe lyk ‘n wêreldbeskouing in praktyk? As ‘n persoon ‘n postmodernistiese wêreldbeskouing handhaaf, is hy van mening dat daar geen absolute waarheid is nie, aangesien elke mens die realiteit anders ervaar. Wat ek dus as waar sien, verskil van wat jy as waar sien, maar nie een van ons is verkeerd nie. ‘n Humanistiese wêreldbeskouing plaas die mens in die middelpunt, en beweeg weg van enige godsbegrip, maar maak eerder staat op die mense se vermoë en wetenskap om sin te maak van die lewe en hoe alles ontstaan het.

‘n Christelike wêreldbeskouing plaas God en sy woord, daarteenoor, in die middelpunt. Ons lees in Ps 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (AFR33/53) en in Kol 2:8 “Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie.” (AFR2020).

God en sy Woord word in die middelpunt gestel – dit is die beginsel waarop die Christelike lewe gebou moet wees. Ons sien hoe ‘n Christelike wêreldbeskouing prakties uitgeleef word baie mooi vir ons geskets in die lewe van Daniël.

In Daniël 1 lees ons dat Daniel een van die Joodse jongmanne uit ‘n vername familie was, van die eerstes wat in ballingskap weggevoer is, en dat hy, soos die ander jongmanne, mooi, toegerus met kennis, verstandig en bekwaam was. Ons kan ons indink dat Daniël bloedjonk was toe hy meer as 800km weggevoer is na ‘n vreemde land – hy het vir meer as 60 jaar daarna diens gedoen in die koninklike paleise, en ook dat hy waarskynlik baie bang en verward was. Hy het waarskynlik geleef toe die profeet Jeremia die volk gewaarsku het, en het dus geweet dat die Here sy oordeel voltrek. Wanneer hy as jongman in Babilon aankom, word hy gekonfronteer met ‘n koning wat hom en sy landgenote probeer verander op drie ingrypende maniere:

  • Hulle denke word verander deur hulle ‘n Galdese opvoeding te gee;
  • Hul lojaliteit word verander deur vir hulle nuwe name (wat verband hou met die plaaslike afgode) te gee; en
  • Hul lewenstyl word verander deur vir hulle ‘n nuwe dieet te gee. 

Daniël en sy vriende het egter gebly by wat hulle geleer het en wat hulle vas glo (sien die verwysing na 2 Tim 3 hierbo) ten opsigte van selfs iets wat vir ons so onbenullig kan lyk soos die kos wat hulle eet. Hulle het egter die voorskrifte van die Here in Levitikus 11 in die middelpunt gestel, en daardie fondament gebruik as die bril waardeur hulle besluit wat hulle sal eet en wat hulle nie sal eet nie.

Ons lees dan verder bv. in Daniël 6 hoe hy jare later weer eens voor ‘n keuse gestel word, toe Koning Darius bevel gegee het dat niemand vir ‘n periode van 30 dae tot enige ander persoon of God mag bid, as tot hom, Darius, nie. Waarskynlik gedagtig aan die Here se opdrag in Deut 6:4: “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (AFR83) en in Eks 20:4-5 “Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.” (AFR83), vorm die Here en sy Woord weer die beginsel waarop Daniël se optrede berus.

Ons kan weet dat Daniël se wêreldbeskouing gevestig is as kind, voordat hy in ballingskap weggevoer is – en dit wys hoe belangrik die regte fondasie vir ons kinders vandag is. Deur die Here se genade kon Daniël, en geslagte mense daarna, voortbou op die fondasie wat in hulle jeug gevestig is. Ons belowe tydens die doop van ons kinders om vir hulle hierdie selfde fondasie en wêreldbeskouing te leer, en na ons vermoë te laat leer.




Wêreldbeskouing en skole

Dit is daarom so belangrik dat verbondskinders van jongs af die korrekte wêreldbeskouing geleer word. Soos hierbo aangedui bepaal ons lewensbeskouing hoe ons die fisiese wetenskappe, geskiedenis, lewens wetenskappe, sosiale wetenskappe en selfs kuns benader. As ons glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, dan bepaal die Bybel hoe ons oor al hierdie vakrigtings dink. Dan moet heelwat van die onderliggende filosofie waarmee meeste skoolvakke vandag aangebied word, afgewys word. Ons beplan om in toekomstige artikels meer aandag te gee aan hoe ‘n gereformeerde wêreldbeskouing na vore kom in die verskillende vakke.

Die vraag ontstaan: as daar dan ‘n gereformeerde skool is waar die vakinhoud gebou is op die Woord van God, kom ons as ouers ons doopbelofte na as ons nie ons kinders in hierdie skool plaas nie, maar eerder in ‘n skool waar die vakinhoud op nie-Christelike beginsels gebou is? Dit is ‘n vraag wat elke ouerpaar vir hulleself voor die Here moet uitmaak. Dit is ook ‘n vraag waaraan Kerkrade kan aandag gee - KO Art 21 sê juis “Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.”

DV in ons volgende artikel beoog ons om dan aandag te gee aan die verhouding tussen die gesin, die skool, en die kerk, en hoe hierdie elemente saam ‘n driehoek vorm in die opvoeding van die verbondskinders.


Wednesday, July 21, 2021

Gereformeerde Onderwys - Hoekom?

Ons leef in 'n tyd waar die aanslag op die Christenfamilie baie groot is. Die wêreld is besig om die Bybelse siening van die die huwelik en die gesin af te breek tot 'n meer inklusiewe en vrysinnig lewenstyl. Christene word orals, en veral in skole, stelselmatig geïndoktrineer met "Babilon" se ideologieë aangaande seksualiteit, die huwelik, en die gesin. Hierteenoor staan verbondsouers se verantwoordelikheid om hul kinders op te voed in die weë van die HERE. Die vraag is nou, "hoe doen ons dit vandag?"

Die onderstaande artikel, geskryf deur die Gereformeerde Laerskool in Bellville, bied 'n oplossing vir Christenouers om hul kinders die nodige opvoeding te gee, terwyl hulle ook toegerus word met 'n Christelike wêreldbeeld wat hulle in staat stel om eendag as gelowiges te leef in 'n sondige wêreld.

Die artikel is deel van 'n reeks. Teken in op die blog om die opvolgartikels in jou inboks te kry.

Christelike waardes vs gereformeerde skool

Daar is vandag baie keuses vir ouers wat betref hulle kinders se skoolopleiding. Die dae dat die kind na die naaste skool toe gaan is lankal verby. Baie skole adverteer ook vandag dat hulle “na Christelike waardes streef” of “op Christelike waardes gebou is”. Daar is egter ander skole wat duidelik sê dat hulle gereformeerde skole is. Die vraag is dan of daar ‘n verskil is, en, indien wel, of die verskil belangrik is.

Doopbelofte

Wanneer ‘n ouerpaar hulle verbondskindjie laat doop, belowe hulle, en neem hulle hulle voor om daardie kind wanneer die kind dit kan verstaan in “die genoemde leer na (hulle) vermoë te onderrig en te laat onderrig”. Hierdie belofte teenoor die Here word voor die gemeente afgelê. Die belofte is ook op die Skrif gegrond – in Deut. 6:6-7 beveel die Here: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” Die opdrag is duidelik – ons moet die leer nie net aan ons kinders oordra op Sondag, of by katkisasie of huisgodsdiens nie, dit moet gebeur in alles wat ons doen, want die Here is betrokke by alle aspekte van ons lewe.

Wat is hierdie leer wat ouers dan belowe om hulle kinders in op te voed? Die tweede vraag tydens die doop, is soos volg: “Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die Artikels van die Christelike geloof saamgevat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is?” As ons dan belowe om ons kinders in die Christelike leer te onderrig en te laat onderrig, belowe ons om dit te doen ooreenkomstig die Bybel, soos saamgevat en verduidelik in die Belydenisskrifte.

Leer en lewe

Uit die Skrif is dit ook duidelik dat leer en lewe onlosmaaklik deel is van mekaar. Die gebooie van die Here help niks as dit net in ons gedagtes bly nie, ons moet dit leef en nakom – sien bv Deut. 6:3. So ook, kom dit duidelik na vore in die Nuwe Testament. Titus 2 & 3 wys baie mooi hoe die gesonde leer in dade omgesit moet word.

In 1 Tim. 3:16-17 sê die Here vir ons “Die hele skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Die leer in die Skrif berei ons voor vir ons goeie werke – werke uit ‘n ware geloof, volgens die wet van God, wat tot Sy eer gedoen word (Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 91). Soos ons in Jakobus 2:14-26 leer, ons geloof kom na vore in ons dade.

Ons lewe, bestaande uit die dade vanuit ons geloof, begin egter nie eers die dag as ons volwasse word, of as ons belydenis van geloof afgelê het nie. Ook kinders moet ooreenkomstig die Here se wet lewe, dink bv aan die vyfde gebod, en die opdrag in Ef. 6:1-3. As ons dus ons kinders in die geloof moet opvoed, sluit dit in dat ons hulle moet leer hoe die Here betrokke is in elke deeltjie van ons lewe, soos mooi geïllustreer word in Ps. 139 en in die boek Jona. Hulle moet leer dat ons nie net die Here dien op ‘n Sondag of dat Hy geen deel het aan bv geskiedenis nie. Die Here hou die geskiedenis in Sy hand, ook die geskiedenis van volke (sien bv Dan. 2).

Gereformeerde leer raak alle vlakke van ons lewe

Daarom is gereformeerde onderwys dan ook belangrik. Gereformeerde onderwys het ten doel om die Here se rol in alle vakrigtings aan te dui, want die Here is Here van ons hele lewe. Of die kind op skool dus besig is met tale, wiskunde, geskiedenis of tegnologie, die betrokkenheid van die Here op elkeen van hierdie terreine moet aangedui word. By gebreke daarvan word die volle leer van die Ou en Nuwe
Testament, soos saamgevat in die Belydenisskrifte, nie aan die kind geleer nie. Dan word die idee verskerp van ‘n skeiding tussen die “geestelike lewe, die kerk” en die algemene lewe van elke dag – ‘n onderskeid wat ons nie in die Skrif kry nie.

Dit behoort daarom duidelik te wees dat dit nie bloot genoeg is om een maal ‘n dag ‘n stukkie (meestal net ‘n versie of twee) te lees en dan te bid nie, soos wat by baie sogenaamde Christelike skole die geval is nie. Nog minder is sogenaamde Christelike waardes op hul eie voldoende, want baie van hierdie waardes, bv eerlikheid en omgee vir ander, sien ons in die meeste gelowe. Nee, die Here se betrokkenheid in alle vakke, van die tale (want dit is Hy wat tale gegee het, sien Gen. 11), deur sosiale wetenskappe (want die Here gee verskillende volke en nasies, Ps. 2, en Hy het die heelal geskep, sien Ps. 8) tot die bestuurswetenskappe (want die Here het ‘n sê oor hoe ons besigheid doen, sien bv Spr. 20:23 en Ef. 6:5-9) moet geleer word. Ons taak is om dit vir ons kinders te leer, sodat hulle as hulle eendag volwasse is, die Here se heerskappy in al die fasette van hulle lewe kan raaksien en dienooreenkomstig kan lewe.

Gereformeerde onderwys, waar die heerskappy en betrokkenheid van die Here op alle lewensterreine duidelik gemaak en uitgeleef word, is dus by uitstek die manier waarop ons kinders onderrig kan word in die leer van die Skrif.

Gereformeerde skole

Ons is bevoorreg dat daar gereformeerde skole op verskeie plekke in ons land is. Voorbeelde sluit in Gereformeerde Laerskool Bellville in Kaapstad, Gereformeerde Skool Wolmaransstad, en dan Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn en Gereformeerde Skool Dirk Postma (wat ‘n kleuter-, laer- en hoërskool bevat), beide in Pretoria. Hierdie, en ander soortgelyke skole, kan gerus ondersteun word. Is daar ‘n beter manier vir ‘n ouerpaar om hulle doopbelofte uit te leef, as daar ‘n gereformeerde skool binne bereik is waar hulle kinders opgevoed kan word?

Dv in ’n volgende artikel beoog ons om aandag te gee aan ‘n verdere belangrike aspek van gereformeerde onderwys, naamlik die kweek van ‘n Christelike wêreldbeskouing, waar God die middelpunt vorm, en sy Hand in alles raakgesien kan word.