Wednesday, December 7, 2022

Die doop in die lig van die Skrif

Ek kry nogal heelwat vrae oor die doop. Vir baie van ons mag dit dalk standaard teologie wees, maar weens die groeiende teologiese diversiteit van ons tyd en toeganklikheid van inligting deur die internet, begin sommiges wonder. Is verbondsdoop Bybels? Het ons nie dalk iewers die punt gemis nie? Veral jongmense wat blootgestel word aan ander kerke het baie vrae.

Daar is twee hoof sienings oor die doop alhoewel met verskeie variasies – belydenisdoop of verbondsdoop. Calvinistiese Baptiste (van hier af Baptiste) en Gereformeerdes is redelik eens oor die situasie in die Ou Testament. Gelowiges en hul kinders is besny, buitestanders moes eers ‘n geloofsbelydenis aflê in die God van Abraham, Isak en Jakob, en besny word, voordat hulle deel van die verbondsvolk kon wees. Die vraag is nou hoe lyk dit in die Nuwe Testament? Dit is hier waar Baptiste van Gereformeerdes begin verskil. Die groot verskil lê in die verstaan van verbondsteologie en die kontinuïteit van die Abraham-verbond. Met ander woorde, hoe nuut is die nuwe verbond? Is dit iets heeltemal nuut of is dit ‘n voortsetting van die Abraham-verbond? Staan die nuwe verbond op dieselfde verbondsbeginsels of op sy eie?

Baptiste

Baptiste bely saam met ons dat die skeppingsverbond ingestel is met die skepping van die mens en dat die genadeverbond na die sondeval aangekondig is in Genesis 3:15. Maar Baptiste glo die verbonde in die Ou Testament bevat nie die inhoud van Christus nie, slegs skadubeelde daarvan. Die realiteit waarvan die beelde spreek word eers in werklikheid in die Nuwe Testament ingestel deur die nuwe verbond onder Christus. Met ander woorde, die genadeverbond is slegs ‘n stippellyn deur die Ou Testament en word eers ‘n werklikheid in die Nuwe Testament (figuur 1). Daarom sien hulle ‘n groter diskontinuïteit tussen die Ou en Nuwe Testament. Hulle sien ook die nuwe verbond as ‘n nuwe begin met nuwe verbondsbeginsels. Daarom glo hulle die dooptekste in die Nuwe Testament moet op eie meriete geïnterpreteer word en nie in konteks van die Abraham-verbond nie.

Figuur 1

Gereformeerdes

Gereformeerdes sien egter die Abraham-verbond as ‘n instelling van die genadeverbond. Voorts sien ons die nuwe verbond as ‘n volledige openbaring van die Abraham-verbond. Al die verbonde wat tussenin gemaak is, is ‘n uitbreiding van die genadeverbond met Christus as die inhoud. Vanaf Genesis 3:15 tot aan die einde van die Bybel is daar een soliede verbondslyn (figuur 2). Met ander woorde, gelowiges en hul kinders staan onder een verbondslyn vanaf Abraham tot in die Nuwe Testament. Die nuwe verbond is nie ‘n totale nuwe begin nie, maar ‘n realisering van die Abraham-verbond deur Christus as perfekte Middelaar. Daarom glo ons die dooptekste in die Nuwe Testament moet in konteks van die Abraham-verbond geïnterpreteer word.

Figuur 2

Volgens Gereformeerdes word die verbond in die Ou Testament geïdentifiseer deur die besnydenis. In die verbond is daar gelowiges en ongelowiges – uitverkorenes en nie-verkorenes – nie almal van Israel is Israel nie. Hierteenoor is die teken van die nuwe verbond die doop en, weereens, is nie almal wat gedoop word ware Israel nie. Net soos die Abraham-verbond, is die nuwe verbond ‘n mengsel van gelowiges en ongelowiges. Gereformeerdes se verstaan van verbondsteologie is dus gefokus op kontinuïteit. Die nuwe verbond is soos die oue – gelowiges en ongelowiges is gemeng in die verbondsgemeenskap. Dus is dieselfde verbondsbeginsels van toepassing op beide verbonde.

Aard van die verbond

Baptiste sien die Abraham-verbond net soos Gereformeerdes maar verskil met ons aangaande die aard van die nuwe verbond. Hulle glo die nuwe verbond word nie geïdentifiseer deur die doop nie, maar deur die besnydenis van hart. Met ander woorde, die doop vervang nie die besnydenis nie. Baptiste sien die nuwe verbond as die totstandkoming van die genadeverbond eerder as ‘n voortsetting van die genadeverbond deur die Abraham-verbond. Hulle beweer, net soos die offerlam deur Jesus vervul is, so is die besnydenis vervul deur die besnydenis van hart. Hieruit kan mens sien die groot verskil is dat Baptiste glo die verbondsgemeenskap in die Nuwe Testament bestaan slegs uit wedergeborenes. Met ander woorde daar is geen kaf tussen die koring nie. Die nuwe verbond is dus eerder ‘n nuwe begin as ‘n voortsetting van die oue.

Hoe beïnvloed dit nou die verskillende sienings oor die doop? Vir Gereformeerdes is die verbond nie iets wat gelowiges alleen deelagtig word nie, maar ook hul kinders, net soos in die Abraham-verbond. Verbond lidmaatskap beteken egter nie outomatiese redding nie. Ons doop ons kinders omdat hulle afgesonder is vir God, ons maak hulle groot in die Woord van God, ons bid vir hulle, en deur God se genade vertrou ons dat hulle deur geloof in die verbond bly as hulle groter is. Omdat Baptiste glo dat die nuwe verbond slegs gereserveer is vir wedergeborenes, mag slegs die wat belydenis aflê gedoop word. Hulle sal natuurlik herken dat dit nie altyd net gelowiges is wat gedoop word nie omdat mense vals belydenisse kan maak. Maar hulle sal sê dit is iets, wat sover moontlik, slegs aan gelowiges bedien moet word.

Verbond in die Ou Testament

Sover het ons die verskillende sienings vergelyk. Ons moet egter nou kyk wat die Bybel sê. Is dit waar dat die genadeverbond eers in die Nuwe Testament ingestel word? Is daar grootskaalse diskontinuïteit tussen die twee verbonde? Is daar ‘n verskil in die verbondsbeginsels tussen die twee verbonde? Een van die verse wat Baptiste gebruik is Jeremia 31:34 – “hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle.” Hierdeur beweer hulle daar is grootskaalse diskontinuïteit tussen die twee verbonde. Hulle beskou die nuwe verbond as die totstandkoming van die genadeverbond waar slegs wedergeborenes in die verbond mag wees. Maar as jy die konteks van die teks bestudeer spreek dit eerder van kontinuïteit. Daar is in wese nie ‘n verskil tussen die twee verbonde nie, maar wel in vorm – besnydenis versus doop.

Wanneer Jeremia die nuwe verbond beskryf en hoe dit anders sal wees, sê hy, “Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees” (v. 33). Soos die Abraham-verbond, is dit een van die kern eienskappe van die nuwe verbond. Dit is dieselfde as wat God aan Abraham gesê het in Genesis 17:7. Dus, volgens Jeremia, sal die nuwe verbond gebou wees op die beloftes van die Abraham-verbond, wat dui op kontinuïteit tussen die twee verbonde. Verder wys die onmiddellike konteks dat Jeremia eerder die Moses-verbond in gedagte gehad het. Die nuwe verbond sal beter wees as die Moses-verbond op drie maniere: 1) die wet sal op hul hart geskryf word, 2) almal sal God ken, en 3) God sal hul sondes nie meer onthou nie.

Dit beteken nie dat almal wedergebore sal wees nie. Die wet sal net so van toepassing wees maar wel geïnternaliseer word. Almal sal God ken in die sin dat die modus en universaliteit van die godskennis verander. Godskennis was beperk tot priesters en profete, maar nou kan klein en groot God ken deur Sy woord met Jesus as ons Priester, Profeet en Koning. Anders as in die Ou Testament, sal God sy volk se sondes nie meer onthou nie omdat Jesus se eenmalige offer beter is as die van diere. Die verskil tussen die verbonde is dus een van vorm, nie van inhoud nie. Die vorm wat die inhoud (Christus) aanneem is wel by verre beter. Die nuwe verbond is dus in wese ‘n kontinuïteit van al die verbonde wat dit voorafgegaan het. Daarom kan ons ook verwag om wesenlike kontinuïteit te vind tussen die uiterlike tekens en die beginsels waardeur dit toegepas word.

Verbond in die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament lewer ook bewys van die kontinuïteit. Jesus het die kinders van gelowiges binne die koninkryk gesien en nie as buitestanders nie (Matt. 19:13-15). Die taal wat Jesus gebruik het teenoor die kinders van gelowiges was verbondstaal. Hy reken hulle in as Hy van die koninkryk praat. Petrus het dieselfde gedoen op Pinksterdag – “die belofte kom julle toe en julle kinders” (Hand. 2:39). Dit is dieselfde verbondstaal as Genesis 17. Hiermee wys Petrus vir ons dat die verbondsbeginsels in die Nuwe Testament nie verander het nie, net die teken. Dit word ook bevestig in Kolossense 2 waar Paulus die besnydenis en die doop onlosmaaklik aan mekaar verbind (vers 11,12). Besnydenis, as verbondsteken, het oorgegaan in die Nuwe Testament as die doop.


Paulus wys ons ook op die kontinuïteit tussen die verbonde deur die Nuwe Testamentiese gesin (1 Kor. 7:14). Ter wille van die verbondseenheid in die gesin, word die ongelowige lewensmaat ingereken anders sou die kinders buite die verbond gestaan het. Maar nou is hulle “geheilig” (afgesonder vir verbond) deur die geloof van die ouers. Die huwelik is soos ‘n sambreel met die kinders van gelowiges onder die verbond-sambreel. Selfs die gesinsdope in Handelinge (10:34-43; 16:14, 32) getuig van dieselfde verbondsbeginsels as in die Ou Testament – “jy en jou gesin.” Alhoewel die gesinsdope nie uitdruklik sê dat daar babas teenwoordig (of nie teenwoordig) was nie, bevestig dit die patroon tussen die Ou en Nuwe Testament. Gesinne word ingesluit in die verbondsgemeenskap. Die verbondsbeginsels van die Ou Testament het dus nie verander nie. Daar is ‘n reguit lyn tussen die testamente wat die kinders van gelowiges aanbetref.

Die waarskuwing tekste in Hebreërs en Petrus wys verder dat die verbondsgemeenskap in die Nuwe Testament gelowiges en ongelowiges insluit. Beide Hebreërs 10:29 en 2 Petrus 2:1 praat van die wat Christus verloën en die bloed van die verbond vertrap wat hul geheilig het. Dit herinner aan 1 Korintiërs 7:14 – “maar nou is hulle heilig.” Die tekste kan slegs sin maak vir mense wat in die verbond gebore is en dan deur ongeloof uittree. Handelinge 2:39 bevestig ook dat gelowiges en hul kinders, soos die Abraham-verbond, in die verbondsgemeenskap is. Baptiste sien die vers anders deurdat hulle die klem op die laaste gedeelte van die teks plaas – “die wat die Here onse God na Hom sal roep.” Daardeur beweer hulle dat die nuwe verbond slegs uit wedergeborenes bestaan. Die sinskonstruksie in die Grieks maak dit egter duidelik dat hier van twee groepe gepraat word – gelowiges en hul kinders aan wie die beloftes behoort en die heidene wat nader getrek sal word. Die prentjie van die nuwe verbond stem dus ooreen met dit van die Abraham-verbond.

Alles in ag geneem wat ons tot sover gesien het, beteken dit ons moet die dooptekste in die Nuwe Testament in konteks van die Abraham-verbond interpreteer. Byvoorbeeld, Romeine 6:4 en Kolossense 2:12 praat baie direk van mense wat gedoop word omdat hulle deur geloof deel in die werk van Christus. Baptiste sal vra hoe dit dan van toepassing is op babas wat te klein is om ‘n belydenis van geloof te maak. Mens moet egter die tekste benader met 1 Korintiërs 7:14 en Handelinge 2:38 in jou agterkop, asook met die beginsel dat die Nuwe Verbond ‘n voortsetting is van die Abraham-verbond. Mense is op dieselfde manier gered in die Ou Testament en desnieteenstaande is kinders besny. Dit beteken, as die Bybel praat van gelowiges wat gedoop word, neem dit in ag dat die geloof van die ouers aan die kinders toegereken word. Op die manier word die vereiste van geloof in die verse vervul al is dit ‘n baba wat gedoop word.

Die Nuwe Testament is dus nie stil oor die kinders van gelowiges nie, inteendeel, dit is soos ‘n luidspreker – dit bevestig en versterk die Ou Testamentiese boodskap. Kinders van gelowiges word ingereken en moet die verbondsteken van die Nuwe Testament ontvang. Die kruis staan in die middel van die verbondslyn tussen die twee testamente. Die besnydenis wys na die kruis en die doop wys terug. Die besnydenis was ‘n simbool van Jesus wat afgesny sou word en deur Sy bloed vergifnis sou bring. Die water is ‘n simbool van die afwassing van sonde en die nuwe lewe wat Jesus skenk. Beide is ‘n getuienis van die evangelie – ‘n verbondsteken aan God se volk. Gelowiges en hul kinders word gemerk as God se verbondsvolk en dra ook die seël van God se verbondsbeloftes as getuienis van Sy genadeboodskap aan hulle.

Alle eer aan ons getroue hemelse Vader en Verbondsgod!

Sunday, January 23, 2022

GEREFOMEERDE ONDERWYS – PRAKTIESE ASPEKTE

Hierdie is ons vierde uitgawe in ‘n reeks artikels oor Gereformeerde Onderwys. In die uitgawe wil ons meer praktiese aspekte van Gereformeerde Onderwys, en dan spesifieke vrae rondom Gereformeerde Onderwys wat gereeld opduik, aanspreek.

Tot dusver het ons in die vorige drie artikels gesien dat die kweek van ‘n gereformeerde wêreldbeskouing noodsaaklik is vir die opvoeding van ons kinders ooreenkomstig ons doopbelofte, dat ‘n skool wat nie ‘n Christelike wêreldbeskouing in sy vakinhoud na vore laat kom nie, nie kan meewerk in die vestiging van die korrekte wêreldbeskouing nie, en dat die ouers primêr verantwoordelik is vir die opvoeding van die kinders, maar dat hulle twee hulpmiddele tot hulle beskikking het, naamlik die kerk en die skool.

Vervolgens wil ons begin aandag gee aan die meer praktiese aspekte van gereformeerde onderwys, en spesifieke vrae rondom gereformeerde onderwys wat gereeld opduik, beantwoord.  Daar moet natuurlik in gedagte gehou word dat aspekte van skool tot skool kan verskil, maar die breë beginsels sal steeds dieselfde bly. Van hierdie algemene vrae is die volgende:
  1. ‘n Gereformeerde skool se skoolfonds is meer as die ander skole in die omgewing. Moet ek nie maar net my kinders na die naaste goedkoper skool toe stuur nie?
  2. Word kinders by ‘n gereformeerde skool nie ten nadele beskerm teen die wêreld nie? Ons moet mos nie wegkruip van die wêreld en onsself toesluit in kloosters nie?
  3. My kind leer mos van die Here by die huis en die kerk. Hoekom moet hy nog by skool ook by die skool van die Here leer – die skool se fokus is mos op akademie, sport en kultuur?
  4. Dis nie vir my kind nodig om al die kerk se dogmas op skool te leer nie. Hoekom moet hy dan na ‘n gereformeerde skool toe gaan?
  5. Ek is bang dat my kind nie al die geleenthede kry wat hy andersins sou kry by ‘n staatskool nie. Wat doen die gereformeerde skool daaraan?
Kom ons beantwoord hierdie vrae een vir een. Heelwat van die bespreking hieronder sluit aan by wat in die vorige artikels gesê is, gaan kyk gerus weer na hulle.
1. ‘n Gereformeerde skool se skoolfonds is meer as die ander skole in die omgewing. Moet ek nie maar net my kinders na die naaste goedkoper skool toe stuur nie?
Die ekonomiese realiteit is ongelukkig baie maal ‘n struikelblok vir mense wat hulle keer om hulle kinders in gereformeerde skole te sit. ‘n Begroting gaan uiteindelik tog net só ver. Verder is dit ook so gereformeerde skole gewoonlik kleiner is as staatskole, en minder (of geen) staatsubsidies ontvang nie. Dit lei natuurlik tot hoër skoolfonds. Meeste gereformeerde skole ontvang egter wel fondse van gemeentes, en sommige het selfs hulpfondse of beurse om gesinne by te staan waar nodig. Hierdie is ook ‘n area waar meer gemeentes of lidmate hande kan vat om beurse in plek te stel.

Die finansiële rede moet egter nie die hoofrede wees waarop ‘n skool gekies word nie, vir die redes wat hieronder ook duidelik sal word, sowel as die redes in die vorige artikels genoem. Verder moet sogenaamde appels met appels vergelyk word: baie maai is die skoolfonds slegs een aspek van die totale koste van onderwys, met skoolklere, skryfbehoeftes en dies meer wat verdere kostes beloop. Maak seker hoe vergelyk die totale kostes teenoor mekaar, en baie maal sal dan gevind word dat die prysverskil nie so baie is nie, of dat die gereformeerde skool se kostes laer is as diè van die staatskool.
2. Word kinders by ‘n gereformeerde skool nie ten nadele beskerm teen die wêreld nie? Ons moet mos nie wegkruip van die wêreld en onsself toesluit in kloosters nie?
Gereformeerde onderwys kruip nie weg vir die wêreld nie, en die doel van gereformeerde onderwys is nie om ons kinders teen al die sonde in die wêreld te beskerm nie. Sulke beskerming is wel een van die voordele van gereformeerde onderwys. Net soos wat ek ‘n klein boompie wat pas geplant is nie in die volle son los nie, maar hom beskerm en skaduwee gee totdat hy groot genoeg is, so het ons kinders besondere beskerming en beskutting nodig terwyl hulle jonk is.

Ons en ons kinders is immers in die wêreld, maar nie van die wêreld nie. Jesus het tog gebid: “Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar” (Joh 7:15).

Gereformeerde onderwys se doel is om kinders in die verbond – die verhouding – met die Here groot te maak en op te voed, ‘n verhouding wat nie beperk is tot Sondag nie, maar wat elke aspek van ons lewens deursypel.
3. My kind leer mos van die Here by die huis en die kerk. Hoekom moet hy nog by skool ook by die skool van die Here leer – die skool se fokus is mos op akademie, sport en kultuur?
Soos vantevore genoem, regeer die Here ons hele lewe. Sonder Hom is niks moontlik nie. Daarom leer ons “Kennis begin met die dien van die Here” (Spr 1:7), en ook “In U lig, sien ons die lig” (Ps 36:10). Dit is slegs in die lig van Here se woord dat kennis enigsins begin sin maak. Alle opvoeding is tog immers vir of teen Christus, daar is nie iets soos neutrale opvoeding nie. Die opvoeding in staatskole is beslis nie neutraal nie – die hand van God word misken. Dink bv. aan wat hoërskoolkinders geleer word ten opsigte van die vigs-pandemie – dis nie ‘n probleem weens ‘n gebrek aan opvoeding nie, maar eerder ‘n morele probleem.

Met ander woorde, akademie kan nooit losstaan van die Here nie – dit is immers Hy wat die wiskundige reëls ingestel het, die geskiedenis rig, die aarde, plante en mense met ons tale geskep het en steeds onderhou, en wat selfs vir ons die beginsels gee oor hoe om besigheid te bedryf.
4. Dis nie vir my kind nodig om al die kerk se dogmas op skool te leer nie. Hoekom moet hy dan na ‘n gereformeerde skool toe gaan?
‘n Gereformeerde skool se doel is nie in die eerste plek om die kerklike dogmas aan die kinders te leer nie. Die vakinhoud sal wel vanuit sekere dogmatiese beginsels opgestel word, maar die leerstellings van die kerk self (bv. die inhoud van die Heidelbergse kategismus) word normaalweg nie in gereformeerde skole hanteer nie.

Wat die gereformeerde skool wel doen, is om die Bybel, soos uiteengesit in ons gereformeerde belydenisskrifte, die fondament van alle vakinhoud te maak, want sonder die lig van God se woord bly ons kennis duister. Soos vantevore bespreek bepaal hierdie inhoud ons leer en lewe. Ons leer vloei tog oor in ons lewe, die twee is onlosmaaklik van mekaar verwikkel.
5. Ek is bang dat my kind nie al die geleenthede kry wat hy andersins sou kry by ‘n staatskool nie. Wat doen die gereformeerde skool daaraan?
Dit is natuurlik so dat gereformeerde skole baie maal kleiner is as staatskole. Dit beteken egter glad nie dat die kinders in daardie skole hoef terug te staan vir kinders in staatskole, of dat sulke kinders beter (en meer) geleenthede het nie. As ons daardie argument tot sy logiese konklusie wil neem sal ons almal verplig moet wees om ons kinders in die heel duurste privaatskole te sit waar hulle die meeste “geleenthede” sal kry.

Die fokus in staatskole is normaalweg om die kind te help om sy/haar beste potensiaal te bereik. Dit klink edel en reg, en ons kan in ‘n groot mate hiermee saamstem. Die klem by gereformeerde onderwys is egter anders, naamlik om die kind te help om sy/haar Godgegewe talente tot eer van die Here te gebruik. In die gelykenis van die talente (Mat 25:14-30) word juis dié slawe wat met hulle talente gewoeker (voordelig ingespan) het geprys, terwyl die slaaf wat sy talent gaan begrawe het, gestraf word. Daar is dus ‘n verskuiwing in klem, wat dalk klein mag lyk, maar tog baie belangrik is.

Gereformeerde skole kom al baie jare – enkeles is al meer as veertig jaar oud. Oor daardie tyd het baie kinders deur die skole beweeg, en telkens mag mens God se seënende hand op die skoolopvoeding sien. Oor die algemeen is die kinders goed aangepas in hulle verdere omgewings, en staan hulle nêrens terug vir ander kinders nie. Inteendeel, hulle is normaalweg beter toegerus om die aanslae van die wêreld te herken en te weerstaan, juis omdat hulle opvoeding op die vaste fondament van die Woord berus.

Ons hoop dat hierdie artikel sommige van die mees knellende vrae kon antwoord. Indien u verder wonder, vra gerus u naaste gereformeerde skool vir ‘n gesprek, of gesels met ouers wie se kinders in ‘n gereformeerde skool is of was.

DV in ons laaste artikel wil ons kyk na praktiese maniere hoe saamgewerk kan word om gereformeerde onderwys uit te bou en te bevorder, selfs al het jy nie self meer kinders op skool nie.

Besoek gerus die Gereformeerde Laerskool Bellville se webtuiste vir meer inligting.

Admin@dglb.co.za

Monday, October 18, 2021

Gereformeerde Onderwys - Verantwoordelikheid

In hierdie derde uitgawe in die reeks oor gereformeerde onderwys, wil ons kyk na wie se verantwoordelikheid is dit om by ons verbondskinders ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te kweek?

Die Here gee ‘n primêre verantwoordelikheid aan die ouers, maar in Sy genade gee Hy ook twee hulpmiddele aan die ouers, naamlik die kerk en die skool. Die primêre opvoeder en sy/haar hulpmiddele moet egter ‘n ooreenstemmende boodskap aan die kinders verkondig, sodat seker gemaak kan word dat die kinders behoorlik onderrig word, en nie onnodig verwar word nie. Hierdie verhouding tussen die ouers, kerk en skool word in meer detail ondersoek.

Verhouding tussen skool, kerk en ouers

In ons vorige artikel het ons gesien dat die kweek van ‘n gereformeerde wêreldbeskouing noodsaaklik is vir die opvoeding van ons kinders ooreenkomstig ons doopbelofte, maar dat ‘n skool wat nie ‘n Christelike wêreldbeskouing in sy vakinhoud na vore laat kom nie, nie kan meewerk in die vestiging van die korrekte wêreldbeskouing nie.

In hierdie artikel wil ons graag kyk na die verhouding tussen die ouers, die kerk en die skool as dit kom by die onderrig en opvoeding van ons verbondskinders. Hierdie verhouding word baie maal verduidelik aan die hand van ‘n driehoek, waar elkeen van die partye ‘n sekere rol of verantwoordelikheid het. Dit sal egter duidelik word dat hierdie driehoek nie ‘n gelyksydige driehoek is, waarvan al drie die bene ewe lank is nie.

Elkeen van hierdie drie aspekte het ‘n eie invloed op die kind. Die gevaar sluip in wanneer die waardes en boodskap van die drie verskillende aspekte nie in harmonie met mekaar is nie. Dan word kinders verwar en onsekerheid kruip in.

Die uitgangspunt is dat God dié drie sfere van gesag ingestel het – daar is immers geen gesag wat nie van God af kom nie (Rom 13:1), en elkeen van hierdie sfere het sy eie grense. Ons kan sê dat aan die kerk die sleutels gegee is (Matt 18:18), die lat aan die gesin gegee is (Spr 22:15) en dat aan die owerheid die swaard gegee is (Rom 13:4).

Ons kyk vervolgens na elkeen van hierdie drie.

Ouers

By die doop van hulle kinders belowe elke gereformeerde ouerpaar om hulle kinders in die gereformeerde leer na “vermoë te onderrig en te laat onderrig”. Hierdie belofte is deels gebaseer op die opdrag wat ouers van die Here ontvang in Deut 6:6-7, nl. “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” (AFR83) en ook Ps 78:3-7 waar die ouers opdrag gegee word om die werke en voorskrifte van die Here aan die volgende geslag oor te dra.

Die opdrag om ons kinders te onderrig en ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te kweek, is dus primêr op die ouers gerig. Dit kom na vore ook uit die woordorde in die doopbelofte – ons beloof eers om self te onderrig, en daarna om te laat onderrig. Die Here se opdrag in Deut 6 is duidelik aan die ouers gerig, nie aan die kerk of aan die skool nie. Dit is ongelukkig so anders as wat baie ouers die opdrag vandag beskou. Die algemene siening is dat dit die kerk se verantwoordelikheid is om die verbonds-onderrig te laat gebeur, en dan wel op so ‘n manier dat dit by die gesin se program inpas – hoeveel ouers kla nie as die katkisasieles “te lank” aanhou nie?

Die ouers het die opdrag van die Here in Sy Woord ontvang, en hulle moet dus sorg dat hulle kinders die Here leer ken, sodat hulle in ‘n persoonlike verhouding met Hom kan staan. Daarom is gereelde huisgodsdiens so onontbeerlik. Hoeveel van ons gesinne doen werklik nog moeite met daaglikse huisgodsiens? Of raak ons “te besig” met werk en die kinders se na-skoolse aktiwiteite om nog daagliks as gesin om die Here se woord rustig te raak?

Die ouers het dus duidelik die primêre verantwoordelikheid rondom die opvoeding van hul kinders. Die woorde in die doopbelofte “en te laat onderrig” wys egter dat daar ook ander rolspelers by die opvoeding van ons kinders betrokke is.

Kerk

Die kerk het ook ‘n verantwoordelikheid rondom die verbondsonderrig van die kinders in die gemeente. Art 21 van die Gereformeerde Kerkorde bepaal dat die “kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied”. Dit pas in by die taak van die ampsdraers om die lidmate vir hul dienswerk toe te rus (Ef 4:12). Die gelowige se roeping en dienswerk as profeet, koning en priester omvat sy hele lewe – die gesin, skool, werk en ontspanning. Die kerkraad het dus ‘n verantwoordelikheid om by die ouers navraag te doen oor hoe dit in die skole gaan, en om seker te maak dat die ouers, ook in die skoolopleiding van die kinders, by die kinders die regte wêreldbeskouing kweek.

Wat word bedoel as gesê word dat die kerkraad moet toesien dat die ouers die skoolonderrig in die “vrees van die Here” laat geskied? Vir die antwoord op hierdie vraag moet ons na Spreuke blaai. Heel aan die begin van die boek (Spr 1:7) word gesê: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis” en ook later (Spr 16:6) “deur die vrees van die Here wyk ‘n mens af van die kwaad”. Deur die krag van die Heilige Gees kom só ‘n gesindheid na vore deur daagliks in navolging van God te lewe.

In ons kerke is die gewoonte dat die kerkraad toesig hou oor die katkisasie. Dit is deel van die toesighouding oor die ouers se nakoming van hul doopbelofte, maar ook omdat die predikant en ouderlinge die opdrag het om ook tydens die katkisasie deur lering (positief vertel wat reg is), weerlegging (verduideliking waarom verkeerde leringe wel verkeerd is), waarskuwing en vermaning, die suiwer leer te beskerm en verkeerde leer te bestry. Nêrens in die Skrif kry ons egter ‘n opdrag aan die kerk primêr om die kinders te onderrig nie.

Die rol van die kerk is dus sekondêr tot dié van die ouers – die kerk moet die ouers toerus om hul verantwoordelikheid na te kom, en dan ook seker maak dat dit wel gebeur.

Skool

Die skool is die derde been in hierdie driehoek, maar díé been is ook nie die belangrikste been in die driehoek nie. Alhoewel ons kinders ‘n groot deel van hulle dag-tot-dag lewe by die skool en aan skoolaktiwiteite bestee, is dit steeds nie die primêre been in die opvoeding van ons kinders nie.

Na die skepping het die mens van God die sogenaamde kultuurmandaat ontvang, naamlik om die aarde te bewoon en te bewerk, en oor die skepping op aarde te heers (Gen 1:26-28). Om dit te kan doen, moet kinders natuurlik sekere kennis en vaardighede opdoen, waarsonder die samelewing sal verval. Die owerheid se opdrag is om die samelewing op so ‘n manier te regeer dat alles ordelik sal verloop (NGB art 36). Daarom het die owerheid ‘n opdrag om by opvoeding betrokke te wees. Daardie opdrag is egter nie om die primêre verantwoordelikheid vir die opvoeding oor te neem nie.

Die skool is ‘n verlengstuk van die huis – kinders spandeer ‘n groot deel van hul lewe by die skool. Dit is daarom van kardinale belang dat die wêreldbeskouing en Bybelse opvoeding wat by die huis aan die kinders gegee word, nie teenstrydig moet wees met wat hulle by die skool geleer word nie. Indien daar wel teenstrydigheid is, ontstaan ‘n teelaarde vir verwarring onder die kinders.

Die skool moet dus kinders voorberei om as gehoorsame kinders van God, hul roeping in die tyd en ruimte waar God hulle plaas, ten volle na te kom. As ‘n kind se roeping dus eendag sou wees om as aktuaris in Pretoria te werk, moet die skool die nodige akademiese opvoeding gegee het sodat die kind hom- of haarself kan bekwaam vir hierdie roeping.

Aangesien die skool dus nie die primêre verantwoordelikheid dra vir die opvoeding nie, maar wel die ouers, is die ouers verplig om seker te maak dat wat by die skool geleer word, in ooreenstemming is met wat by die huis en die kerk geleer word.

Samevatting

Dit is dus duidelik dat in hierdie driehoek van sfere of invloede, die verantwoordelikhede nie gelykop gedeel word nie. Die Here gee aan die ouers primêre verantwoordelikheid, maar in Sy alwyse genade gee Hy ook hulpmiddels aan die ouers, naamlik die kerk en die skool, omdat Hy rekening hou met ons swakhede. Ons moet seker maak dat ons nie hierdie hulpmiddele wat die Here gee verhef en daardeur ons eie verantwoordelikheid afskuif op ander wat dit nie behoort te dra nie.

Dv in ons volgende artikel wil ons begin aandag gee aan gereelde vrae rondom gereformeerde onderwys.

Gereformeerde Laerskool Bellville
Admin@dglb.co.za

Saturday, July 31, 2021

Gereformeerde Onderwys - Wêreldbeskouing


In hierdie tweede uitgawe in die reeks, wil ons kyk na wêreldbeskouing as 'n motivering vir Gereformeerde Onderwys.

Wat is ‘n wêreldbeskouing?

In ons vorige artikel het ons gesien dat ons Gereformeerde leer onlosmaaklik deel is van ons daaglikse lewe. Daardie leer syfer daarom deur na ons onderwys toe. Dit vorm ook die basis vir die kind se wêreldbeskouing. Die vraag ontstaan dan, wat is ‘n wêreldbeskouing, en is dit enigsins belangrik?

Eenvoudig gestel, is ‘n wêreldbeskouing die manier waarop ‘n mens die lewe en die wêreld rondom hom sien en ervaar – die sogenaamde bril en perspektief waarna ons na die lewe kyk. Dit is ‘n stel basiese beginsels waarop die manier hoe die persoon die lewe sien en ervaar gebaseer is. Dit is ‘n raamwerk wat die mens help om sin te maak van wat rondom hom aangaan.

Omdat jou wêreldbeskouing ‘n stel beginsels is, beïnvloed dit  hoe jy op alles reageer: van jou teologie en filosofie, tot jou wetenskap en kuns. Voorbeelde van wêreldbeskouings is bv. postmodernisme, humanisme, pragmatisme en die verskillende ander gelowe.

‘n Gereformeerde wêreldbeskouing word gebou op die Woord van God, soos uiteengesit in die belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid. ‘n Lidmaat van ‘n gereformeerde kerk behoort dus ‘n gereformeerde wêreldbeskouing te hê.



Verskillende wêreldbeskouings?

As ons sê dat ‘n wêreldbeskouing die manier is waarop ons die lewe sien en ervaar, besef mens dadelik dat verskillende mense verskillende  wêreldbeskouings het – ons ervaar dit ook daagliks. Mens kan bloot na die kommentaar op sosiale media kyk om dit te ervaar: vir enige standpunt wat gestel word (en soms vir bloot onskuldige opmerkings) sal heftige argumente vír of téén daardie standpunt gelewer word, en daardie argumente sal telkens uit bepaalde wêreldbeskouings voortvloei.

As ons egter na die Bybel kyk, sien ons daar is net twee maniere om na die lewe te kyk: ons sien dit óf soos God dit sien, óf soos die Satan dit sien. Die vader van die leuen wil ons wys maak dat daar verskillende maniere is om die lewe te sien, en dat almal ewe geldig is. Die Bybel leer ons egter anders - ons lees bv. die volgende woorde in 2 Tim 3:14-17: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.” (AFR83). Die Bybel, as onfeilbare woord van God, is die enigste manier hoe ons ‘n regte lewenswyse kweek, en hoe ons voorbereid sal wees vir elke goeie werk.

Daarom, as iemand nie ‘n Christelike wêreldbeskouing huldig nie, handhaaf hy noodwendig ‘n nie-Christelike wêreldbeskouing. Dieselfde geld vir ons skole – as die vakinhoud nie vanuit ‘n Christelike wêreldbeskouing opgestel is nie, is dit uit ‘n nie-Christelike beskouing opgestel. Die vraag is dan: mag ouers hulle verbondskinders aan so ‘n  nie-Christelike wêreldbeskouing  blootstel?




Wêreldbeskouing in praktyk

Hoe lyk ‘n wêreldbeskouing in praktyk? As ‘n persoon ‘n postmodernistiese wêreldbeskouing handhaaf, is hy van mening dat daar geen absolute waarheid is nie, aangesien elke mens die realiteit anders ervaar. Wat ek dus as waar sien, verskil van wat jy as waar sien, maar nie een van ons is verkeerd nie. ‘n Humanistiese wêreldbeskouing plaas die mens in die middelpunt, en beweeg weg van enige godsbegrip, maar maak eerder staat op die mense se vermoë en wetenskap om sin te maak van die lewe en hoe alles ontstaan het.

‘n Christelike wêreldbeskouing plaas God en sy woord, daarteenoor, in die middelpunt. Ons lees in Ps 119:105 “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (AFR33/53) en in Kol 2:8 “Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie.” (AFR2020).

God en sy Woord word in die middelpunt gestel – dit is die beginsel waarop die Christelike lewe gebou moet wees. Ons sien hoe ‘n Christelike wêreldbeskouing prakties uitgeleef word baie mooi vir ons geskets in die lewe van Daniël.

In Daniël 1 lees ons dat Daniel een van die Joodse jongmanne uit ‘n vername familie was, van die eerstes wat in ballingskap weggevoer is, en dat hy, soos die ander jongmanne, mooi, toegerus met kennis, verstandig en bekwaam was. Ons kan ons indink dat Daniël bloedjonk was toe hy meer as 800km weggevoer is na ‘n vreemde land – hy het vir meer as 60 jaar daarna diens gedoen in die koninklike paleise, en ook dat hy waarskynlik baie bang en verward was. Hy het waarskynlik geleef toe die profeet Jeremia die volk gewaarsku het, en het dus geweet dat die Here sy oordeel voltrek. Wanneer hy as jongman in Babilon aankom, word hy gekonfronteer met ‘n koning wat hom en sy landgenote probeer verander op drie ingrypende maniere:

  • Hulle denke word verander deur hulle ‘n Galdese opvoeding te gee;
  • Hul lojaliteit word verander deur vir hulle nuwe name (wat verband hou met die plaaslike afgode) te gee; en
  • Hul lewenstyl word verander deur vir hulle ‘n nuwe dieet te gee. 

Daniël en sy vriende het egter gebly by wat hulle geleer het en wat hulle vas glo (sien die verwysing na 2 Tim 3 hierbo) ten opsigte van selfs iets wat vir ons so onbenullig kan lyk soos die kos wat hulle eet. Hulle het egter die voorskrifte van die Here in Levitikus 11 in die middelpunt gestel, en daardie fondament gebruik as die bril waardeur hulle besluit wat hulle sal eet en wat hulle nie sal eet nie.

Ons lees dan verder bv. in Daniël 6 hoe hy jare later weer eens voor ‘n keuse gestel word, toe Koning Darius bevel gegee het dat niemand vir ‘n periode van 30 dae tot enige ander persoon of God mag bid, as tot hom, Darius, nie. Waarskynlik gedagtig aan die Here se opdrag in Deut 6:4: “Luister Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here” (AFR83) en in Eks 20:4-5 “Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.” (AFR83), vorm die Here en sy Woord weer die beginsel waarop Daniël se optrede berus.

Ons kan weet dat Daniël se wêreldbeskouing gevestig is as kind, voordat hy in ballingskap weggevoer is – en dit wys hoe belangrik die regte fondasie vir ons kinders vandag is. Deur die Here se genade kon Daniël, en geslagte mense daarna, voortbou op die fondasie wat in hulle jeug gevestig is. Ons belowe tydens die doop van ons kinders om vir hulle hierdie selfde fondasie en wêreldbeskouing te leer, en na ons vermoë te laat leer.




Wêreldbeskouing en skole

Dit is daarom so belangrik dat verbondskinders van jongs af die korrekte wêreldbeskouing geleer word. Soos hierbo aangedui bepaal ons lewensbeskouing hoe ons die fisiese wetenskappe, geskiedenis, lewens wetenskappe, sosiale wetenskappe en selfs kuns benader. As ons glo dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is, dan bepaal die Bybel hoe ons oor al hierdie vakrigtings dink. Dan moet heelwat van die onderliggende filosofie waarmee meeste skoolvakke vandag aangebied word, afgewys word. Ons beplan om in toekomstige artikels meer aandag te gee aan hoe ‘n gereformeerde wêreldbeskouing na vore kom in die verskillende vakke.

Die vraag ontstaan: as daar dan ‘n gereformeerde skool is waar die vakinhoud gebou is op die Woord van God, kom ons as ouers ons doopbelofte na as ons nie ons kinders in hierdie skool plaas nie, maar eerder in ‘n skool waar die vakinhoud op nie-Christelike beginsels gebou is? Dit is ‘n vraag wat elke ouerpaar vir hulleself voor die Here moet uitmaak. Dit is ook ‘n vraag waaraan Kerkrade kan aandag gee - KO Art 21 sê juis “Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.”

DV in ons volgende artikel beoog ons om dan aandag te gee aan die verhouding tussen die gesin, die skool, en die kerk, en hoe hierdie elemente saam ‘n driehoek vorm in die opvoeding van die verbondskinders.


Wednesday, July 21, 2021

Gereformeerde Onderwys - Hoekom?

Ons leef in 'n tyd waar die aanslag op die Christenfamilie baie groot is. Die wêreld is besig om die Bybelse siening van die die huwelik en die gesin af te breek tot 'n meer inklusiewe en vrysinnig lewenstyl. Christene word orals, en veral in skole, stelselmatig geïndoktrineer met "Babilon" se ideologieë aangaande seksualiteit, die huwelik, en die gesin. Hierteenoor staan verbondsouers se verantwoordelikheid om hul kinders op te voed in die weë van die HERE. Die vraag is nou, "hoe doen ons dit vandag?"

Die onderstaande artikel, geskryf deur die Gereformeerde Laerskool in Bellville, bied 'n oplossing vir Christenouers om hul kinders die nodige opvoeding te gee, terwyl hulle ook toegerus word met 'n Christelike wêreldbeeld wat hulle in staat stel om eendag as gelowiges te leef in 'n sondige wêreld.

Die artikel is deel van 'n reeks. Teken in op die blog om die opvolgartikels in jou inboks te kry.

Christelike waardes vs gereformeerde skool

Daar is vandag baie keuses vir ouers wat betref hulle kinders se skoolopleiding. Die dae dat die kind na die naaste skool toe gaan is lankal verby. Baie skole adverteer ook vandag dat hulle “na Christelike waardes streef” of “op Christelike waardes gebou is”. Daar is egter ander skole wat duidelik sê dat hulle gereformeerde skole is. Die vraag is dan of daar ‘n verskil is, en, indien wel, of die verskil belangrik is.

Doopbelofte

Wanneer ‘n ouerpaar hulle verbondskindjie laat doop, belowe hulle, en neem hulle hulle voor om daardie kind wanneer die kind dit kan verstaan in “die genoemde leer na (hulle) vermoë te onderrig en te laat onderrig”. Hierdie belofte teenoor die Here word voor die gemeente afgelê. Die belofte is ook op die Skrif gegrond – in Deut. 6:6-7 beveel die Here: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan.” Die opdrag is duidelik – ons moet die leer nie net aan ons kinders oordra op Sondag, of by katkisasie of huisgodsdiens nie, dit moet gebeur in alles wat ons doen, want die Here is betrokke by alle aspekte van ons lewe.

Wat is hierdie leer wat ouers dan belowe om hulle kinders in op te voed? Die tweede vraag tydens die doop, is soos volg: “Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament, wat in die Artikels van die Christelike geloof saamgevat is en in die Christelike kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die saligheid is?” As ons dan belowe om ons kinders in die Christelike leer te onderrig en te laat onderrig, belowe ons om dit te doen ooreenkomstig die Bybel, soos saamgevat en verduidelik in die Belydenisskrifte.

Leer en lewe

Uit die Skrif is dit ook duidelik dat leer en lewe onlosmaaklik deel is van mekaar. Die gebooie van die Here help niks as dit net in ons gedagtes bly nie, ons moet dit leef en nakom – sien bv Deut. 6:3. So ook, kom dit duidelik na vore in die Nuwe Testament. Titus 2 & 3 wys baie mooi hoe die gesonde leer in dade omgesit moet word.

In 1 Tim. 3:16-17 sê die Here vir ons “Die hele skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk”. Die leer in die Skrif berei ons voor vir ons goeie werke – werke uit ‘n ware geloof, volgens die wet van God, wat tot Sy eer gedoen word (Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 91). Soos ons in Jakobus 2:14-26 leer, ons geloof kom na vore in ons dade.

Ons lewe, bestaande uit die dade vanuit ons geloof, begin egter nie eers die dag as ons volwasse word, of as ons belydenis van geloof afgelê het nie. Ook kinders moet ooreenkomstig die Here se wet lewe, dink bv aan die vyfde gebod, en die opdrag in Ef. 6:1-3. As ons dus ons kinders in die geloof moet opvoed, sluit dit in dat ons hulle moet leer hoe die Here betrokke is in elke deeltjie van ons lewe, soos mooi geïllustreer word in Ps. 139 en in die boek Jona. Hulle moet leer dat ons nie net die Here dien op ‘n Sondag of dat Hy geen deel het aan bv geskiedenis nie. Die Here hou die geskiedenis in Sy hand, ook die geskiedenis van volke (sien bv Dan. 2).

Gereformeerde leer raak alle vlakke van ons lewe

Daarom is gereformeerde onderwys dan ook belangrik. Gereformeerde onderwys het ten doel om die Here se rol in alle vakrigtings aan te dui, want die Here is Here van ons hele lewe. Of die kind op skool dus besig is met tale, wiskunde, geskiedenis of tegnologie, die betrokkenheid van die Here op elkeen van hierdie terreine moet aangedui word. By gebreke daarvan word die volle leer van die Ou en Nuwe
Testament, soos saamgevat in die Belydenisskrifte, nie aan die kind geleer nie. Dan word die idee verskerp van ‘n skeiding tussen die “geestelike lewe, die kerk” en die algemene lewe van elke dag – ‘n onderskeid wat ons nie in die Skrif kry nie.

Dit behoort daarom duidelik te wees dat dit nie bloot genoeg is om een maal ‘n dag ‘n stukkie (meestal net ‘n versie of twee) te lees en dan te bid nie, soos wat by baie sogenaamde Christelike skole die geval is nie. Nog minder is sogenaamde Christelike waardes op hul eie voldoende, want baie van hierdie waardes, bv eerlikheid en omgee vir ander, sien ons in die meeste gelowe. Nee, die Here se betrokkenheid in alle vakke, van die tale (want dit is Hy wat tale gegee het, sien Gen. 11), deur sosiale wetenskappe (want die Here gee verskillende volke en nasies, Ps. 2, en Hy het die heelal geskep, sien Ps. 8) tot die bestuurswetenskappe (want die Here het ‘n sê oor hoe ons besigheid doen, sien bv Spr. 20:23 en Ef. 6:5-9) moet geleer word. Ons taak is om dit vir ons kinders te leer, sodat hulle as hulle eendag volwasse is, die Here se heerskappy in al die fasette van hulle lewe kan raaksien en dienooreenkomstig kan lewe.

Gereformeerde onderwys, waar die heerskappy en betrokkenheid van die Here op alle lewensterreine duidelik gemaak en uitgeleef word, is dus by uitstek die manier waarop ons kinders onderrig kan word in die leer van die Skrif.

Gereformeerde skole

Ons is bevoorreg dat daar gereformeerde skole op verskeie plekke in ons land is. Voorbeelde sluit in Gereformeerde Laerskool Bellville in Kaapstad, Gereformeerde Skool Wolmaransstad, en dan Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn en Gereformeerde Skool Dirk Postma (wat ‘n kleuter-, laer- en hoërskool bevat), beide in Pretoria. Hierdie, en ander soortgelyke skole, kan gerus ondersteun word. Is daar ‘n beter manier vir ‘n ouerpaar om hulle doopbelofte uit te leef, as daar ‘n gereformeerde skool binne bereik is waar hulle kinders opgevoed kan word?

Dv in ’n volgende artikel beoog ons om aandag te gee aan ‘n verdere belangrike aspek van gereformeerde onderwys, naamlik die kweek van ‘n Christelike wêreldbeskouing, waar God die middelpunt vorm, en sy Hand in alles raakgesien kan word.