Monday, October 26, 2015

Is die NG Kerk se hermeneutiek korrek oor Levitikus 22?

Freek Robinson het Sondag (25 Oktober 2015) 'n gesprek gehad met Frits Gaum en Nelis Janse van Rensburg (nuwe NG kerk moderator) oor die Gay besluite. Die onderstaande skrywe kom van een van my vriende, Ds. Jan Louw, in reaksie op die gesprek. Hy verduidelik aan ons wat die groot probleem is met die begrip van Skrif wat diesulkes gebruik om die tekste weg te redeneer wat direk praat oor homoseksuele gedrag. Dit gaan hoofsaaklik oor verkeerde hermeneutiek en ongegronde historiese feite.  
Ds. Jan Louw skryf: Nelis het in die gesprek gesê ons werk die afgelope 30 jaar met 'n "historiese lees" van die Bybel. Dit is op grond daarvan dat die kerk afgesien het van apartheid, hoede vir vroue, en net mans op die preekstoel. Hy het ook melding gemaak van die Du Plessis saak en gesê jy kan die Bybel nie letterlik lees nie. Hy het gesê jy moet probeer verstaan wat die skrywer wou sê in die konteks.
Die historiese lees van die Bybel het nou glo gewys dat Lev 20:13 verwys na kultiese gebruike van die Baälgodsdienste en nie na vandag se SGV van liefde en trou nie. Andre Bartlett loop ook al lank met die storie. Sien: Die NG Kerk het onbetroubaar geword om die Bybel uit te lê
Ek dink dit is belangrik dat ons vir onsself duidelikheid moet kry oor hierdie soort uitleg van die Bybel.
Dit is natuurlik bog om voor te gee die sg "historiese lees" van die Bybel is 'n nuwe ding. Eksegese van 'n teks begin nog al die tyd by 'n poging om te verstaan wat die skrywer van die Bybel wou sê. Dit is waarom daar kommentare in 'n predikant se boekery is. Kommentatore maak 'n studie van die agtergrond, van die skrywer en die mense vir wat die boodskap gehoor het.
Die volgende stap is hermeneutiek. Jy probeer om die te verstaan wat is die implikasies van dit wat 3000 jaar gelede geskryf is vir ons vandag is. Eers dan kan jy begin om 'n preek te maak (homelitiek).
Nelis en sy vriende oortree by die eerste stap, nl eksegese. Hulle doen eiewillige eksegese oor Lev 20:13: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen 'n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood. Nelis en sy vriende sê dat die skrywer (dit is natuurlik Moses), die lelike gebruike van die heidene in gedagte gehad het toe hy dit gesê het. Vandag is daar volgens Nelis ook skynbaar ook “’n mooi homoseksuele verkeer”, wat Moses nie geken het nie en dus ook nie deur hom veroordeel word nie. Dit is nou die verhouding van “liefde en trou”.
Ons moet die volgende hier raaksien oor die eksegese van Lev 20:13:

  • Die konteks van Lev 20:13 is voorskrifte (wette) vir Israel. Die opskrif deur die Bybelvertalers is: Oor seksuele verhoudings. Homoseksuele verhoudings is net een van hierdie seksuele verhoudings. Dit gaan in die konteks hier oor ‘n man wat gemeenskap het met sy naaste se vrou (egbreuk), met sy skoondogter, met ‘n ander man, met ‘n dier, met sy suster of halfsuster, met ‘n vrou wat menstrueer, met sy tante of met sy skoonsuster. Dit is alles verbode seksuele verhoudings en optredes wat so ernstig is dat dit met die dood gestraf moes word.
  • Al hierdie soort seksuele verhoudings het by die heidene voorgekom en nie net die homoseksuele verhoudings nie. Dit is onaanvaarbare eksegese om net een van hierdie verhoudings uit te lig nl. homoseksuele verhoudings en voor te gee dat Moses aan die heidene gedink het toe hy die bepaling gemaak het – en dat die volk dit so verstaan het. Al daardie dinge het weens Israel se sondigheid by hulle voorgekom – dat ‘n man by ‘n man geslaap het.
  • Dit is ook onaanvaarbare eksegese om voor te gee dat daar nie langdurige homoseksuele verhoudings (van liefde en trou) in die antieke tye voorgekom het en dat Moses en Israel nie daarvan bewus was toe hulle die wet ontvang het nie. Uit die aard van menswees was daar sekerlik sulke verhoudinge en daar was geen uitsondering in die wet vir mense in langdurige homoseksuele verhoudinge nie.
  • Die voorskrifte is vir Israel gegee omdat dit in die oë van die Here verkeerd was. Israel was uit al die nasies vir die Here afgesonder. Hulle moes anders wees as die ander volke. Hulle moes heilig wees. Al hierdie voorskrifte was bedoel om hulle heiligheid as volk van God te bevestig. Lev 19:2 is sentraal in al hierdie voorskrifte: Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig! Keil & Delitzsch se kommentaar hierop is: “The commandment in Lev 19:2, “to be holy as God is holy,” expresses on the one hand the principle upon which all the different commandments that follow were based, and on the other hand the goal which the Israelites were to keep before them as the nation of Jehovah.”

 Met dank aan Ds. Jan Louw vir sy Skrifgetroue kommentaar. Lees meer oor Ds. Jan Louw hier: Wie is Jan Louw?



No comments :

Post a Comment