Friday, January 29, 2016

Die Uitverkiesing: Twee kante van dieselfde muntstuk

Wanneer ons praat oor die uitverkiesing en of almal ingesluit is al dan nie, dan is daar altyd twee groepe verse ter sprake vanuit die twee kampe wat mekaar opponeer. Die groep wat in uitverkiesing glo sal al die verse ophaal wat spreek daarvan dat God mense voor die grondlegging gekies en voorbeskik het tot redding. Hieruit bewys hulle dat daar 'n groep mense reeds voor die Skepping uitgekies is deur God om gered te word. Die ander groep wat die siening opponeer sal verse aanhaal wat spreek van God se algemene benadering tot die hele mensdom om almal te red. Dat dit Sy begeerte is dat elke mens gered word. Dat elke mens se redding afhang van sy keuse en geloof in Christus.

Die uiteinde van so debat is die rondgooi van verse wat die opponerende posisie ondersteun. Die resultaat is dat dit dan beteken die Bybel is dualisties en het twee waarhede oor die onderwerp. Maw. God praat uit twee monde oor die saak. Uit beginsel weet ons dit kan nie so wees nie en dat daar net een waarheid is. Die vraag is dan nou hoe staan die twee groepe verse in die Bybel saam onder een sambreel van waarheid? In die onderstaande skrywe deel ek my siening wat in die Bybel aangaan en hoe daar eintlik geen kontradiksie is nie en hoe die twee groepe Skrifte (Versoening aangebied aan Almal en Uitverkiesing) twee kante van dieselfde muntstuk is

Die totale konteks van die Bybel kan na my mening soos volg vertolk word:

1. Daar is twee "vensters" in die Bybel waardeer dinge beskou word. Die een is ons venster (die hier en nou binne tyd) en die ander een is God se venster (buite tyd en binne sy raadsplan). Die Bybel praat soms in die hier en nou en ander kere weer vanuit God se perspektief. Binne ons wêreld sê die Bybel, "bekeer jou en glo die evangelie....Almal wat moeg en oorlaai is kom.....Almal wat wil kom...Elke sondaar, tollenaar of ryk man, kom...glo die evangelie." Die oproep is aan ALMAL. Die wat glo sal gered word.

2. Voor ek so bietjie oor God se perspektief ietsie sê, net iets oor voorbeskikking soos die Bybel dit leer: God sien die begin en einde en bepaal die begin en einde. Hy het Jesus se dood beskik nog voor Satan of Adam en Eva geskep was. Dit beteken Hy het aktief die begin en die einde bepaal en die uitkoms vas gemaak. Dinge gebeur nie "random" nie. Dit gebeur soos in God se raadsplan reeds vooraf beskik deur Hom. Nie weens vooraf gesiene menslike keuses nie, maar weens sy eie genadige keuses vir Sy eie redes en eer. Hy weet alles omdat Hy die aktiewe bepaler daarvan is. Nie omdat Hy reageer op gebeure voor Hom soos 'n skaakspel nie.

3. Oor die tweede "venster": Op sommige plekke in die Bybel trek God die gordyn so effens oop op Sy wêreld en hoe Hy dinge sien buite tyd en binne sy raadsplan (Eph. 1:4,5,11; Rom. 8:29-30). Die blik is 'n "arial view" op die mensdom. Dit is buite tyd, dit sien die begin en einde en dit weet reeds wat gaan gebeur omdat God die aktiewe bepaler is van alle ding. Vanuit die venster sê God: "Hy het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld. Hy het ons voorbeskik om ons as Sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil. Die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. Die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik." Vanuit God se venster is alles reeds voorbeskik en sal dit uitwerk ooreenkomstig Sy raadsplan en vir Sy welbehae.

Om op te som:

4.1. Daar is twee tale in die Bybel. Die hier en nou binne ons wêreld terwyl God se plan besig is om uitgevoer te word. Binne die hier en nou is ons boodskap aan die wêreld: "Want God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe sal hê." Daarom...word met God versoen. Hy het die wêreld lief....kom na my toe almal wat wil. Bekeer en glo die evangelie....Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen."

4.2. Dan is daar God se taal vanuit Sy raadsplan en vanuit 'n ewige verlede en ewige toekoms aan Sy kerk en Sy volk: "Julle is myne. Ek het julle by die naam gekies nog voor die grondlegging om aan my te behoort....Ek het julle gekies; nie julle vir My nie...Ek lê my lewe af vir die skape (julle).....U het Hom mag oor alle vlees gegee sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee...Hulle het reeds vantevore aan U behoort...Hy het ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld....Hy het ons voorbeskik om ons as Sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil.....ens. (nog baie sulke verse).

Wat is die kerk se hooftaak nou: Verkondig die evangelie aan alle mense en nooi elke mens uit om te bekeer, versoen te word met God en in te kom en ook deel te hê aan God se ewige koninkryk.

Die uitverkiesing is God se boodskap aan Sy kerk en aan die wat aan Hom behoort. Die boodskap van die uitverkiesing en predestinasie is God se boodskap van vastigheid, hoop en versekering dat die kerk 'n vaste fondasie en hoop het. Die kerk kan die evangelie met SUKSES verkondig want God het mense tot redding beskik. Die kerk sal wen want dis gebaseer op God se plan wat reeds vasgemaak en gekoop is met die bloed van Sy eie Seun. Dit wat God gekoop het met die bloed van sy Seun is ewiglik Syne. Nie een druppel van die bloed van Jesus is en was verniet nie. Dit was vir 'n spesifieke doel en vir spesifieke mense by die naam. Die menslike wil is nie sterker as God nie en Hy sal mense red ongeag hul sondige weerstand. God sal Sy kerk bou. Elke mens wat Hy beplan het om te red sal gered word. Die mens kan nie Sy plan teenstaan en frustreer nie. GOD GAAN EN SAL WEN. Sy vooraf beskikte plan SAL slaag. Elke mens wat Hy vooraf beskik het sal gered word.

Op die einde van die dag weet ek nie hoe ons kan wegkom van die Bybel af wat 'n duidelike boodskap gee van 'n Soewereine God wat Almagtig, Verhewe en in Beheer is en wie reeds die begin en einde van alles bepaal het nie (Isaiah 46:1-13).

Daar sal ook altyd 'n spanning wees tussen die twee "vensters." Tussen ons belewenis van die hier en nou teenoor God voorbeskikte wil. Vir God is dinge 'n uitgemaakte saak wat gaan gebeur. Hy het reeds voor die grondlegging gekies wie is Syne en wie nie. Die realiteit moet nog uitgewerk word in die wêreld waar ons keuses gaan maak. Waar die evangelie verkondig moet word aan alle mense sodat die wat voorbeskik is tot geloof  kan kom.

My laaste kommentaar is oor TULIP. Dit is nie iets wat jy gebruik om die evangelie te verkondig nie. Ek praat nie met mense op straat, aan wie ek die evangelie bring, oor TULIP nie. Ek vertel hulle van God wat hemel en aarde geskep het en hoe ons teen Hom gesondig het deur Sy wet te breek. Hoe Hy gekies het om ons te red terwyl ons nog sondaars was deur Sy eie Seun te offer aan die kruis as 'n soenoffer vir ons sondes sodat elkeen wat van hul sonde bekeer en op Jesus ALLEEN vertrou gered kan word. TULIP is eerder iets vir dissipelskap, geestelike volwassenheid en lering in die kerk.

No comments :

Post a Comment