Die huidige situasie in Suid Afrika is baie uitdagend. Baie sterk en aanhitsende uitsprake word gemaak deur alle betrokke groepe. Wat onstellend is, is om te sien hoe belydende Christene ook deelneem aan die stituasie en vyandige uitsprake maak. Dit kom vanuit beide kampe. Instede daarvan dat Christene uit beide groepe 'n voorbeeld stel en na mekaar uitreik in liefde, is hulle besig om oor en weer verwyte te slinger waarom die huidige gebeure plaasvind. Aan die een kant is daar mense wat die ander verwyt vir kolonialisme, apartheid en onderdrukking en aan die anderkant is daar weer die wat ander verwyt vir hul swak gedrag en onopgevoedheid. Daar word ook nie begrip getoon vir hul verlede en pyn nie. Ek dink nie dit pas by die voorbeeld wat Christus vir ons gestel het met Sy lewe nie. Christene aan beide kante moet vergifnis vra vir die verlede, mekaar vergewe en mekaar in liefde aanneem as gelykes. In Christus is die skeidsmuur afgebreek en is alle volke, nasies, tale, kulture en kleure verenig as een volk van God.
Daar is ook nou al vergifnis gevra vir die verlede. Waarom aanhou hamer op die verlede. Dit is mos nie vergifnis nie. As jou broer sy sonde teenoor jou bely moet jy hom vergewe en aanneem. Vergifnis beteken om op te hou verwyt en uit te reik na mekaar. Dit beteken ook dat die party wat verkeerd was die opregtheid van sy belydenis bewys met 'n nederige gesindheid van diens. Intstede hiervan, raak Christene deel van die bekgeveg en verwyte. Daar is die wat die regte ding doen en saam bid, maar daar is die wat toetree tot die geveg.
Ek dink as Christen moet ons nie toetree tot die geveg en ook vyandige uitsprake maak nie, maar eerder sout van die aarde wees. Dit beteken nie om stil te bly nie. Die kerk en Christene is God se morele stem tot die gewete van die mensdom. Daarom moet ons deelneem aan die gesprek en moet ons die gemeenskap en kultuur "engage." Maar ons moet hul herinner aan die sonde in die mens wat aanleiding gee tot alle vorme van onderdrukking, geweld, vyandigheid, plundering, aanranding en moord. Ons moet die samelewing herinner aan die oordeel van God oor alle vorme van ongeregtigheid teen Sy wet en teen Hom. Ons moet hulle herinner dat God die Skepper van die heelal is en die mens nie geskep het om in sonde te leef nie, maar hom te verheerlik. Tans doen ons dit nie en God roep almal op tot bekering en geloof in Jesus as Here en Verlosser. Sonder wedergeboorte is die mense se hart en emosies onder die beheer van sy eie sonde en die satan. Jesus kan mense harte verander weens Sy kruisdood en opstanding en daardeur werklike verandering bring. Met homself as god en sonder die heerskappy van Christus in sy lewe, is die mens net tot selfsug en eie geregtigheid in staat en sal vyandskap en onderdrukking nie verdwyn nie. Die mens veg vir Sy eie regte as hy nie 'n hoër Gesag het aan wie hy onderwerp en aan wie se wette Hy nie gehoorsaam nie.
Die enigste hoop vir 'n samelewing is die aanbidding en liefde vir die Skepper van die heelal. Dit is slegs moontlik deur die dood en opstanding van Sy eie Seun, Jesus Christus die Here. Jesus is die enigste weg, waarheid en lewe.
Alle Christene moet ophou neerhalende opmerkings maak al mag dit in sommige gevalle waar wees. Hulle moet woorde wat met sout besprinkel is spreek wat 'n voorbeeld stel van liefde, nederigheid, opoffering, diens en versoening in Christus. Dit is doelloos om vir mense te probeer vertel om reg te leef sonder om te fokus op die ware probleem; die selfsug en boosheid van die gevalle mens se hart. Die enigste antwoord daarvoor is Christus. Tweedens, is dit doelloos om die situasie aan te spreek sonder ernstige gebed voor God. En vergeet van die gebeds-mars idees, die "spreek lewe" uitsprake en die aanhoudende beloftes en profesieë van herlewing. God is groter en meer Soewerein as dit. Gaan na jou binnekamer (dit was die opdrag van Jesus) en pleit tot God om in te gryp. Gaan na jou kerk se bidure en kerkdienste en bid saam met die gemeenskap van die gelowiges tot die Skepper van die heelal om in te gryp. Gaan dan uit na die gemeenskap en stel 'n voorbeeld van liefde, respek, verdraagsaamheid, geduld en versoening in Christus. Vertel hulle van Jesus wat Sy lewe gegee het vir die sonde van die mens sodat Hy met God versoen kan word en 'n nuwe hart kan kry om sodoende te leef waarvoor God die mens geskep het; vir die eer van sy Skepper. Dit is met die boodskap, gesindheid en liefde waarmee ons die huidige situasie in die land moet "engage."
Thursday, February 25, 2016
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)
Ek stem goed geskryf
ReplyDelete