Die Heilige Gees is ‘n Christus gesentreerde Gees. Hy funksioneer nie as ‘n God op Sy eie nie. Hy is die derde Persoon in die drie-enige God. Die Heilige Gees gaan van die Vader en die Seun uit om die wil van God te doen. Die wil van God is om aan uitverkorenes die werk en Persoon van Christus te openbaar; om hulle tot godsaligheid te lei; om hulle in heiligmaking te lei; om hulle in die wil van God soos vervat in Sy Woord te lei.
Niks wat ons van God ontvang, kom anders as op grond van Christus se versoeningswerk nie. Maar - ewe waar - niks wat ons kry, word anders as deur die Heilige Gees in ons lewens verwerklik nie. Hierdie twee waarhede lê onlosmaaklik aan die hart van egte Christelike belewing. Eers gee God Sy Seun; dan gee Hy Sy Heilige Gees. Sonder die Seun kon die Gees nie kom nie; sonder die Gees was die koms van die Seun tevergeefs. Die gawe van die Gees is gewortel in die werk van die Seun; die Seun se werk blom oop in die koms en werk van die Gees.
Hy wie nie van doktrine (doctrine) wil weet nie, wil niks van Christus weet nie. Christus homself het doktrine (doctrine) geleer. Die hele Woord is leerstellings aangaande Christus en die wil van God. Die werk van die Gees is nie spiritisme nie. Maw leë geesteservarings nie. Die moderne neiging is die najaag van verskillende emosionele en ekstatiese ervarings wat niks met die werk en Persoon van Christus te doen het nie. Die Heilige Gees help ons om te groei in die kennis en genade van Christus. Om die Woord van God te gehoorsaam en te leef.
Hoe meer ek van die moderne bewegings (post-modernisme, charismaties, "neo-pentecostalism," "new apostolic reformation," ens.) leer en sien, hoe meer besef ek hoe afgesny is hulle van die ortodokse Christelike geloof - “eens oorgelewer aan die heiliges.” Dit is inderdaad 'n ander "jesus" waarmee hulle besig is. Die werk van die Gees is om die Persoon en werk van Christus in Sy volle glorie te openbaar en bekend te maak. Dis om mense na Christus te trek en hulle te verander na die beeld van God soos geopenbaar in die Persoon van Christus. Om Christus te ken is om die volle leer van die saligheid te ken.
Jesus het gesê as die Heilige Gees kom “sal Hy julle van My leer.” Christus is 'n Persoon en daai Persoon het spesifieke eienskappe. Enige ander eienskappe en leerstellings wat afwyk van die Persoon van Christus soos geopenbaar in die Heilige Skrif is 'n ander jesus en nie Jesus Christus die Here nie. Die hele Woord gaan oor Jesus. Dit is ‘n ander gees wat ‘n ander jesus openbaar. Jesus Christus is die waarmaker van die hele Woord. Enige ervaring buite die Woord is die werk van ‘n ander gees. Die Heilige Gees openbaar en leer ons van Jesus deur die Woord van God.
Jesus self het gesê "as julle my liefhet sal julle my Woord liefhê en dit gehoorsaam en bewaar. Nie een letter daarvan sal verlore gaan totdat dit vervul is nie." Hy wie die Woord van God afwater of minag; die belangrikheid van die volle leer daarvan as onbelangrik ag, het heel moontlik nie die liefde van God in Sy hart nie. Die liefde wat van God af kom is lief vir die volle waarheid van die HELE WOORD soos deur God ingegee en uitgeasem tot lering, weerlegging, opbou en vermaning sodat kinders van God kan groei in die saligheid en heiligmaking; volkome vir elke goeie werk en om Godvrugtig te kan leef.
No comments :
Post a Comment