Mense se harte is stukkend en vol vrees. Almal hardloop rond soos afkop hoenders en soek antwoorde. Dit is verstaanbaar. Deur die eeue van die skepping af het die mens nog altyd sy hoop in homself en andere geplaas. So het Adam en Eva geval deur op hul eie insigte en geregtigheid staat te maak. Die mensdom bou 'n stad wat tot die hemel moet strek sodat hulle God kon bereik. Israel wou 'n magtige leier hê wat ses-voet-ses in sy skoene kon staan met 'n breë-bors en blou oë. Iemand wat hard kon praat en voor kon vat wanneer dit nodig is. Hulle wou graag 'n fisiese leier hê en daarmee het hulle God versaak. Israel se geskiedenis is besaai met hul eie pogings om 'n aardse koninkryk te probeer vestig op hul eie beginsels. Die mensdom se geskiedenis is met bloed besaai omdat hulle elkeen hul eie pad geloop het en 'n afgod in hul gedagtes geskep het soos wat hulle gedink het God moet wees. Die mensdom het nog altyd op prinse en sisteme vertrou. Nou is ons in 'n krisis en ons doen weer dieselfde. Christene is nie vry van die versoeking nie. Hulle vestig net so maklik hul hoop in 'n leier, 'n sisteem, 'n plek of 'n geestelike ritueel. Dis nie die mens of die gebed wat gaan red nie. Dit is die God na wie geroep word wat gaan red. Ons bid omdat God 'n plan het. Die feit dat God 'n plan het impliseer ook dat wat tans gebeur binne Sy plan is. Dit impliseer ook dat Hy ons nie gaan gee wat ons wil hê nie. Hy gaan doen ooreenkomstig Sy plan en soos dit Hom behaag. Hy is in beheer en het 'n ewige plan van ewigheid af. Kan ons die woorde van Jesus onthou, "julle kan nie eers een uur waak en bid saam met my nie." Ons moet bid soos ons Verlosser gebid het, "nogtans nie My wil nie, maar U wil." Wat is God se wil? Is dit dalk nie dat ons deur die krisis met volharding en vertroue moet gaan sodat ons geloof gelouter kan word en nog meer mense kan inkom nie. God red mense soms deur 'n krisis. Kan ons aanvaar dat God die krisis in Sy raadsplan beskik het vir 'n doel? Of wil ons dit verander? Wat moes 'n eerste eeuse Christen se wie se vrou en kinders met teer gesmeer is en aan die brand gesteek is. Of ten aanskoue van sy gesin vir leeus gevoer is tot plesier van 'n jillende skare. Baie van hulle het gesterf sonder enige fisiese uitkoms. Is dit nie bietjie arrogant van ons om God vas te bind en te dink Suid Afrika gaan 'n Utopia soos die Paradys wees nie. Verstaan ons werklik die Bybel reg of het ons idees geskep agter ons eie begeertes aan. Het Jesus nie gesê, "julle gaan dit baie swaar hê hier op aarde nie, maar hou goeie moed want Ek het die wêreld oorwin." Het die apostels nie gesê, "deur baie swaarkry en marteling gaan ons die koninkryk binnegaan."
God sê vervloek is elkeen wat op 'n mens vertrou; wat sy hoop in die vlees stel. Daar was 'n tyd toe Israel hul hoop in die tempel en hul godsdiens gestel het. In Suid Afrika vaar ons nie veel beter nie. Ons plaas ons hoop in geestelike leiers, politieke leiers, die land, kerk as institusie, gebedsdae, godsdienstige praktyke, mistieke praktyke en onsself. Alles is weg gefokus van die drie-enige God en Sy woord af. My hoop is nie in my eie gebed, my eie geloof, my eie kennis of my eie ywer nie. Ek het nie skeppende krag om enige iets waar te maak nie. My hoop is in die ewige plan van die ewige God. Hy het in die ewige verlede voor Hy geskep het reeds Sy raadsplan vasgelê en beskik wat sal gebeur. Hy het reeds voor die skepping geweet wat alles gaan gebeur omdat Hy elke gebeurtenis haarfyn beplan en beskik het - goed en boos. Hy het elke gebeurtenis - goed en boos - beskik om te gebeur binne Sy goeie raadsplan met 'n goeie doel om Sy goeie wil tot uitwerking te bring. In Jesaja 46 verduidelik God dat alles sal gebeur soos Hy dit beskik het. Hy het 'n volk vir Hom gekies nog voor die skepping en haar vir Hom gekoop deur die offer van Sy eie Seun. In die wêreld is daar 'n oorblyfsel, deur God uitgekies, wat aan God sal behoort en hom sal liefhê en dien. God het deur die offer van Sy Seun 'n ewige toekoms vir hulle gekoop en verseker. Hy het hulle as erfgename aan Sy Seun geskenk nog voor die skepping. Hy het deur die dood en opstanding van Sy Seun Sy koninkryk geplant en ewiglik gevestig. Hy het 'n nuwe hemel en aarde verseker deur die offer van Christus. Elkeen war deur Hom voorbeskik is, sal eendag saam met Christus in die Vader se teenwoordigheid ewig lewe op 'n nuwe perfekte hemel en aarde. Hulle sal 'n nuwe sondelose liggaam ontvang wat vry is van siekte, veroudering en dood. Geen geweld, moord, doodslag, korrupsie en onreinheid sal daar meer wees nie. Die Vader gaan self elkeen vertroos en alle pyn verwyder. Tot dan is God se uitverkorenes op die aarde geplaas om Sy koninkryk uit te dra sodat Hy die kan roep wat nog moet inkom. Hulle gaan dit baie moeilik hê en baie vervolg word, maar die koninkryk sal voort masjeer en oorwin, want dit het reeds oorwin. Christus heers reeds te midde van alle chaos. Hy is op die troon of ons slaap, of wakker is, of ons vrees en twyfel, niks gaan maak dat Hy nie Sy plan uitvoer nie. Hy sal die geloof en vertroue skep in die uitverkorenes om te bly vertrou en te volhard. Hy het die Gees in hulle geplaas wat hulle bekragtig. Hulle sal daagliks aan Hom vashou en hul lewens aflê al kos dit die dood. Die beloftes is waar en amen gemaak in Christus. Dit is my hoop vir myself, my gesin, die kerk, Suid Afrika en die wêreld. My hoop is gesetel in Christus, Sy soewereiniteit, Sy krag, Sy raadsplan en Sy vermoë om te doen wat Hy belowe het. Daarom bid en stry ek. Daarom lewe ek. En daarom verkondig ek die Woord. So help my God!
SOLI DEO GLORIA.
No comments :
Post a Comment