Monday, March 20, 2017

Oppervlakkige inhoudlose Christenskap

Daar is mense wat beweer gesonde lering is nie belangrik nie. Ons moet net die evangelie verkondig. Die tipe denke skiet 'n gat deur hul eie teorie, want Jesus en die apostels het geleer die evangelie is gesonde leer. RC Sproul skryf, "die geloof wat red het inhoud." Steve Lawson skryf, "hy wie nie iets van gesonde leer wil weet nie, wil nie van Christus leer nie." Paulus noem dit baba kos versus vaste kos (Ef. 4:12-14). Hy sê kom ons beweeg aan na die volle en gesonde leer van die Woord sodat ons nie meer soos babas rondgeslinger word deur elke leer en wind van verandering nie. Die gesonde leer van die Woord is 'n vaste fondament waarop die kerk gebou is (Ef. 2:20). Dis slegs deur die volle leer van die Woord wat die kerk van Christus gesuiwer kan word. 'n Halwe leer maak van die kerk van Christus 'n besmette bruid met 'n vuil bruilofskleed. Die bruid van Christus (en dus elke gelowige) moet ywerig streef na die gesonde leer van die Woord. Vir die Efesiër ouderlinge sê Paulus, "ek het my nie daarvan weerhou om die volle leer van God aan julle te verkondig nie" (Hand. 20:27). Paulus skryf vir Timoteus, "waak oor die lering wat jy verkondig, want daardeur sal jy en jou gehoor gered word" (1 Tim. 4:16). Verder skryf hy vir Timoteus, "hou aan om die gesonde leer van die Woord, tydig en ontydig te leer, deur te vermaan, te korrigeer, te bemoedig en op te bou (2 Tim. 4:2). Hy skryf nog verder aan Timoteus, "doen jou beste om die gesonde leer van die Woord goed te leer ken en daardeur jouself as 'n waardige leermeester voor God te stel; iemand wat nie skaam hoef te wees om die Woord reg uit te hanteer en uit te lê nie" (2 Tim. 2:15). Hy waarsku Timoteus dat daar 'n tyd gaan kom wat mense nie die gesonde leer van die Woord gaan verdra nie, maar vir hulself mense gaan bymekaar maak wat die dinge sê wat hulle graag wil hoor (gehoor streel)" (2 Tim. 4:3). Konstant deur die Woord word die gedagte voorgehou dat gesonde leer en die evangelie sinoniem is en nie teenstrydig nie. Hulle wie beweer dat daar van gesonde leer weggebly moet word, want dit bring divisie en slegs die evangelie verkondig moet word praat teen die Woord en is inkonsekwent met hul eie teorie.

No comments :

Post a Comment