Tuesday, April 21, 2020

Wat maak ons gereformeerd?

Wel, nie die blote feit dat ons Christene is nie. Talle Christene is nie gereformeerd nie. Die groot meerderheid Christene is nie gereformeerd nie. Ons betwyfel nie hulle Christenskap, omdat hulle nie gereformeerd is nie. Ons respekteer hulle oortuigings. Tog is dit vir ons self belangrik om gereformeerd te wees, omdat ons glo dat die gereformeerde verstaan van die Bybel die suiwerste is.

Maar wat is die besondere kenmerk van die gereformeerde verstaan van die Bybel? Daaroor kan baie gesê word, maar vir ons doel hier is dit belangrik om net die volgende te noem:

Die evangelie van genade

Gereformeerdes verstaan die boodskap van die Bybel as die evangelie van genade. Alle Christene kan dit ook sê, maar almal verstaan dit tog nie eenders nie. Saam met die Lutherane verstaan die Gereformeerdes die evangelie van genade as die boodskap dat ons uit genade alleen, sonder enige verdienste van ons kant, slegs vanweë die kruis van Christus gered word, en dat ons dit maar net kan ontvang deur die belofte van die evangelie te glo.

Dit beteken dat Gereformeerdes die boodskap van die verlossing uit genade op ’n radikale manier verstaan. Alle Christene glo dat ’n mens deur Gods genade gered word, maar in die meeste gevalle word tog een of ander element van menslike verdienste ingevoer wat meebring dat die redding nie as enkel uit genade verstaan word nie.

Soms word die genade as ’n soort krag verstaan wat God aan ’n mens gee om te kan doen wat Hy vra. Die krag van die genade sou ’n mens dan eintlik in staat stel om te doen wat nodig is om gered te word. Andere dink weer dat die geloof ’n voorwaarde is wat vervul moet word, op grond waarvan God jou dan red, al is jy nie in staat om goeie werke te doen nie. Die geloof word dan die één goeie werk op grond waarvan ’n mens gered word.

Albei hierdie opvattinge bevat ’n wettiese misverstand. Wanneer Gereformeerdes sê dat ’n mens deur die geloof alleen gered word, verstaan hulle die geloof nie as ’n verdienstelike werk nie, maar as die leë hand waarmee ons maar net ontvang wat God uit genade aan ons gee. Ons word werklik verniet, gratis, dit is: net deur Gods genade gered. Ons geloof is geen prestasie nie: dis maar net om te ontvang wat God ons uit vrye guns gee.

En wat meer is, ook daardie geloof is ’n geskenk van God. Die Bybel leer dat ’n mens se verlorenheid so radikaal en totaal is, dat ons geestelik dood is (Efesiërs 2:1). Ons kan nie uit onsself glo nie. Eers as God die wonder van ’n opwekking uit die dood aan ons verrig, kan ons glo. En God gee dit aan wie Hy wil. Dis ’n daad van sy verkiesende liefde. Dis genade om genade te kan ontvang. Dat Gereformeerdes die Bybelse leer van die uitverkiesing met dankbaarheid as die hart van die evangelie aanvaar, onderskei hulle van die meeste ander Christene. Maar juis dit maak ons gereformeerd.

Kerk van die Woord

Omdat Gereformeerdes glo dat ’n mens slegs uit genade en deur die geloof in die beloftes van die evangelie gered word, is die verkondiging van Gods Woord vir hulle van beslissende belang. ’n Protestantse kerk, glo Gereformeerdes, moet ’n kerk van die Woord wees. Die ideaal is dat die gemeente deur die omgang met die Woord van God opgebou word tot ’n mondige gemeente van belydende gelowiges wat nie net selfs in die heil deel nie, waar wat die eer van God op alle terreine van die lewe soek en as profete, priesters en konings vir Christus in die wêreld lewe en getuig.

Dit het geweldige gevolge vir die verstaan van die aard van die erediens. Nie die liturgie, sakramente, godsdienstige seremonies en religieuse praktyk nie, ook nie die gesellige saamwees van die gelowiges nie, maar die gepreekte Woord wat die verlorenheid van die mens onthul en die genade van God aan sondaars toesê, vorm die hart van die erediens en die hele bediening van die kerk.

Wanneer die Woord van God in welke opsig en om welke rede ook al uit sy sentrale posisie in die erediens en die kerklike lewe as geheel verdring word, is die gereformeerde karakter van die kerk in gevaar. Ook hierdie oortuiging maak ons gereformeerd.

Die wet van God

Dat die eer van God op alle terreine van die lewe gedien moet word, hang vir Gereformeerdes met hulle oortuiging saam dat ’n mens wat uit genade gered is – ook persoonlik deur die Gees geheilig en in die wêreld uitgestuur word om dáár die wil van God te doen.

Daarom neem Gereformeerdes ook die hele Woord van God ernstig op, as Ou en Nuwe Testament, as wet en evangelie. Hulle verstaan die Bybel nie net as die blye boodskap van vergiffenis nie, maar ook as die blye boodskap dat Christus die mag van die sonde oorwin het en dat gelowiges geroep word om in hulle hele lewe uit hierdie oorwinning van Christus te lewe en Gods gebod in alles te gehoorsaam.

Gereformeerdes is mense wat nie net hulle persoonlike lewe nie maar ook hulle gesins- en gemeenskapslewe, hulle arbeid en ekonomie, ja, óók hulle politieke lewe volgens die eise van Gods wet wil inrig. Hulle glo, soos Abraham Kuyper gesê het, dat daar geen duimbreedte van hierdie aardse werklikheid is waarvan Christus nie sê: “Dit is Myne!” nie. Dit is tipies gereformeerd om die wet van God op alle lewensterreine te wil gehoorsaam.

Die verbond

Dit was nooit die bedoeling dat daar binne Protestantse geledere verdeeldheid sou ontstaan nie. Tog het dit ongelukkig wel gebeur. Die eerste skeiding van die weë het gekom toe sommige binne die Protestantse geledere radikaal met die kerklike tradisie gebreek, die kinderdoop verwerp, die buitengewone gawes van die Gees nagejaag en die geesdriftige Christendom van 1 Korintiërs 14 as model vir die ware kerk aanvaar het.

Hierdie beweging, wat die Dopers of Wederdopers genoem is, het die ideaal van ’n radikale reformasie nagejaag. Hulle wou nie net die kerk hervorm nie, maar na die ervarings van die Pinksterdag en die soort godsdienstige belewing van die Korintiese gemeente terugkeer (1 Korintiërs 14). Daarby het hulle ook die kinderdoop verwerp.

Die Reformatore het hulle duidelik van die Dopers gedistansieer. Dit het hulle egter gedwing om die Bybelse gronde vir die kinderdoop te verhelder. Die Gereformeerdes het dit gedoen deur die leer van die verbond te ontwikkel. Die kerk het altyd geweet dat die verbond ’n basiese werklikheid in Gods verhouding tot sy volk is – soos daaruit blyk dat die Bybel se twee dele die Ou en die Nuwe Testament (dit is: die Ou en die Nuwe Verbond) genoem word. Maar dit was die taak van die gereformeerde teologie om die verbondsleer vollediger te ontwikkel.

Gereformeerdes glo dat God se verbond met Abraham vir die kerk van alle tye betekenis het. Hulle glo soos Paulus dat die kerk van die Nuwe Verbond ingeënt is op die olyfstam van Israel, die gemeente van God in die Ou Verbond (Romeine 11). Daarom aanvaar hulle dat die gemeente van Christus dieselfde verbondstruktuur as die gemeente van die Ou Testament besit. Die gemeente bestaan nie uit bekeerde individue nie, maar uit gelowige stamme. Die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Spesifiek ook hierdie oortuiging maak ons gereformeerd.

Die Psalms

Die Reformasie het weggedoen met die liturgiese erediens van die Katolieke Kerk. Prediking en gebed het die hoofsaak van ’n sober erediens geword. Omdat Gods Woord die kerkdiens moet beheers, is daarop aangedring dat ook die kerklied Bybels moet wees. Dit was voor-die-handliggend om slegs Skriftuurlike liedere, en dus in die besonder net berymde Psalms te sing.

Ook toe later aanvaar is dat Nuwe-Testamentiese liedere in die erediens gesing moet word, was die bedoeling tog nie om die Psalms af te skeep nie. Wêreldwyd sing Gereformeerdes nog steeds graag die Psalms, omdat hulle hulleself deel maak van die een volk van God in die ou en die nuwe bedeling, en omdat hulle die Psalms verstaan as die geïnspireerde reaksie van Gods volk op sy liefde en tugtiging. ’n Kerk wat nie meer Psalms sing nie, kan moeilik gereformeerd bly.

Die ouderling en diaken

Ten slotte: Gereformeerdes is op grond van die Bybel daarvan oortuig dat plaaslike gemeentes selfstandige kerke in hulle eie reg is en dat die drie Bybelse ampte van leraar, ouderling en diaken in die kerk onderhou moet word. Op hierdie eenvoudige gegewens is die gereformeerde stelsel van kerkregering gebou wat alle priester-heerskappy en hiërargie uitsluit en daarvan uitgaan dat die Woord van God die maatstaf moet wees waaraan die besluite van alle kerklike vergaderinge gemeet moet word. Ook hierdie vorm van kerkregering maak ons gereformeerd.

WD Jonker, Die Kerkbode, 7 Junie 1996

No comments :

Post a Comment