Elke wind van Lering. (Efesiërs 4:13) |
Dis duidelik uit wat Paulus vertel dat mense weens 'n gebrek aan insig en kennis van wie Jesus Christus is meegesleur word deur die winde van verskillende leringe. Die volheid is in Christus alleen en deur Hom te ken kom ons tot volwassenheid as christen. Ons volwassenheid word gemeet aan die mate en grootte van ons intieme kennis en insig van wie Christus is en wat die evangelie behels. 'n Tekort hieraan maak ons kinders en veroorsaak dat ons rond geslinger word soos 'n boot op die see deur verskillende rukwinde van elke lering wat ons fasineer. Ons verander gedurig van rigting na gelang van die wind. Daar is 'n Afrikaanse gesegde wat soos volg gaan: "soos die wind waai, so staan my jas se punt." Dit beteken basies dat ek beweeg in die rigting van die wind. Kinders word maklik 'n gat in die kop gepraat. Grootmense het wys geraak en het deur insig en ervaring geleer wat om nie vir soetkoek op te eet nie. Paulus se as christen werk dit net so. 'n Gebrek aan geestelike openbaring en insig, wat deur die Heilige Gees alleen kom, wat gevind word in die Woord, veroorsaak dat leermeesters met slim en logiese redenasies mense maklik kan meesleur in 'n rigting wat nie is wat God bedoel het in Sy Woord nie. Paulus verduidelik ook dat die mense baie slim en slu is. Hul redenasies en teorieë is baie goed en neem mense wat nog kinders is in geloof en insig in die Woord maklik gevange. Baie van die leringe is baie indrukwekkend en kom baie wys voor. Die mense se "presentation skills" is baie goed. Hulle denke is prysenswaardig en dit is vreeslik aantreklik. Mense word maklik daardeur beïndruk en sodoende meegevoer.
Die antwoord hierteen is Christus sê Paulus. Hy is die wysheid van God (1 Cor. 1:22-31). 'n Openbaring en insig wie Christus is, is die volheid en wysheid van God. Mense hardloop gewoonlik agter elke nuwe gier aan weens 'n leemte in hul eie siel. Hul honger en dors na meer of iets nuut omdat hul eie siel 'n dorsland is. Die nuwe gedagtes fasineer hulle en bring tydelike verligting. Jesus het gesê Hy is die water en brood van die lewe. Wie van Hom eet en drink sal nooit weer honger word of iets ekstra nodig hê nie. Mense soek gedurig na meer omdat hul nog nie Christus en Sy volheid gevind het nie. Sodra nuwe idees kom, vang dit hulle en voel hulle so gefassineer daardeur dat dit tydelike verligting bring vir die dorheid in hul eie siel. Jesus Christus alleen is die wysheid van God. Geen wind van lering kan dit bring nie. Die ware lering is Christus gesentreerd en nie allerhande idees nie. Toets elke lering hieraan. Verkondig dit Christus ALLEEN as die antwoord en wysheid van God as die water en brood van die lewe? Daar was nie een mens in die Bybel wat Jesus ontmoet het wat weg gestap het en nog iets nuut nodig gehad het nie. Jesus het alles geword en ons deel in daai "alles" deur eenheid met Hom wat slegs die Heilige Gees kan bring. "Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing" (1 Cor. 1:30). "Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag" (Col. 2:9-10).
No comments :
Post a Comment