Wednesday, December 31, 2014

Waaroor gaan die evangelie?


WAT IS DIE WARE EVANGELIE? ....Die evangelie is slegs 'n Persoon. Die evangelie vind sy inhoud in die geboorte, lewe, leer, dood, opstanding en verheerliking van Jesus Christus die Here. Jesus is God in menslike vorm. Jesus is die eenheid van twee nature, God en mens, in een Persoon. Jesus Christus is die Here. Jesus Christus is die Seun van God. Jesus Christus is Emmanuel, God met ons. Jesus Christus is die wysheid, geregtigheid, heiligheid en verlossing van God (1 Cor. 1:30). Jesus Christus is die evangelie.

Die kruis het twee arms. Vertikaal na die Vader en horisontaal na die wêreld. Jesus het Sy arms en bene regoor beide gespan en dit verenig in 'n eenheid deur vasgespyker te word regoor beide. Verwyder jy die vertikale arm, skeur jy Jesus in twee, is die kruis verbreek en word die Vader nie verheerlik nie. Verwyder jy die horisontale arm, is jou geloof dood en kan nie red nie. En weereens skeur jy Jesus in twee en verdeel die kruis. In beide gevalle word die kruis waardeloos gemaak. Jesus het gesê jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, wil, verstand en siel en jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Hierin is die hele wet en profete saamgebind (nie die een sonder die ander nie).

Die vraag is nou: floreer ons slegs in een area? Indien wel, word die kruis verbreek en waardeloos gemaak. Dit getuig van 'n valse evangelie.

Wat is die vertikale arm. Dis die 5 Solas. Dis die gesonde leer en belydenis van die kerk. Dis om God te verheerlik deur Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fide en Solus Christus sodat Soli Deo Gloria plaasvind. Buite dit word God nie verheerlik nie en word die kruis verbreek.

Wat is die horisontale arm? Dis liefde vir alle mense wat vloei uit die kruis van Jesus. Dis liefde vir alle mense wat Skrif gebaseer is. Dis liefde vir alle mense deur hul na die waarheid en evangelie te lei. Dis liefde vir alle mense wat oorgaan in dade. Dis ware geloof wat gewys word deur dade. Geloof wat nie vrug dra van dade nie is dood en kan nie red nie. Dis liefde vir alle mense deur eerste hulle te vertel van die kruis en opstanding van Jesus sodat hulle van hul sonde waarin hulle vasgevang is gered kan word. Wat help dit jy gee kos en sorg, maar die siel brand in die hel. Vrees die een eerste wat die liggaam en die siel in die hel kan gooi. Dan tel jy die gewondes langs die pad op soos die barmhartige samaritaan gedoen het. Liefde vir God dryf liefde vir mense, nie anders om nie. Ons word eerstens gedryf deur die liefde van Christus vir hul verlore siele wat gedemonstreer was aan die kruis en dan gee ons hul kos en sorg emosioneel vir hulle.

Wat help dit ons presteer op horisontale vlak maar die gesonde leer word versaak. Dit getuig van 'n gebroke kruis en 'n evangelie wat nie kan red nie. Dit getuig van 'n liefde vir God wat nie Gees gebore en gedryf is nie. Die ware liefde wat die Gees werk is lief vir die waarheid bo alles en dan sekondêr vir mense. God is eerste lief vir Sy Seun en dan vir mense. Die kruis is 'n eenheid. Verbreek jy die kruis is daar geen evangelie nie.

2 comments :

  1. Die blye boodskap, soos wat die evangelie van ons Heiland bekend staan, het vir my persoonlik ‘n BLYE BOODSKAP geword nadat die Vader dertig jaar gelede persoonlik tot my gespreek het toe ek Matt. 5:20 lees en Hy my daarna tot so ‘n mate van die sonde BINNE-IN my oortuig het, dat ek Hom uiteindelik gevra het om my eerder te laat sterf as dat ek sou voortgaan om te worstel daarteen terwyl ek GEWEET het dat ek volgens daardie ‘voorwaarde’ in vers 20 NOOIT die koninkryk sou kon ingaan nie, en Hy my toe belowe het om my eie lewe te vervang met die lewe van sy Seun, wat Hy toe ook na angeveer 40 dae GEDOEN het.

    Eers DAARNA het Hy vir my die evangelie wat Hy deur gelykenisse aan sy dissipels oorgelewer het, oopgebreek en het ek besef dat dit wat Hy aan my gedoen het en my laat deurgaan het, presies is wat Hy sy dissipels geleer het, nl. dat Hy SY LEWE (nie sy dóód nie, maar SY LEWE) gee vir sy vriende, as hulle Hom maar net sal oortuig dat hulle waaragtig die sonde HAAT en so ook hulle eie léwe wat in werklikheid niks anders is as die BRON van die mens se sonde nie!

    Voorwaar dus ‘n BLYE BOODSKAP, want of die mens dit nou wil glo of nie, is dit net eenvoudig waar en geen leuen dat geen mens met sy sonde en al vir ewig in die koninkryk van die Skepper sal vertoef nie!

    ReplyDelete