Paulus gee so opdrag: "As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense" (1Tim 6:3-5). Hieruit is dit duidelik dat ongesonde leer skeiding bring. Maar ons moet die gesonde leer najaag wat na geregtigheid lei. Ons moet die gesonde leer van die geloof bely as goeie getuienis voor baie. "Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe, waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het (1Tim 6:11-12).
Daarom is doktrine en gesonde leer van kardinale belang. Die kerk moet sy fondasie op die Woord van God hê en geanker wees in Christus alleen. Sonder 'n gesonde belydenis wat gebaseer is op die Woord van God doen elke ou sy eie ding en raak elkeen 'n "freelancer." Eenheid raak dan moeilik. Eenheid kom wanneer 'n groep mense saam die waarheid in Christus betrag en nader aan Hom groei. Wanneer hulle saam die waarheid bely. Ek voel 'n soliede belydenis van waarheid soos in die Woord uiteengesit is dringend baie nodig. Die kerk is totaal versplinter en elke ou maak sy eie belydenis soos hy dinge sien. Dit kan logies net tot baie gevegte en skeiding lei. Ons het goddelike leiers nodig wat deur die gawe van lering van die Gees mense leer uit die Woord om sodoende die waarheid wakker te maak onder alle mens wat dan 'n gemeenskaplike waarheid kan bely wat eenheid sal bring. Dis waar die belydenisskrifte deur al die eeue so belangrik was. Die kerk het in sy geskiedenis nog altyd laer getrek rondom waarheid teen die leuen en die waarheid neergeskryf en bely as teenstand teen die leuen. Dit help nie ons beveg net die leuen en ons bely nie die waarheid nie. Die kerk het die waarheid wat as belydenis bely moet brood nodig. Mense moet geleer word wat die waarheid is. Elke ou is nie op sy eie miershoop nie. Daar sal nooit eenheid kom sonder 'n behoorlike belydenis van geloof nie. Mense wat saamstem staan saam. Eenheid maak mag. Selfs onder ons eie geledere het ons 'n probleem hiermee. Wat is die gesonde leer en die woorde van Jesus waarna Paulus verwys in 1 Tim. 6:3-4 wat ons moet leer? Die leer van verlossing, genade en soewereiniteit is van die essensiële leer in die Bybel. Dit help byvoorbeeld nie ons vertel net die hele tyd vir mense gay is sonde nie. Wat is die gesonde leer wat die kerk aan die kinders van God moet leer sodat hulle 'n stel waarhede kan bely wat eenheid bring sodat hulle 'n mag teen die bose kan wees. Paulus sê staan die satan teen en hy sal wegvlug (Jak. 4:7). Hoe? Met die die waarheid van die Woord, die swaard van die Gees (Ef. 6:17). Ons moet die waarheid ken en dit bely. Ons moet die waarheid bely wat soos 'n baken bo op 'n berg skyn en lig sal bring aan die nasies. Ons moet weet wat ons glo en wat die waarheid is. Hier lê ons groot swak punt. Eenheid kan nie kom as onsself nie eers die waarheid mooi verstaan en bely nie. Eendrag maak mag teen die bose. God se mense moet saam die waarheid bely. Ek se weereens dis hoekom die belydenisskrifte deur die eeue opgestel was. Dit was 'n teenstand teen die leuen van die tyd. Kyk maar mooi na die inhoud van die belydenisskrifte. Dit was nie net 'n belydenis van wat die leuen is nie. Dis eerstens 'n soliede belydenis van die waarheid wat 'n teenstand was teen die leuen. Lig verdryf die duisternis. Kyk na die formulering van Dordt. Dis eerste 'n stelling van die waarheid en dan die weerlegging. Ek dink ons moet eers begin fokus om die waarheid self goed te verstaan sodat ons dit kollektief kan bely en leer. Ek sien nie eenheid daarsonder nie.
Eenheid kom deur gesonde lering en God gee die gawes daartoe. Kyk mooi wat Paulus hier sê: "En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, TOT ONS ALMAL KOM TOT EENHEID van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus" (Eph 4:11-15). Gesonde lering van die waarhede van die Woord bou eenheid in geloof in Christus.
No comments :
Post a Comment