![](https://blogger.googleusercontent.com/img/b/R29vZ2xl/AVvXsEgf_t9h5YJobQ2NdcvlK7EHUzspjCydTbsn8PbuV6Efu6Vi4K0eaWsJOPuYEpNUYTDUQxGTAmwouqCkEC5Cvbcvvm2Q1P3GbVgVkfDiiEUy-fifw3NwkT-fjpcGZFZ6jEtuvbcQbfFHGoDP/s400/grace.jpg)
Die mens was sondeloos en perfek geskep deur God. Hulle is na sy beeld geskep, vol liefde, goedheid, heiligheid en met 'n vrye wil om hul te verlustig in God (Gen 1:27). Hulle was geskep met alles wat hulle nodig gehad het om 'n sondelose lewe te leef en om God ten volle te ken en lief te hê. Hulle het dit opgegee en self gekies om na die moordenaar en leuenaar van alle tye te luister. God het geweet die sondeval gaan plaasvind. Hy het geweet as Hy die mens met 'n vrye wil skep, gaan hulle val en die hele mensdom oor die afgrond sleep. As Hy nie ook saam met die vrye wil van die mens, die uitverkiesing in sy plan ingebou het nie, sou geen mens gered kon word nie. God kon nie die mens vrye wil gee sonder om ook te verseker sommiges sal gered word nie. As dit van die mens se vrye wil afhang, sal niemand teruggekeer na God nie. Die uitverkiesing was God se plan teen die vrye wil en keuse van Adam en Eva. Nadat hulle geval het en besoedel is met die gif van die Satan, was daar net geen sekerheid meer nie. Die mensdom was daarna in die mag van Satan. Hoe kon hulle daaruit vrykom sonder dat God kies om sekeres daaruit te haal. Hy kon dit nie aan hul keuse oorlaat nie, want hulle is nou besoedel met 'n sondige natuur. Hoe sou hulle ooit weer Hom kon kies sonder dat Hy ingryp. Daarom kies Hy voor die skepping om deur predestinasie 'n oorblyfsel uit te hou wat altyd aan Hom sal behoort.
God het voor die grondlegging van die aarde weens Sy voorkennis en wysheid geweet wie Syne is en hulle uitverkies tot ewige redding. Weens die feit dat Hy hulle uitverkies het by die naam het Hy hulle vooraf bestem om gered te word (Rom. 8:29-30). Hy het hulle name aan Christus oorhandig en Christus het aarde toe gekom met hul name op Sy handpalm gegraveer (Is. 49:16). Hy is kruis toe en koop hulle met Sy lewe om verewig aan die Vader te behoort en Hy word hulle Verlosser. Die Vader het hulle uit die wêreld aan Hom gegee en hulle is die bruid van Christus (John 17:6-7). Jesus het die bruid lief en sterf vir hulle alleen. As jy iets koop behoort dit aan jou. Dis onwettig om dit weg te vat. Jesus het die bewys (kruis en opstanding) van die eiendom wat Hy gekoop het. Hulle is Syne en nie een van hulle sal verlore gaan nie. Die wat Hy gekoop het sal die Heilige Gees na Hom toe trek in opdrag van die Vader (John 6:44). Hulle sal na Hom toe kom, want Hy ken Sy skape by die naam en Hy roep hulle (John 10:27-28). Die Bybel se hulle sal Hom hoor en hulle sal kom en Hy sal hulle red en hulle sal nie verlore gaan nie. Hulle kan nie want die bloed van die Lam is oneindig kragtig om hulle te red.
Verder leer Genesis 3:16 dat daar twee geslagte op die aarde is weens die sondeval. Geestelike saad van Satan en geestelike saad van God. Uit die geestelike nageslag van God kom die Verlosser en Hy red net die geestelike nageslag van God nie die geestelike nageslag van Satan nie. Die sondeval het Satan 'n hand in die skepping gegee en 'n geslag wat hom sou volg. Dis nie asof God mense geskep het vir die hel nie. Hulle het die hel gekies deur self agter Satan aan te loop. Dis soos die storie van die "Pied Piper" wat die kinders agter hom aan verlei het met die fluit. God het sommige kom omdraai na Hom toe sodat hulle nie weens hul eie keuse agter die fluitspeler aangaan nie. As God nie mense omdraai nie gaan die hele mensdom weens hul eie keuse agter die fluitspeler met so tower liedjies aan. Dis hul bose natuur wat hul vatbaar maak vir sy misleidende deuntjies. God draai hulle om deur hulle 'n nuwe hart te gee wat weer na Hom sal luister. Maar dis ook God se reg om sommiges te laat begaan en te gee wat hulle wil hê, want dit is eie hul skuld en hulle verdien dit.
Ek kan afsluit deur te se as God nie ingegryp het en deur die uitverkiesing mense verseker het om gered te word nie, was daar geen sekerheid dat enige mens ooit gered sal word. Dit sou bloot 'n kans gewees het dat sekeres MISKIEN gered sou kon word. Dit sou alles afhang of enige mens OOIT God se verlossing kies en ook gehoorsaam bly. Soos ons die mens ken is daar net GEEN waarborg daarin nie. As God nie vir Noag en Sy gesin uitgehou het nie sou die hele mensdom vergaan het. Deur die uitverkiesing verseker God die redding van sekere mense. Hoe en waarom ek gekies is sal ek nie weet nie, want ek was een van die slegste mense op die aarde. As God nie deur die uitverkiesing sekeres red en ook hul redding verseker nie, wie sou ooit gered word. Ons behoort te weet NIEMAND nie. Die uitverkiesing is dus God se plan van genade en liefde om seker te maak mense word wel gered. As alles aan ons oorgelaat was sou ons net aanhou sondig. Ons is te lief vir die sonde om verlossing te kies en om gehoorsaam te bly (John 3:19-21). Niemand soek of het 'n begeerte na Jesus nie (Rom. 3:11-18). Die mensdom het weens die misleiding van Satan en hul eie keuse om na hom te luister, 'n smaak vir sonde gekry. Die smaak van sonde is soos kondensmelk. Jy sal nie ophou tot die blik leeg is nie. As God dit nie gestop het deur uitverkiesing en predestinasie nie, sou die hele mensdom soos verblinde dwelmslawe agter die fluitspeler aan gedans het die ewigheid in. Maar onthou, hulle het dit gekies. God het Homself aan hulle gegee deur 'n liefdevolle en intieme verhouding. Hulle het daai goedheid en liefde verruil vir die leuens van 'n bedrieër en daarvoor verdien hulle die ewige dood.
Uitverkiesing en predestinasie verseker nie alleen die redding van sommiges nie, maar dit gee ook reg aan wie God is. God is beide genade en liefde, maar ook geregtigheid en heiligheid. Deur die uitverkiesing kom die volle karakter van God tot uitgedruk. Aan die eenkant kry sy liefde en genade uitdrukking deur die redding van sommiges, want niemand verdien om gered te word nie. Almal verdien die ewige dood. Deur die nie-verkiesing van andere, kom God se geregtigheid en heiligheid tot uitgedruk. Die wat gered word kry genade en die wat verlore gaan kry regverdige oordeel (Rom. 9:21-22). In beide gevalle word God se karakter nie misken nie. As almal genade kry, kom God se heiligheid en geregtigheid nie tot Sy reg nie. Indien almal gestraf word, kom God se genade en liefde nie tot Sy reg nie. Deur die uitverkiesing van sommiges en die oorslaan van andere, is daar 'n perfekte balans van beide.
No comments :
Post a Comment