Die Bybel openbaar 'n God wat alles weet, bestuur en self doen. Hy wag nie vir die mens of engele om te reageer nie. Hy het alles haarfyn beplan en maak seker alles gebeur volgens daai plan. Veral Sy verlossingsplan is aan Hom bekend en onder Sy beheer. Daar is geen verassings vir Hom nie. Niks sal daai plan verander nie. Niks van daai plan was onbekend aan die drie-enige God voor Hy geskep het nie. Alles, selfs sonde, is instrumente in Sy hand om Sy goeie plan tot uitvoering te bring. Mense soos Hitler, Saddam Hussein, Osama bin Laden, Obama, Puttin, ens, is almal, gelowig of ongelowig, instrumente in die hand van God. Die besluite wat hul neem is reeds aan God bekend nog voor die aarde geskep is. Almal se keuses en besluite is in God se raadsplan voorbeskik. Niks gebeur wat God nie reeds weet en opgeskryf het nie. Niks is aan Hom 'n verassing nie.
Jy sit hier met 'n meesterbrein bo enige menslike denke wat op elke denkbare plek teenwoordig is in een oomblik en oor alle tye presies elke molekule beheer ooreenkomstig Sy plan. Hy doen dit sonder om die vrye wil van die mens weg te neem en dat Hy die outeur van sonde is. Dit is mense wat uit eie keuse moor en bose dinge doen, maar dit is alles voorbeskik en toegelaat in God se raadsplan om Sy goeie wil te vore te bring. Voorbeelde hiervan is Josef se lewe. Hy is weggevoer deur 'n bose plan van sy broers se kant af, maar God het dit voorbeskik en toegelaat om te gebeur sodat Sy wil sal geskied. Daarom kon Josef op die einde van sy lewe bely: "Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou" (Gen. 50:19-20).
God doen dit op 'n misterieuse bomenslike manier wat ons nie verstaan nie en dit maak Hom God. Hy beïnvloed en beweeg menslike keuses, diere en die kosmos op so manier dat mense uit vrye wil keuses maak wat Hy gewil het nog voor die skepping. Die konsep is onmoontlik vir ons om empiries te ontleed en verklaar. Dit is 'n geestelike konsep wat deur 'n soewereine God self uitgewerk word. Dit is nie 1+1=2 nie. Dit maak wel logies sin op plekke maar ons kan nie verklaar hoe God dit doen sodat die mens nog steeds vrye wil het en verantwoordelik is vir sy keuses nie. Hy voer Sy plan uit sonder om ons keuses en verantwoordelikheid weg te neem. Dit is net die alwyse en alomteenwoordige God wat so iets kan doen. Ons kan dit nie verstaan nie. God se planne en gedagtes is nie logiese verklaarbaar nie. Daar is sekere dinge wat die Bybel sê wat ons moet aanvaar en nie gaan verklaar nie. Ons sal dit moet glo omdat God, God is. Dawid stel dit so: "Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U" (Ps. 138:17-18). Paulus stel dit so: "O, DIEPTE van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?" (Rom. 11:33).
Wednesday, August 19, 2015
Wat beteken "God is soewerein?"
Subscribe to:
Post Comments
(
Atom
)
No comments :
Post a Comment