Die NG kerk se Algemene Sinode het Vrydag die 9e Oktober 2015 besluit dat 'n homoseksuele lewenstyl nie sonde is nie en dat die huwelik tussen twee mans of twee vrouens net so geldig is as die huwelik tussen 'n man en vrou. Homoseksuele huwelike kan nou voortaan deur die kerk geseën en voltrek word terwyl homoseksuele leraars in die amp bevestig mag word. Homoseksuele en heteroseksuele paartjies wat in 'n geloofsverhouding leef hoef nie meer selibaat te leef. Dit beteken seks (insluitende homoseks) voor die huwelik is nie meer sonde nie. Dit impliseer verder dat homoseksuele of heteroseksuele leraars 'n seksuele verhouding buite die eg met 'n man of 'n vrou kan hê solank hulle bely hulle is lief vir mekaar. Hiermee verklaar hulle dat homoseksuele gedrag en dade nie sonde is nie en dat die huwelik nie uit een man en een vrou bestaan nie. Dit verbreek die heilige Skepping van God na perverse immoraliteit.
Die besluit het gelowiges van alle denominasies diep geruk. Die besluit is geneem deur ongeveer 200 afgevaardigdes by die Algemene Sinode. Ongeveer 60% van die afgevaardigdes het ja gestem. Dit verteenwoordig ongeveer 80 uit 1 miljoen mense. Die besluit kom nadat Artikel 1 en Belhar met 'n oortuigende meerderheid 'n "nee" stem gekry het. In die lig hiervan is dit ondenkbaar dat sou daar 'n stemming vir homoseksuele huwelike gewees het, die meerderheid "ja" sou stem.
Daar is nou heelwat gemeentes wat voel die Algemene Sinode het die pad heeltemal byster geraak en maak hulself skuldig aan ernstige leerdwaling; tot so mate dat hulle afvallig geraak het van die ware evangelie. Gemeentes dreig om weg te breek. Baie gelowiges het reeds gesê hulle verlaat die kerk.
Amos vra die vraag: "Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het? (Amos 3:3). Dit wil my dus voorkom die stert swaai nou die lyf. Die Algemene Sinode het 'n besluit geneem ten koste van Bybels gefundeerde gelowiges. Daar is baie ware gelowiges in die NG Kerk wat nog glo in die gesag van die Skrif. Hulle is diep ongelukkig hieroor en voel hulle kan nie meer die pad loop met die Algemene Sinode nie. Die AS hou ook die besluit voor asof beide moontlikhede aanvaarbare oortuigings is binne die kerk. Die AS versoek ook dat mense wat verskil hieroor mekaar sal akkomodeer in een kerk. Dit is tog net logies dat so fundamentele pilaar van die Christelike geloof nie kan saamgaan met iets wat God se skepping verbreek en ontheilig nie.
Martin Luther het gese: "Voordat ek nie deur die Bybel en logika oortuig kan word nie, sal ek nie die gesag van pouse en konsiles aanvaar nie. Hulle weerspreek mekaar. My gewete is gebind deur die Woord van God. Ek kan nie en sal nie enigiets terugtrek nie. Om teen my gewete in te gaan is nie reg nie en ook nie veilig nie. So help my God. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie." Die tyd is lankal ryp vir weer 'n Martin Luther in die NG kerk. Dit lyk of dit in die vorm van 'n hele gemeente gekom het.
Een gemeente het reeds opgestaan en alle bande gebreek met die Algemene Sinode. Die NG kerk in Otjiwarongo het op 13 Oktober 2015 op 'n buitengewone vergadering besluit om alle bande met die NG kerk te breek. Ek vermoed die damwal het gebreek en baie gaan volg. Orals is daar roeringe onder Bybel gefundeerde gelowiges in die NG Kerk oor wat hulle te doen staan.
Met dank aan Ds. Johannes de Koning plaas ek hieronder die verklaring van die NG kerk Otjiwarongo met hul bedanking.
OTJIWARONGO STAAN OP VIR DIE WAARHEID!
Met dank aan Ds. Johannes de Koning plaas ek hieronder die verklaring van die NG kerk Otjiwarongo met hul bedanking.
OTJIWARONGO STAAN OP VIR DIE WAARHEID!
BESLUIT
DIE KERKRAAD VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:
ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS(Bewoording met vergunning aan die NG Kerk Moreletapark).
1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
2. Ons glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen God se wil en plan is.
3. Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
4. Die gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder) in ons gemeente dien nie.
5. Ons wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade, vergifnis en heling bied.
WAT ONS NOU PRAKTIES TE DOEN STAAN.
1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
2. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.
(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)
3. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so ‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG Kerkverband in Namibië sal verbreek.
Nota: Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie, en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie. Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode) dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand. 4: 19 en Hand. 5: 29).
Baie dankie dat julle getrou bly aan God se Woord!
ReplyDeleteDis na my mening 'n wêreldse debat en totaal irrelevant. Die fokus moet op geloof wees en nie op gedrag nie. Wêreldse dade bepaal nie redding nie, maar geestelike dade volgens die nuwe Wet soos gebring aan ons deur die Seun van God. Alle debatte en reaksies op die kwessie van hierdie wêreldse dade kom neer op en uit die vlees. Ons het "Jesusse" nodig om die wêreldse tafels om te keer en "verkwanselaars" met swepe uit Sy Huis te dryf. Die distansiëring van julle gemeente met die algemene kerk is geldig, maar om,die verkeerde redes. My stuiwer in die armbeurs.
ReplyDeleteAbsoluut maligheid. God het gesê dit is sonde. Wie is julle as mens om te sê dit is nie sonde nie, wil julle nou aan God voorskryf wat is sonde en wat is nie. Mag God julle vergewe vir wat julle doen.
ReplyDeleteDie geneigtheid van 'n kerk senode om hulleself bokant die geopenbare wil van God te plaas is glad nie 'n nuwe verskeinsel nie. Dit word op die duidelikse gesien by die Roomse kerke waar die pous meer gesag dra as God self. Ook die charismatiese bewegings steun hierdie tindens. Ek wil graag namens die Gemeente van De Deur vir die gemeente van Otjiwarongo sterkte toewens. Ons het al in 1993 uit verband getree.
ReplyDeleteOns wil graag met julle saamwerk om die Here te dien.
Besoek gerus kgksa.wordpress.com/kgksa-kerke/ of www.vgkdedeur.co.za.
Dankie.
Robert Fourie.
Skriba
Die geneigtheid van senodes om hulleself bokant die geopenbaarde wil van God te plaas is glad nie 'n nuwe verkeinsel nie. Dit word die duidelikste gesien in die Roomse kerk waar die pous meer gesag dra as God self. Ook die charismatiese kerke val maklik in hierdie strik.
ReplyDeleteNamens die Gemeente van De Deur wil ek die Gemeente van Otjiwarongo Gods seen toewens. Ons het reeds in 1993 uit verband getree. (en is kort daarna geskors).
Ons wil graag aanbied om met julle saam te werk om God alleen volgens Sy wil te dien.
Besoek gerus www.vgkdedeur.co.za en ook https://kgksa.wordpress.com/kgksa-kerke/
Seen groete
Robert Fourie
Skriba