Thursday, October 15, 2015

Brief van besorgde NG kerk leraar: Lui die doodsklok vir die Algemene Sinode van die NG Kerk?

Ek deel met toestemming van die skrywer die brief van 'n besorgde NG Kerk leraar oor die onlangse besluite van sy kerk om gay huwelike en leraars toe te laat in die kerk. Daarmee het hulle verklaar homoseksuele begeertes, dade en huwelike is nie sonde en word deur God geseën. Dit beteken God is die outeur en skepper van sonde.

"Lui die doodsklok vir die Algemene Sinode van die NG Kerk? Dis die vraag wat toenemend die afgelope dekade reeds groeiend in mens se bekommerde gemoed kom lê. Sedert sy ontstaan in die vroeë sestigerjare was die rol van die Algemene Sinode vervullend en betekenisvol om eenheid te bevorder tussen die streeksinodes, leiding te gee in internasionale verhoudinge en verbintenisse met die Kerk van Christus wêreldwyd, harmonie te verseker en leiding te gee in huishoudelike kerksake en aktuele vraagstukke, ens.

Veral sedert 2004 se Hartenbosvergadering het hierdie eens vaste fondament begin om krake te vertoon. Wat mens waarneem is ‘n groeiende vertrouensbreuk tussen die Algemene Sinode, sy spreekbuise en Moderatuur aan die eenkant, en streeksinodes en gemeentes aan die ander kant."

Hierdie vertrouensbreuk is gestook deur 4 gebeure:

1. Die hantering rondom die kosbare saak van kerkeenheid sedert 2004.

Die persepsie wat by die gewone lidmaat op straat en by die familiekerke die NGKA en die RCA begin groei het, is dat die VGKSA die NG Kerk-moderatuur aan die korthare beet het. Die VGKSA stel eise, en die NGK skarrel om daaraan gehoor te gee. Die pleidooie van die NGKA en die RCA word nie gehoor nie. Trouens, lg kerke het ervaar hulle is nie eens deel van die onderhandelingstafel waar oor kerkeenheid gepraat word nie. Die NG Kerk se moderatuur het kant gekies, sê hulle.
Die kern van hierdie eise van die VGKSA het veral gewentel om die aanvaarding van die belydenis van Belhar. Hulle eis dit as ononderhandelbaar tot kerkeenheid, terwyl veral die NGKA en die RCA dit afwys.

Lidmate en gemeentes binne die NG Kerk het hoegenaamd nie akkoord gegaan met die styl van die VGKSA tydens hierdie onderhandelings en die NGK-onderhandelingspan se hantering daarvan nie. Daar kon gewoon nie begryp word hoe dit moontlik is dat die VGKSA die gesprekke deurlopend kon intimideer en soveel greep op ons onderhandelaars kon bekom nie. Dit het al meer begin lyk of Kerkeenheid, binne ‘n scenario waar een lidkerk al die ander lidkerke gaan domineer en intimideer, nie die ‘n ideaal van ‘n Christus-gesentreerde Eenheidskerk gaan dien nie. Die persepsie by lidmate het ontwikkel dat kerkeenheid vir die onderhandelaars meer gaan oor Belhar as belydenisskrif (dus polities) en nie oor Christus, die Verlosser in Wie ons almal saamgebind is nie.

2. Die referendum einde 2014/15 rondom die verandering van Artikel 1

In kort: Dit was ‘n groot oordeelsfout en groot verleentheid. Dit het duidelik gedemonstreer dat die NGK-moderatuur in geen werklike voeling met die groeiende agterdog en wantroue by lidmate oor die moderatuur se hele bestuur van die eenheidsgesprekke tot op daardie stadium gehad het nie. Die moderatuur het, ten spyte van waarskuwings, eenvoudig voortgegaan en het die fiasko net nie sien kom nie. Die referendum self was verwarrend en het enorme onsekerheid by lidmate te weeg gebring. Wat verder tot die groeiende wantroue meegewerk het was die vermoede by lidmate dat die moderatuur hule eie agenda agter die skerms bedryf het: “Julle moet stem oor Artikel 1, NIE oor Belhar nie”, is gesê. En na elke uitslag word die uitslag beoordeel as : “Soveel stemme vir Belhar en soveel daarteen” Lidmate en gemeentes het gewoon gevoel hulle is nie met deursigtigheid en eerlikheid behandel nie. Die skade hiervan gaan nie maklik herstel nie.

3. Toestemming aan Wes-en-Suid Kaap Sinode by die Oktober 2015 - vergadering om hul eie belydenisskrifvasstellings te doen.

Dit kan nie. Hermee is die deur nou oopgemaak dat elke sinode in die toekoms oor enige saak waaroor hul sterk voel, hul eie pad kan loop. Die primêre funksie van die Algemene Sinode om as een spreekbuis te dien vir die hele NG Kerk en om sodoende eenheid en eenstemmigheid tussen al die gemeentes en streeksinodes te bevorder, is hierdeur ‘n groot knou toegedien. Op langtermyn gaan die Algemene Sinode hierdie nuutgekose weg nie oorleef nie.
Veel eerder moes die Algemene Sinode die Wes-kaap vasgevat het en nie die stout seuntjie hul sin gegee het nie. Hulle is deel van die Algemene Sinode, ‘n proses om Artikel 1 te verander en waarby hulle ingekoop het, is deurloop. Nou moet hulle, ter wille van die eenheid binne die NG Kerk, die uitslag daarvan aanvaar.

Terloops: Die voorstel van die RCA wat tot hier in die wind geslaan is, se wysheid blyk nou meer en meer duidelik te word: Laat die te stigte nuwe Eenheidskerk self die besluit neem oor sy belydenisskrifte.

Indien hierdie raad gevolg is deur die Moderatuur en hulle hierdie standpunt saam met die RCA die afgelope jare ferm gehandhaaf het, was ons vandag baie verder op die pad van Kerkeenheid en was die Moderatuur heelwat verleentheid gespaar.

4. Jongste besluite van die Algemene Sinode oor homoseksualiteit

Hieroor hoef ons nie veel te sê nie. Genoeg verklarings deur gemeentes, lidmate, leraars en selfs susterkerke het reeds die lig gesien om ons te laat besef dat by verre die meerderheid gemeentes baie sterk standpunt teen die besluite van die jongste vergadering van die Algemene Sinode inneem. Gemeentes gaan nie toelaat dat ‘n handjievol teoloë wat onder die invloed van die post modernisme is hul sieninge op hul afdwing nie.

Dit bring die Algemene Sinode voor sy grootste bestaanskrisis nog: Gemeentes kan nie meer die Algemene Sinode vertrou om Skrifgetroue standpunte en in lyn met haar eie belydenisskrif te gee in aktuele sake nie. En wanneer gemeentes hul Algemene Sinode nie meer met die Bybel en getroue Skrifuitleg kan vertrou nie, is die doodsklok besig om te lui.
Dis duidelik dat die taakspan wat die verslag en aanbevelings aan die sinode bedien het, hul laat lei het deur ‘n vooropgestelde antwoord wat hul graag as besluit van die vergadering wou sien, nl dat seksuele homoseksuele verhoudings aanvaar moet word en nie as sondig of in stryd met die Skrif beskou moet word nie. Die invloed van die post modernisme is duidelik. Daarvoor het hul selektief te werk gegaan deur eers hul antwoord te vind in geselekteerde navorsingstukke uit die biologiese en natuurwetenskappe, en daarna na die Skrif. Skriftekste oor homoseksualiteit word dus beoordeel vanuit ‘n geselekteerde bril wat die menswetenskappe hul gee. Dit veto dus die Skrif. In die Reformasie werk ons anders om: Die Skrif veto. Sola Scriptura.

Die selektiewe aard van die taakspan se navorsing word ook bevestig deur die afwysing van ‘n ope brief aan die Sinode deur ‘n genootskap van gelowiges wat almal in homoseksuele praktyke vasgevang was en deur die krag van Christus se verlossing oorwinning verkry het en nou in gelukkige, normale heteroseksuele verhoudings/huwelike leef. Hoekom? Moet hierdie wonderlike getuienisse nie gehoor word nie? Hulle het selfs ‘n webblad www.LearnToLove.co.za. In stede daarvan, raak mens al gewoond dat by haas elke kerkvergadering waar homoseksualitiet aan die orde kom, die vergadering net eensydig blootgestel word aan die getuienisse van homoseksuele mense wat getuig van hul pyn en lyding en die verwerping wat hulle ervaar. Natuurlik het mens deernis hiermee, en is hulle welkom in die Kerk en moet die Kerk hul met oop arms aanvaar en koester. Dis egter liefdeloos om hul die verlossing in Christus te ontsê. Die getuienisse van die ander word egter nooit gehoor nie, asof hulle nie bestaan nie.

My waarneming is: gemeentes gaan nie die Sola Scriptura beginsel prysgee nie. Gemeentes sal voortgaan om homoseksuele gelowiges te omhels en welkom te laat voel in gemeentes, maar sal ook voortgaan om hul te bedien met die volle boodskap van verlossing van hierdie sonde in Christus. Om net die “label” van sonde van homoseksualteit af te haal soos die jongste besluit van die Algemene Sinode dit nou wil doen, los nie hierdie gelowiges se probleem op nie. Die krag van die evangelie wil hul waarlik vrymaak, nie net “label-free” maak nie.

Groot werk en baie gebed lê voor. Om vertroue te herstel in ‘n verdere rol en bestaansreg van die Algemene Sinode, gaan nie maklik wees nie. Die Algemene Sinode sal homself moet bewys as ferm, met duidelike leiding, versiendheid en dissipline, onwrikbaar getrou aan God en die Woord.

Ons bid vir die nuwe Moderatuur in hierdie verband. Hulle sal die vertroue moet wen van die moderature van die groter NG Familie, ons Susterkerke, en bowenal, die lidmate van die NG Kerk. Anders lui die doodsklok.

Christus hou Self sy kerk in stand.

Düring Cornelius
Potchefstroom

2 comments :

  1. Die grootste enkele probleem rondom die gesprekke oor homoseksualiteit gaan nie daaroor dat daar ʼn behoefte vir so ʼn gesprek mag wees nie, maar wat die motief daaragter is. As dit ʼn uitdaging van die gesag van God se Woord is, is die motief duidelik wêrelds ingestel en nie die werklike soeke na liefdevolle “broederlike” ondersteuning nie.

    Die heteroseksuele samelewing is verseker nie gevrywaar van sondes nie en prediking was in die verlede meestal op sondes van die heteroseksuele gemeenskap geskoei, maar die homoseksuele gemeenskap het nou self aandag op hulle gevestig. Die blote feit dat die verklaarde “christelike homoseksuele gemeenskap” hulself by die wêreld skaar in die opmars teen Christelike waardes, maak die werklike motief van hul aksies binne kerke uiters verdag.

    Die gesprek behoort eerder op bevryding geskoei te word, soos wat dit ook in die heteroseksuele samelewing geld. Daar is geen onderskeid in beide gemeenskappe se sondes nie, maar oorwinning deur die kosbare bloed van Jesus Christus kan slegs in liefde geskied as die Woord as die vernaamste vertrekpunt gehandhaaf word.

    Heling in ʼn gebroke samelewing kan slegs plaasvind as sondes herken, erken en bely word, soos wat die Woord dit stel. Die Woord se definisie van sondes is ononderhandelbaar, want dan moet daar nie gekla word as moord, verkragting, korrupsie en bedrog ook die land teister nie. Die antwoord is eenvoudig dat sonde weer as sonde gepreek word, waar bekering en wedergeboorte deur die Heilige Gees die grondslag vorm.

    Die woorde dat “jy mag nie oordeel nie, want almal doen sondes,” het ʼn vloekwoord geword, omdat dit die wese van vermaning in die Skrif ondermyn. Die “christelike homoseksuele gemeenskap” speel die “veroordeelkaart,” terwyl die wêreld dit “haatspraak” noem. Eintlik beteken dit een en dieselfde ding en gaan alle sondes aangespreek, selfs teen pedofiele, binnekort as “haatspraak” kwalifiseer.

    Hierdie een “hond” gaan nog sy eie baas byt!

    ReplyDelete
  2. 'n Mens moet eerder vra, "waarom het dit die mense so lank geneem om agter te kom dat die NG Kerk 'n priesterdom van en vir totalitariste het?"

    Waarom sou mens so 'n vraag vra, kan ek amper hoor. Loop terug na die tyd toe die NG Kerk staatsgeld (belastingbetalergeld) aanvaar het om eie kweekskole in SA te vestig. Dit was hier in die laat 1950's of vroeë '60's, iemand sal presies kan sê.

    Waarom het die NG Kerk staatsgeld gesoek vir kweekskole en dit nie uit eie fondse finansier nie, soos die Doppers gemaak het, eers in Burgersdorp en later op Potchefstroom?

    Want dit was 'n ooreenkoms tussen die NG Kerk en die Nasionale Party om Apartheid van die kansel af te regverdig sodat die blankes nie teen die tirannie van Apartheid 'n skuldgevoel moes ontwikkel nie. As die kweeksole bloedgeld geniet, moes dit die boodskap van die tiran verkondig, en verkondig het hulle. Dit het gepaard gegaan met afpersing, intimidasie, bedrog, leuens en diefstal alles pragtig gedrapeer in die evangelie van Christus en Sondae aan die mense verkoop.

    Hoekom is ons dan verbaas, of nou eers verbaas, dat hulle hierdie stap geneem het? Dis al jare aan die werk en nou eens het hulle dit reggekry om eers Belhar en nou die demonisering van Christus te bewerkstellig, woordkeuse myne met opset.

    Waar is die NG Kerk op pad heen as die wie opreg in daardie instansie se onlangse optrede geskok is, dit verlaat en elders 'n tuiste vind? Daar is slegs een enkele doel wat 'n totalitaristiese instelling voor oë het, en altyd, heeltyds voor oë het: Om 'n teokrasie daar te stel sodat diegene buite die dampkring van die mag onderdruk kan word. Die NG Kerk het dit vir meer as 100 jaar probeer, onderduims gedoen, en baie male reggekry, so die huwelik met Boezak en Belhar het die regte kinders gebaar wat tot 'n Roomse model van teokrasie sal lei. Of moet ek sê, ly. Dit is onvermydelik, en in die geskiedenis het dit nog nooit op iets anders uitgeloop nie.

    Dws, binne 'n geslag of twee sal die NG Kerk mense lewendig in die openbaar verbrand, onthoof en martel omdat hulle van die hoë priesters verskil of gekritiseer het. Ek meen, daar was groot uitbarstings toe die Doppers in die '70's verklaar het dat Apartheid sonde was. Daar was geen uitbarstings toe honderde mense vir Apartheidsonde opgehang en in die tronk gegooi was nie. Kyk wie is die NG Kerk se vennote. Kommuniste. Hulle het meer as 'n 100 miljoen van hulle eie mense vermoor om die kommunistiese ideologie af te dwing. Waarom sal hulle nou skielik 'n gewete aangekweek het? Hulle het geen vonk van die gewete ervaar om Christus uit die kerk uit te redeneer nie. Trouens daar is fyn beplan en fyn getrap om dit so te doen dat julle eerder akkoord sal gaan as daarteen rebelleer. Begin daar.

    VERSKONING: Ek rig my heelhartige verskoning aan die ware Christene, predikante, en ander leiers wie in die NG Kerk grootgeword het en Christus met hart en siel gedien het, as dit klink of ek hulle by die boosheid van hulle nasionale instituut gevoeg het. Hulle was eerder deur die Heilige Gees bewaar en het behoue gebly tot hierdie dag waar hulle moet besluit waarheen nou.

    Mag hulle weet dat hulle ons broers en susters in Christus is, was en sal bly; die pad vorentoe kan slegs in 'n ware Christelike Kerk gevind word. Ons is op ons knieë vir julle, sonder ophou.

    Tensy die gemeentes die tug van Mat 18 met mening toepas en die hele spul wie die Kerk so mislei en bedrieg het op die straat uitgooi en openlik ekskommunikeer, moet julle vlug en dadelik vlug. Daar is nie salf te smeer aan hierdie soort van goddelose magsbeheptheid nie.

    Daar is net een uitweg: vlug sonder om terug te draai en jou familie te gaan groet. Moenie van julle dakke afkom en eers vir jou goed inpak nie. Vlug nou en vlug vinnig.

    Daar is baie ware Christelike Kerke wat julle met ope arms sal ontvang.

    ReplyDelete