Thursday, January 14, 2016

Die Charismatiese beweging: 'n Groot bedreiging vir die evangelie in Suid Afrika.

Die Charismatiese beweging is 'n groot bedreiging vir die evangelie en gesondheid van die kerk in Suid Afrika. Wat is die kern drywers agter die beweging en hoekom is dit so gewild in Suid Afrika? My gevoel is dit is grootliks gekoppel aan 'n soeke na vervulling, vernuwing en vryheid van tradisionele kerk. Die charismatiese beweging met sy musiek, ligte, wondertekens, profete, apostels en tale spreek die leemte aan. Die ironie is dat net Christus die leemte kan aanspreek. Ek dink ons sit met 'n groot persentasie mense wat bely hulle is Christene, maar nie werklik vir Christus, wat die volheid van God is, ken nie. Jesus het gesê as jy van Hom drink en eet sal jy nooit weer dors kry nie (John 4:13-14; 6:35, 53-54). As mense dus vir Jesus die Here ken en deel het aan Hom, waarom die naarstiglike dors en honger na meer? Die Bybel openbaar die wil van God. Daai wil van God is dat die volheid van God SLEGS op twee pilare rus. CHRISTUS soos geopenbaar deur die WOORD van God. God het verskeie elemente ter ondersteuning van die twee pilare gegee waardeer enige persoon God drie-enig volkome kan ken en vervuld kan wees. Gebed deur CHRISTUS soos geopenbaar in die WOORD alleen tesame met die GEMEENSKAP van die gelowiges in die liggaam van Christus is dit wat God gegee het sodat die kind van God volkome vervuld en toegerus kan wees vir elke goeie werk. Die SAKRAMENTE van die doop en die nagmaal is uiterlike tekens van die evangelie wat God aan Sy kinders gegee het om hulle te voed en herinner aan Sy genade. God het gelowiges in die liggaam toegerus met GAWES om die liggaam te dien sodat die liggaam opgebou kan word tot die eenheid in Christus. Die elemente is wat God gegee het en is genoeg sodat elke kind van God 'n vervulde verhouding met Hom kan hê.

Die beweging is baie aanpasbaar en neem enige kultuurgroep se lewenstyl op en skep idees wat daarby pas. In die westerse wêreld met sy tegnologie en musiek is die groot dryfveer die "worship experience" wat nagejaag word en waardeer sekere mistieke ervarings bekom word wat aan die Heilige Gees toegeskryf word. Die probleem met die ervarings is dat dit nie kan versadig nie en dat dit soos 'n dwelm word. Die "worship-drug" moet al hoe groter en meer intens raak om aan die behoeftes te voldoen. Die "worship-drug" is soos 'n weeklikse inspuiting. Dit is soos petrol op die vuur. Dit het 'n groot effek maar is van korte duur. As dit uitgebrand is, moet daar meer petrol op die vuur gegooi word om dieselfde effek te kry. Mens raak ook gou verveeld en dan moet die musiek en ervaring vernuwe en opgedateer word. Dit word 'n bose siklus wat nooit sal ophou nie. Elke paar dekades verander en intensiveer die "worship experience" om aan die gebruikers daarvan se behoeftes te voldoen.

Ek kom uit die beweging. Ek het dit beleef in die geringste tot die ekstreme vorme daarvan. Dit doen groot skade aan die liggaam van Christus. Dit laat mense se geloof skipbreuk lei wanneer al die beloftes nie waar word nie. Of wanneer mense begin besef dit waarmee hulle besig is, is grootliks slegs in hul kop en voldoen nie aan al die verwagting nie. Na 'n tyd besef mens dit waarmee jy besig is, is nie eg nie alhoewel jy dit vir 'n tyd geglo het. Dit was maar net "mind over matter." Dan is die teleurstelling groot. Dan wonder mens oor jou geloof, want jou hele verhouding met God was gebou op al die ervarings en beloftes. Nou is dit skielik weg. Wat nou. Dan kom jy agter jy het op sand gebou en nie op die Rots wat Christus is nie (Matt. 7:24-27).

Dit is 'n beweging wat nie gedefinieer word deur 'n spesifieke groep met 'n spesifieke doktrine nie. Dit is redelik vry en neem baie vorme aan ooreenkomstig die groep waarin dit posvat. Dit is 'n vermenging van die kultuur van die groep mense met sekere kern idees en praktyke. Dit word hoofsaaklik gedryf deur die begrip "baptism of the Holy Spirit" wat daarop neerkom dat elke gelowige nadat hy wedergebore is, nog iets kort wat dan die ekstra ervaring is genaamd "babtism of the Holy Spirit." Die doping met die Gees bring daarmee saam verskeie gawes en ervarings waarvan die vernaamste tale en profesie is. Die doping met die Heilige Gees word voorgehou as die ware geestelike lewe wat alle Christene mis. Die ervaring waarna die meeste mense soek wat in die beweging is, is om in tale te kan praat. Daar word aan mense vertel dat hulle die ervaring met die Heilige Gees moet soek en dat elke gelowige die geheime taal kan bekom wat dan 'n spesiale gebedslyn direk na die hemel is. Jy kan jou indink hoe belowend so gedagte klink en dit skep 'n soeke by baie onkundige mense na die ervaring om sodoende ook in tale te kan praat. Aan die anderkant is daar baie mense wat nie Christus ken nie wat dan die ervaring soek as bewys van hul kindskap.

Dit is ook 'n vorm godsdiens wat soek na uiterlike tekens en bewyse dat God teenwoordig is. Baie mense verwys graag na die tradisionele kerke as godsdienstig en ritualisties. My ervaring van die beweging is dat dit baie meer vormgedrewe is as wat hulle glo tradisionele kerke is. Aanbidding moet 'n sekere vorm aanneem anders is God nie daar nie. Die "worship" moet gelaai en emosioneel wees anders het die Heilige Gees nie gewerk nie. Die atmosfeer moet reg wees ander sal wonderwerke en bekerings nie gebeur nie. Geloof moet genoeg wees anders werk God nie. Mense moet in tale praat anders is die Heilige Gees nie teenwoordig nie. Profete moet opstaan en die toekoms voorspel, anders praat God nie. Die ironie is God praat beslis, maar hoofsaaklik deur Sy foutlose Woord. Hande moet opgelê word as daar gebid word ander is daar die gevoel dat die wonderwerk nie gaan plaasvind nie. Olie moet gesmeer word op strategiese plekke anders gaan die Satan kan inkom. Negatiewe uitsprake moot nie gemaak word nie, want dit lok die bose. Positiewe verklarings moet gemaak word, want dit skep lewe. Die Shofar moet geblaas word. Gebedsmarse moet onderneem word soos daar op strategiese punte gebid word en die Satan bestraf word. Al die uiterlike praktyke skep 'n vals gevoel van nabyheid aan God. As die praktyke nie teenwoordig is nie, is die kerk "boring." Daar is so baie sulke praktyke en die lys is oneindig. Sodra kerk nie aan die eienskappe voldoen nie, word dit nie as 'n Bybelse kerk gesien nie.

Dit word grootliks aangevuur deur 'n onversadigbare honger na die bonatuurlike. Jesus het gesê dit is 'n bose geslag wat soek na wonders (Matt. 16:4). Hoekom? Want dit vind nie genoegsaamheid in Christus alleen soos geopenbaar deur die Woord nie. Jesus het verder gesê dit is 'n owerspelige geslag. Dit verwys na afgodery. Die menslike begeertes en luste is die dryfveer vir die soeke na die bonatuurlike. Dit is self-versadigde drange na die mistieke en bonatuurlike wat die motief is. Die motief is nie om God te dien in eenvoud en nederigheid nie. Dit is ook rebellie, want dit wil dinge hê soos hulle wil. Wat as God besluit daar sal nooit weer wonderwerke wees nie? Sal die mense tevrede wees om God te dien bloot vir wie Hy is omdat Hy alleen lofwaardig is. Ek dink nie so nie. 'n Persoon het eendag vir my vrou genoem dat sy nie na 'n kerk sal gaan waar daar nie wonderwerke is nie. Het ons die reg om sulke eise aan God te stel? Is God verplig om aan ons allerhande ervarings, tekens en wonders te gee? Ek dink nie so nie. Daar is net nie 'n einde aan die mense se eise nie. Daarom dat Jesus gesê het so geslag is 'n bose geslag. Die onbesnede hart is 'n bodemlose put van afgodery wat gedryf word deur sy eie onversadigbare drange. Dit veroorsaak dat die Bybel verdraai word om by sy voorkeure aan te pas. Die uiteinde is die skep van 'n ander "jesus" wat is soos hulle Hom wil hê (2 Cor. 11:4; Gal. 1:6-9). Dit is afgodery. Die soeke na tekens en wonders is 'n onversadigbare lus wat gedryf word deur 'n bose hart wat die self verafgod.

2 comments :

  1. Jaco, ek is van mening dat jou waarskuwing teen die misleiding en gevare van die Charismatise beweging volkome geregverdig is. Die feit dat jy self ervaring van daardie beweging het, maak jou getuienis soveel meer geloofwaardig, soos ook die geval met Justin Peters se getuienisse en kommentaar. Ek het ook die kommentaar op jou goeie artikel oor die misleiding van Angus Buchan gelees en was verstom oor die mate van verwarde denke en emosionele tirades, soms ook van haat wat daar oorgekook het. Die vertroue wat mense op so 'n manipulerende gevoelsgodsdiens onder leiding van 'n charismatiese leier stel is sekerlik problematies en waarskynlik aanduiding van diepgesetelde vrees, gemeng met ondertone van Afrikanernasionalisme en van manlike chauvinisme, almal verstaanbaar maar nietemin vals en heilloos.

    ReplyDelete
  2. Jaco, ek is van mening dat jou waarskuwing teen die misleiding en gevare van die charismatiese beweging volkome geregverdig is, soos ook jou kritiek op die MMC en herlewingsbeweging van Angus Buchan. Hierdie bewegings is duidelik manipulerend en kan dus nie die toets van die Skrif slaag nie. Die kommentaar en emosionele tirades van sommiges op jou artikel is onthullend oor die verwaarde denke en diep emosionele onstbilitiet van sommige aanhangers van die beweging.

    ReplyDelete