Thursday, July 28, 2016

Wat glo ek oor die eindtye?

So ietsie oor wat ek glo oor die eindtye...

Ek glo 70nc was 'n groot gebeurtenis en het baie verandering gebring ivm. Israel as nasie se toekoms. Ek glo nie 1948 is die vervulling van 'n profesie dat Israel fisies as nasie herstel sal word tot Jerusalem nie. Dit is verseker deel van God se raadsplan, want niks op die aarde gebeur buite God se raadsplan nie. Ek glo egter Hebreërs 7-10 en verskeie ander NT tekste wys dat Israel in die kerk herstel word tot die nuwe hemelse Kanaan (beloofde land), hemelse Jerusalem met 'n hemelse tempel en ewige hemelse Hoëpriester. Op die manier word beloftes en profesieë aan Israel vervul. Dit word volledig vervul en volbring in die voleindiging van Christus se koninkryk op die die nuwe hemel en aarde.

Daar is definitief nie twee nasies van God (Jood en nie-Jood) in die NT nie. God het een nuwe volk in Christus geskep (Eph. 2:14-16). God het nie 'n aparte agenda vir Israel en nie-Jode nie. God het een plan om een volk vir Hom te skep van voor die grondlegging af wat vervul word in Christus. Dit gesê is dit duidelik dat God nie klaar is met Israel nie (Romeine 9-11). Daar is onder hulle 'n oorblyfsel soos onder alle ander nasies wat as natuurlike olywe (Jode) ingeënt gaan word saam met die wilde olywe (nie-Jode) in die ware Israel-stam (Christus). Christus alleen is die ware Israel en Jood en nie-Jood word slegs ware Israel in Christus. Ek glo die kerk is die verdere vervulling van die beloftes aan Israel. Ek glo ook die kerk is Israel - dat die kerk 'n verdere metamorfose en transformasie is van Israel na die ware Israel in Christus. Israel het nog nooit ophou bestaan nie, maar kry 'n voller en dieper betekenis in die kerk wat die Israel van God is volgens die NT. Daar is 'n goue draad regdeur die Bybel van die een volk van God wat progressief meer openbaar word en vorm aanneem tot die volle vervulling daarvan in die liggaam van Christus (die kerk).

Ek verkleineer nie ander sienings nie, solank ons almal vashou aan die essensiële waarheid dat Christus liggaamlik terugkom om te oordeel die wat lewe en die wat reeds gesterwe het soos die apostoliese geloofsbelydenis leer. Ek glo die essensiële belydenis rondom Christus se terugkeer is vervat in die apostoliese geloofsbelydenis. Daarvan kan ons nie afwyk nie. Buite dit kan ons gesels en verskil sonder om mekaar te verkleineer. Verder dink ek daar is mense wat eindtyd-leer verafgod en ook kulties raak daaroor soos die "last days madness" en "left behind" reekse. Daar is mense wat jou as 'n nie-gelowige sal sien as jy nie in die wegraping, fisiese anti-chris en fisiese merk van die dier glo nie. Ek glo in die merk van die dier en dit bestaan reeds. Almal wat aan Satan behoort is reeds gemerk met die merk van die dier. Dis na my mening 'n geestelike merk net soos die Heilige Gees die seël en merk is dat ek aan Christus behoort. Daar is mense wat my al uitgeskel het as "new age," volgeling van Blavatsky en bevorderaar van die anti-chris net omdat ek nie glo daar gaan 'n fisiese merk van die dier, fisiese tempel, of 'n fisiese "monster" in Jerusalem wees nie. Dit grens aan die kultiese waarna ek verwys. My redding is gesetel in Christus en ek weet Hy kom fisies terug. Ek bely dit soos die NT dit leer en dit is nie so ingewikkeld as wat baie teorieë dit maak nie.

Hier is 'n paar goeie boeke om te lees oor die onderwerp. Die boeke is geskoei op my voorkeer oor die onderwerp. Klik op die boek vir meer inligting.








No comments :

Post a Comment