Tuesday, August 30, 2016

Die gevaar van voorspoedsteologie


Wat is voorspoedsteologie

Voorspoedsteologie is die oortuiging dat materiële voorspoed, gesondheid, welvaart en sukses God se uitsluitlike wil vir sy mense onder alle omstandighede is. Hierdie voorspoed is reeds deur Christus aan die kruis bewerkstellig en daarom moet ’n Christen ryk en suksesvol wees. Geen armoede, siekte en lyding is veronderstel om deel van die Christen se lewe te wees nie. Mense wat nie hierdie seëninge ervaar nie, het óf te min geloof, óf leef in sonde, óf saai nie genoeg materiële seëninge sodat hulle dubbeld of viervoudig kan terug ontvang nie. Verkondigers van die voorspoedsteologie beweer dit is nie God se wil dat mense moet swaarkry of fnansiële tekorte moet hê nie.

Ons weet God is altyd goed en dit is nie sy goeie wil dat ons pyn, armoede en lyding ervaar nie, maar die vloek van die sondeval kan nie geïgnoreer word nie (Gén. 3:17-19). God is ook soewerein. Hy heers oor alles en gebruik alle omstandighede om sy raadsplan uit te werk (vgl. Gén. 50:20; Rom. 8:28). Dit sluit alle goeie en slegte dinge in. Verder moet ons onthou dat ons nog steeds onder die gevolge van die sondeval leef (Rom. 8:19-25). Hoewel dit waar is dat Christus die vloek van die sondeval ten volle gedra het (Gal. 3:13), is ons nog op pad na die volmaaktheid van die nuwe hemel en aarde. Intussen sug selfs die skepping en verkeer in barensnood in afwagting van die finale verlossing (Rom. 8:22). Verkondigers van die voorspoedsteologie beweer egter dat Christene nóú reeds die volle seën van die kruis op alle vlakke kan ervaar – geestelik, fisies en materieel. Dit is dus gelowiges se reg om dit op te eis – “name it and claim it”.

Oorsprong

Voorspoedsteologie het sy oorsprong in die “New Thought Movement” wat rondom 1895 begin het. “New Thought” leer dat die geestelike realiteit die ware realiteit is; menslike persoonlikheid goddelik is; die mens ’n ewige geestelike wese is; denke skeppende krag het; siekte sy oorsprong in die verstand het en positiewe denke helende krag besit. Vandaar die idee dat die mens kan skep met sy woorde deur lewe te spreek of positiewe belydenisse te maak – “speak life”. “New Thought” het oorgewaai na die Christendom deur die “Word of Faith” en charismatiese beweging in die vorm van die voorspoedsteologie – “Prosperity Gospel”. Voorspoedsteologie is verder ook verweef met bewegings soos die “New Age” en “Christian Science”.

Maniere waarop voorspoed bekom kan word, is deur praktyke soos geloofswoorde, positiewe belydenisse en om “saad te saai”. Geloofswoorde is om dit wat jy nodig het of begeer in geloof te proklameer en op te eis. Geloofswoorde skop die proses in die geesteswêreld af en jy moet net geduldig wees tot jy dit sien realiseer in die fsiese wêreld. “Saad saai” is om ’n materiële bydrae tot die koninkryk van God te maak wat dan sal groei en meervoudig terugkeer in die vorm van gesondheid, materiële seëninge en sukses. Volgens verkondigers van die voorspoedsteologie het woorde skeppende krag – “mind over matter”. Gelowiges moet dit wat hulle graag wil hê visualiseer, proklameer en in geloof opeis, dan kan God deur hul geloof werk om die begeertes van hul hart te vervul. Dit word geloof in geloof genoem. Vandaar die term “word of faith”.

Gevare

Wanneer ons aanvaar dat Jesus Christus die volle vloek van die sondeval op Hom geneem het, ontstaan die vraag: Wanneer deel gelowiges in die volle seën van die kruis? Verkondigers van die voorspoedsteologie beweer dat ons nóú reeds die volle seën van Christus se verlossings werk aan die kruis kan ervaar. Dié siening word ook die “Kingdom Now”-teologie genoem. Hiervolgens kan gelowiges nou reeds God se volle koninkryksheerskappy ervaar wat onder meer gekenmerk word deur voorspoed, sukses en gesondheid. Die lering beïnvloed ook mense se benadering tot sosiale, politiese, regering- en arbeidsake. Weens Christus se koningsheerskappy word daar beweer Christene is gesetel in hemelse plekke en is dus geregtig op sukses en voorspoed op alle terreine. Hierdie manier van Skrifverstaan is egter ongebalanseerd en lei tot groot verwarring.

Die Bybel maak dit duidelik dat ons die koninkryk sal ingaan deur baie swaarkry (Hand. 14:22). Gelowiges deel wel nou reeds in die genade en versoening van die Here Jesus aan die kruis, maar ons leef nog steeds in ’n gebroke wêreld waar ons onderworpe is aan swaarkry (Hand. 3:19-21). Die Bybel is vol daarvan dat God swaarkry gebruik om gelowiges te dissiplineer en te vorm na die beeld van Christus (Jak. 1:2-4; Hebr. 12:5-11).

Dink jouself in hoe hoogmoedig en arrogant die wêreld sal wees indien ons alles kry wat ons wil hê. Terwyl ons nog ’n sondige natuur het, is ons gedurig blootgestel aan die versoeking om te val vir die grootsheid en rykdom van die lewe. Johannes waarsku dat ons moet vlug van die begeertes van die vlees, die begeertes van die oë en die grootsheid van die lewe (1 Joh. 2:16-17). Calvyn het gesê: “Voorspoed is ’n groter bedreiging vir die mens as teenspoed, want wanneer dit goed gaan, vly hy himself en word vergifig deur sukses.” God en godsdiens word dan as oorbodig of “Derdewêrelds” beskou.

Voorspoedsteologie is dus uiters gevaarlik vir ons verhouding met God. Dit ontken een van die grootste genadegawes van God (swaarkry) waardeur Hy ons nederig hou en vorm na die beeld van Christus (2 Kor. 3:16-18). Ons geloof word gelouter en gesuiwer deur die smeltkroes van die lewe om te kan volhard tot eer van God. Tugtiging is ’n merkteken van kindskap (Hebr. 12:7-8).

Voorspoedsteologie se fokus is humanistiese vergoddeliking. Dit skep valse verwagtings by mense wat nie kan realiseer nie. Dit lei tot teleurstelling en woede sodat God uiteindelik in die beskuldigdebank geplaas word. Uit woede en teleurstelling verloën baie dan vir Christus, maar eintlik het hulle Hom nooit geken nie. Die (af)god wat hulle aanbid het, was nie die ware Christus nie (vgl. Gal. 1:6-10). Hulle het Christus gevolg op voorwaarde dat Hy hulle sal seën. Dit is nie die Jesus van die Bybel nie. Christus het gesê as ons sy dissipels wil wees, moet ons onsself verloën, ons kruis daagliks opneem en Hom volg (Mt. 16:24-26).

Die Here Jesus het verder gesê dat ons dit in hierdie wêreld moeilik gaan hê (Joh. 16:33). Die apostels het geweet wat dit beteken om honger te ly (1 Kor. 4:4-10). Ook die Here Jesus het nie ’n huis of rykdom gehad nie (Lk. 9:57-62). As lyding dan die lewe van die Here Jesus en sy apostels gekenmerk het, wie is ons om ’n lewe van welvaart, sukses en voorspoed op te eis? Dit is dus duidelik dat die Jesus van die voorspoedsteologie ’n ander Jesus is as die Jesus van die Bybel.

Die voorspoedsteologie het ook ’n groot invloed op mense se Godsbeeld. God word beskou as ’n onpersoonlike mag wat gemanipuleer kan word deur geloofswoorde en positiewe belydenisse ten einde te kry wat jy begeer. God word iets soos die gees in Alladin se lamp. Wanneer jy iets nodig het, spreek jy net ’n woord en God moet regstaan tot jou diens. In teenstelling hiermee openbaar die Bybel aan ons ’n soewereine en persoonlike God wat ons nederige aanbidding en gehoorsaamheid eis. Die Bybel openbaar aan ons ’n God wat in elkeen van ons lewens ’n unieke plan het met alle omstandighede – goed en sleg – om sy goeie wil uit te werk.

Voorspoedsteologie verwring die skepsel-Skepper-verhouding. Die skepsel beklee die voorgrond in plaas van die Skepper. Voorspoedsteologie vertrek ook van die idee dat die mens inherent goed is. Dit gee aanleiding tot ’n vorm van werkheiligheid, aangesien die mens verdien om deur God materieel geseën te word op grond van sy goeie dade.

Voorspoedsteologie gee aanleiding tot vals geloof. Geloof word gesien as ’n mag of ’n sleutel waarmee voorspoed en sukses ontsluit word – ’n kommoditeit waarmee handel gedryf kan word. Geloof is ’n tipe hefoom waarmee omstandighede gemanipuleer kan word om te kry wat jy wil hê. Sodoende word geloof ’n menslike prestasie. Die uiteinde is aanbidding en dien van die self terwyl Christus ons juis tot selfverloëning aangespoor het.

Voorspoedsteologie skep ’n ongesonde honger na rykdom en mag terwyl die Bybel leer dat geld die wortel van alle kwaad is (1 Tim. 6:6-10). In teenstelling met die voorspoedsteologie leer die Bybel dat godsaligheid saam met vergenoegdheid ’n groot wins is (1 Tim. 6:6). Ons moet tevrede wees met die voedsel en klere wat ons het (1 Tim. 6:8). Die wat ryk wil word, val vir allerhande begeertes, hebsug en mag wat tot ondergang en vernietiging kan lei (1 Tim. 6:9). Die Bybel leer verder dat ons moet gee sonder om enige iets terug te verwag (Lk. 6:34-35; Mt. 10:8; Rom. 13:8). “Maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Mt. 6:20). Dit beteken ons moet ons tyd, geld en lewens gee as ’n daad van aanbidding vir Wie Hy is en nie om iets te ontvang nie.

Voorspoedsteologie kortwiek die verspreiding van die evangelie. Dit maak die evangelie irrelevant vir die grootste persentasie van die wêreldbevolking wat in uiterste armoede leef. Hoe bring jy die evangelie aan iemand wat in armoede leef en sonder werk sit? As dit waar is dat die evangelie sukses en voorspoed verseker, dan beteken dit niks vir iemand wat in armoede leef nie. Dit is ook ironies dat baie van die vals predikers Afrika toesak en tog bly armoede toeneem. Hul teologie maak geen verskil aan mense se armoede nie. In teenstelling met die voorspoedsevangelie gaan die ware evangelie daaroor dat Jesus Christus vir sondaars gesterf het sodat hulle vrede met God kan hê (Rom. 5:8; 1 Tim. 1:15). Die boodskap is ewe relevant vir ryk en arm.

Die valse voorspoedspredikers wil ons wysmaak dat armoede die gevolg van sonde of te min geloof is. Hoe kan jy vir iemand wat God getrou dien en in armoede leef vertel hy het te min geloof of lewe in sonde? Dit het in die meeste gevalle niks daarmee te doen nie, maar is gesetel in God se soewereiniteit. Die Here Jesus se dissipels het Hom op ’n keer gevra of ’n blinde man se sonde of die van sy voorgeslagte die oorsaak van sy blindheid was (Joh. 9:1-3). Sy antwoord was dat dit niks daarmee te doen het nie, maar dat God dit toegelaat het om sy majesteit ten toon te stel.

Voorspoedsteologie het ’n groot invloed op mense se verwagting van die kerk. Hulle verwag groot en mooi kerke met die beste toerusting, want die kerk moet ’n voorbeeld wees van God se materiële seën. Baie mense glo as dit finansieel goed gaan met ’n kerk, is dit ’n teken van egtheid. Inteendeel, die meeste moderne kerke is niks anders nie as witgepleisterde graf e vol doodsbeendere wanneer dit kom by die waarheid van die Woord. Dit is waar megakerke hulle ontstaan het. Daar is niks fout met ’n groot en mooi gebou nie, maar ons kan dit nie as normatief voorhou nie.

Voorspoedsteologie beïnvloed ook mense se aanbiddingstyle. “Gewilde” kerke het gewoonlik ’n groot verhoog met baie duur musiekinstrumente. Dit is asof jong men se nie meer na ’n kerk wil gaan waar daar nie ’n “worship band” is nie. Kerke wat van klassieke instrumente, soos klavier, orrel, viool, ens., gebruik maak, word as vervelig en outyds beskou. Daar word dikwels gesê dat die gebou, meubels en instrumente die kultuur van ons tyd moet verteenwoordig – glans, roem en sukses. Hoewel daar nie noodwendig fout is met mooi kerke en moderne instrumente nie, laat dit soms ’n vraagteken hang oor mense se motiewe.

Gaan ons kerk toe om God te aanbid of word ons aangetrek deur die glans? Die probleem is dat die voorspoedsteologie ons op ’n baie subtiele manier beïnvloed het sodat ons dink ’n kerk met glans, roem en sukses wandel in die waarheid. Ons moet Christus se woorde onthou dat God aanbidders soek wat eerder in Gees en waarheid aanbid (Joh. 4:24).

Slot

Die voorspoedsevangelie is ’n valse evangelie. Dit verkondig ’n ander Jesus wat nie kan red nie, maar eerder in diens van die mens staan (vgl. Gal. 1:6-10). Laat ons dus ons eie harte ondersoek, want uiteindelik konfronteer Christus elkeen van ons met die vraag: Wie sê jy is Ek?

No comments :

Post a Comment