(Met vergunning van dr. Chris van Wyk, plaas ek sy antwoord op ds. Nelis Janse van Rensburg se artikel waarin hy sy persoonlike standpunt oor die gay-kwessie binne die NG Kerk weergegee het.)
Broer Nelis Janse van Rensburg, ek waardeer die eerlikheid waarmee jy as voorsitter van die Moderamen van die NG Kerk, jou standpunt oor selfdegeslagverhoudings bekend maak. Dit open die weg vir ‘n openhartige gesprek oor die redes en implikasies van die Algemene Sinode 2016 se besluit.
Ek wil jou herinner daaraan dat die Algemene Sinode 2016 sy besluite geneem het op grond van ‘n stortvloed getuienisse uit die kerk. Daar was meer as ‘n 100 gravamina van gewone lidmate en leraars, gemeentes, ringe en sinodes, altesaam meer as 800 bladsye. Meer gravamina as ooit tevore. Dit getuig van ‘n baie betrokke en meelewende kerk.
Die Algemene Sinode 2016 het op grond van hulle langdurige besinning oor die Skrif en die belydenisskrifte daarom: "herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie." Dit is ‘n gewigtige en leidinggewende besluit. Begrond op die Bybel en die belydenisskrifte.
Jou eie standpunt wyk egter daarvan af. En ek hoor nie dat jy dit begrond in die Skrif en die belydenisskrifte nie. Jy begrond dit in jou eie aanname oor God en wat sy wil vir seksualiteit is. Ek sal graag daaroor ‘n paar dinge wil sê ter wille van gesprek.
1. Anders as wat jy beweer, is seksuele oriëntasie nie iets waarmee 'n mens gebore word nie. So lees ek in wetenskaplike artikels. Dit is iets wat ontwikkel aan die hand van jou ervaring van aangetrokkenheid tot ander mense. Dit word met puberteit al hoe duideliker. Jou fisiese, emosionele, seksuele en romantiese aangetrokkenheid speel alles 'n rol.
Seksuele oriëntasie kan daarom moeilik sonder meer as 'n gawe van God beskryf word, soos jy dit doen. Dit staan nie só in die Bybel nie. Dit is dus nie deel van God se openbaring aan ons nie.
Indien jy steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ‘n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as 'n seksuele oriëntasie beskryf deur sielkundiges (opdatering ter wille van duidelikheid: die APA het die begrip "oriëntasie" in DSM V na hewige teenkanting aangepas na "belangstelling", maar beskryf pedofilie steeds as 'n normale belangstelling, nie as 'n afwyking, en in ons taal 'n sonde nie). 'n Mens sou pedofilie dan ook as 'n goeie gawe van God moet beskryf. Iets wat moeilik in ‘n geloofsgemeenskap gedoen kan word.
2. Om verder uit te brei daarop. Seksuele oriëntasie word glad nie in die Bybel beskryf nie. Net geslagtelike identiteit en seksuele gedrag. God het die mens gemaak as twee geslagte, manlik en vroulik (Gen 1:27). Dit is die Bybelse mens- en wêreldbeeld. Die twee geslagte word egter nie as 'n seksuele oriëntasie beskryf nie, slegs as 'n seksuele identiteit. Seksuele identiteit is 'n gawe van God, nie seksuele oriëntasie nie. Wie daarmee verskil, verander of verwerp die Bybelse mens- en wêreldbeeld.
Die Bybel is ook eksplisiet daaroor dat hierdie seksuele identiteit net in 'n huwelik tussen 'n man en 'n vrou uitgeleef mag word. Alle seksuele aktiwiteit buite die ruimte van die huwelik word veroordeel, soos dit uitvoerig in die wet (Genesis 9; 19; Levitikus 18-20; Deuteronomium 19-26), die geskrifte (Rigters 19), die profete (Mal 2), sowel as die evangelies en die res van die NT uitgespel word. Dit gaan dus oor seksuele identiteit en gedrag, nie oor seksuele oriëntasie nie.
Jesus beskryf die gedagtes wat onder andere tot owerspel, egbreuk, prostitusie, en losbandigheid lei as boos (Mark 7:20-23). Hy bevestig die huwelik as die ruimte waar jou seksuele identiteit eksklusief en getrou uitgeleef moet word (Matt 19). Mense wat nie hulleself in 'n twee-geslagtelike huwelik kan uitleef nie, word aangemoedig om selibaat te lewe. Dit sluit almal in ongeag hoe ons vandag oor seksuele oriëntasie dink.
Ook Paulus is helder daaroor in sy briewe (Galasiërs 5; Romeine 1; 1 Korintiërs 5-7; Efesiërs 5; 1 Timoteus 1) soos ook Lukas (Hand 15), Judas (7) en Johannes (Openb 2:18-29). Alle seksuele aktiwiteit buite die huwelik word as porneia– losbandigheid of onsedelikheid, waarmee enige seks buite die huwelik bedoel word (Louw-Nida) – beskryf. Daarmee word bloedskande, owerspel, prostitusie en selfdegeslagverhoudings onder andere afgewys.
3. Die hele Christelike tradisie het daarom onveranderd hierdie Bybelse wêreldbeeld vir 20 eeue aanvaar. Want die openbaring van die Bybel was die uitgangspunt vir leer en lewe. Dit lees ons in Die Didage, Augustinus, Aquinas, Luther, Calvyn, Ursinus en al die Gereformeerde belydenisskrifte. Die huwelik is God se gawe aan ons. Selfdegeslag-verhoudings is konsekwent afgewys. Sonder uitsondering. Selfdegeslag seksuele verhoudings word beskryf as 'n “verwarring van die geslagte” en 'n “misbruik van geslagtelikheid” (Ursinus in sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus 108).
Die besluit van die Algemene Sinode 2016 is hierop begrond. As iemand dit wil verander, sal hy of sy die kerk moet oortuig dat die Skrif en die belydenisskrifte anders oor selfdegeslagverhoudings praat.
Ek wil ook verklaar, soos jy. Aan hierdie boodskap – omdat dit in ooreenstemming is met die Skrif en die belydenis – is my gewete gebonde. Daar is geen kompromie vir my moontlik met 'n diversiteit van standpunte oor geslagtelikheid en seksuele verhoudings nie. Wie daarmee verskil, verlaat die getuienis van die Skrif en die belydenisskrifte, na my oordeel. Selfs as dit 'n Algemene Sinode van die NG Kerk is, soos in 2015 gebeur het.
Uiteindelik bring jou standpunt die Skrif en die belydenisskrifte in gedrang. Dit is die enigste maatstaf wat ons ooit kan aanlê in die kerk. Indien jy ons anders wil oortuig, is die onus op jou om dit uit die Skrif en die belydenis te doen.
Ek staan daarom by die duidelike boodskap van die Skrif en ons belydenisskrifte wat die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as ‘n Goddelike gawe en instelling aanprys, en selfdegeslagverhoudings onomwonde afwys. Ek kan nie anders nie.
Chris van Wyk
18 September 2018
No comments :
Post a Comment