Friday, June 12, 2015

Heiligheid vs Heiligmaking

Ek sien twee beginsels wat die Woord leer. EEN: Niemand sal God sien sonder heiligheid nie (Heb. 12:14; 1 Pet. 1:16). God het die standaard gestel dat Hy heilig is en as iemand in Sy teenwoordigheid wil wees, moet hy ook heilig wees. Die vraag is nou, is enige mens ooit op enige moment op sy eie heilig al lewe hy hoe goed? Die antwoord is nee. Die Bybel sê ons beste werke is verwerplik voor God (Is. 64:6). Om te beweer ons kan God behaag deur ons dade is om onsself gelyk te stel aan God. God se heiligheid is onmeetbaar en ons sal nooit volledig soos Hy kan wees nie. Tog het God die mens aanvanklik heilig en perfek geskep en was daar nie 'n probleem vir die mens om in God se teenwoordigheid te wees nie (Gen. 1:27). God het ook die eerste mense geestelike wesens geskep wat inwoon was deur die Heilige Gees (Gen. 2:7). Let op, "Heilige" Gees. God is heilig en geen sonde kan in Sy teenwoordigheid wees nie. Met die val van Adam en Eva is die ganse wese van die mens besmet met sonde en het hy geestelik dood gegaan. Die Heilige Gees het hom verlaat (Gen. 6:3). Die mens se hart het verval in slawerny aan die sonde in hom (Gen. 6:3). Dit beteken ek het geestelike opwekking en heiligheid nodig voordat ek in God se teenwoordigheid kan wees. Niemand sal die hemel ingaan wat onrein in wese is nie. Sonde word slegs in Christus weggevat. Christus was ons met Sy bloed so wit soos sneeu (Is. 1:18; Rev. 7:14). Hy hou ons ook wit onder Sy kombers van geregtigheid (1 John 1:7-10). Dit is op grond van Sy heiligheid wat Hy aan my skenk waarmee ek die hemel kan ingaan (2 Cor. 5:21). Op my eie sal ek nooit kan ingaan nie. Dit is wat mens posisionele heiligheid noem. Dis soos om die status te ontvang wat jy nog nie volledig is nie. Sonder die status van heiligheid sal niemand God se koninkryk ingaan nie. Jesus het gesê 'n persoon moet eers wedergebore word deur die afwassing van sy sonde deur Gees voordat hy die koninkryk van God kan ingaan (John 3:5). Om wedergebore te word is om skoon gewas te word in die bloed van Jesus. Dis om te deel in Jesus se hele lewe, perfekte gehoorsaamheid, dood, opstanding en hemelvaart. Dit is om in Hom gevind te wees (Phil. 3:8-9). Sonder perfekte gehoorsaamheid aan die wet van God, sal niemand God sien nie en bly God se oordeel op ons. Jesus het die wet perfek gehou in Sy aardse lewe vir my onthalwe. Sy gehoorsaamheid word myne asof ek die wet volkome gehou het. Daarom gaan dit alles oor Hom en nie my eie poging nie. Daarom leer die Bybel dat ons, ons oë gerig moet hou op Jesus wat die uitvinder, outeur en perfekter van ons geloof is (Heb. 12:1-2)

TWEE: Dan is daar progressiewe heiligmaking. Die baba wat nou net geestelik gebore is het 'n sekere karakter. Daai karakter is 'n strewe na heiligheid. Hy kan nog nie loop of praat nie, maar hy is klaar 'n kind van God weens geestelike geboorte. Maar hy moet nou leer loop, praat, eet en later hardloop. Dit is 'n opwaartse kurwe vanaf geboorte. Hy bly nie 'n baba wat nooit leer praat en loop nie. Nee, daar is konstante groei. Die heiligheid wat hy ontvang het met geestelike geboorte in sy wese, begin nou stadig uitwerk na sy hele lewe (Phil. 2:12; 3:13-14). Die Griekse woord vir "uitwerk" in die eerste vers beteken om op 'n deurlopende basis aan iets te werk met vrug. Maw. die heiligheid wat ons as status ontvang het moet soos suurdeug deur ons hele lewe deurgewerk word totdat dit sigbaar word in alle aspekte van ons lewe met goddelike vrug. Die houding waarmee dit uitgewerk word is met die respek en vrees van die Here, wetende dat die verlossing wat ons ontvang het slegs deur genade alleen 'n gawe van God is en nie gebaseer is op enige poging van my kant af nie. Maw. die kind van God groei van 'n baba na 'n volwassene om al hoe meer die Christus-natuur, wat hy ontvang het by geestelike geboorte, te reflekteer. Dit is 'n prose en gebeur nie oornag nie. Dit kring uit van die middel van sy wese na die uithoeke van sy lewe. Dit is soos om 'n klip in die middel van 'n dam te gooi. Dit kring uit tot op die damwal. Jy raak meer soos Jesus. Groei en die dra van geestelike vrugte is die bewys dat ek wel geestelik gebore is (Gal. 5:22-23). As iemand nooit groei in heiligmaking, kennis en insig van Jesus nie is daar goeie rede om te vra of hy werklik geestelik gebore was of is hy dalk nog geestelik dood. As 'n baba nooit begin loop, hardloop of praat nie, is daar groot fout. Die tweede beginsel staan bekend as progressiewe heiligmaking. Dit is die bewys dat die eerste een wel plaasgevind het. Iemand wat in sonde bly leef sonder om berou te voel daaroor is dalk nooit geestelik gebore nie. As die Gees in jou kom woon sien jy die vuil kolle op jou kleed raak en wil dit was. Jy was dit in die bloed van die Lam. As jy nooit vuil kolle raaksien nie of dit pla jou nie, is daar dalk groot fout. Hoe kan iemand wat vir Jesus lief is bly leef in dieselfde sonde wat Jesus se dood veroorsaak het? Hoe kan iemand die sonde wat die Seun van God se dood gekos het goed praat? Wat is die doel van Jesus se dood en opstanding as dit geen verskil in ons lewe maak nie? (Lees Romeine 6-8). Geloof sonder dade/vrug is dood.

No comments :

Post a Comment