Wednesday, August 9, 2017

Die gevare van 'n swak Skrifbeskouing

Die inligting in die artikel kom uit Facebook kommentare van 'n vriend, emeritus Ds Andries Louw.

Sy skrywe sal ons help om reg te verstaan wat vandag in baie kerke gebeur.

Die Bybel openbaar drie hoof pilare vir 'n Christelike wêreldbeskouing. Christus-gesentreerd, Trinitaries-gefokus en Bybel-gefundeerd. 'n Afwyking hiervan het verskillende dwalinge tot gevolg soos deur Ds Andries Louw uitgewys.

Ds Andries Louw skryf:

Ek is van oordeel dat indien ons vanuit die sentraliteit van God in die formulerings van die belydenisskrifte die belang van die Skrif as minder belangrik definieer, dit die deur vir twee sake oopmaak: een, die relativering van gedeeltes in die Skrif wat vir die (post)moderne mens ongemaklik en selfs onaanvaarbaar voorkom; en twee, die byvoeging van ander "kennis" of insigte wat nie Bybels is nie. Die eerste is veral tipies van liberale of sogenaamde revisionistiese teologie wat sekere Skrifuitsprake in die lig van die sentrale boodskap wil relativeer of ignoreer. Dit gebeur bv. wanneer daar geargumenteer word dat die verbod op homoseksuele praktyke gerelativeer word vanuit die liefdesgebod. Dit impliseer egter dat die aanvanklike verbod nie uit (God se) liefde voortgespruit het nie, maar uit die moderne begrip van onverdraagsaamheid of huigelagtigheid (Eng "bigotry"). Dit sou God tipeer as liefdeloos. Goeie en deeglike navorsing oor die aard en praktyk van homoseksualiteit toon egter onweerlegbaar die negatiewe en selfs dodelike gevolge van daardie praktyke en lewenstyl, wat, selfs al sou dit nie in die Skrif veroordeel word nie, gewoon vanuit 'n logiese en verstandige oorweging van lewenskeuses, of as jy wil vanuit humane oorwegings, afgekeur en en verwerp moet word.

Die tweede gevaar, naamlik om die deur vir ander, "nuwe" kennis oor God en die mens oop te maak. Dit gebeur in die mistiek, wat meen om totaal nuwe insigte te ontdek of na vore te bring wat nie in die Skrif te vinde is nie. Dit gebeur bv in radikale mate in die boek (en fliek) van Young "The Shack" waarin God op onBybelse maniere voorgestel word en eintlik 'n nuwe, ander boodskap as die Bybel verkondig.

Om saam te vat oor die twee gevare wat ek hierbo genoem het: die gereformeerde beginsels van die betroubaarheid en genoegsaamheid van die Skrifopenbaring moet ons bewaar teen beide dwalings, om iets weg te laat of te ignoreer en ook om iets by te voeg. Die interessante en tegelyk hartseer werklikheid in die NG Kerk vandag is na my mening die populariteit van die "emerging church movement" waarin beide elemente van liberale teologie en van die mistiek sterk figureer. Bv ECM-leier Rob Bell het onlangs in onderhoud met Oprah oor homoseksualiteit gesê dat die Christelike kerk nie meer kan vertrou op woorde wat 2000 jaar gelede geskryf is nie (sic !). En verder word daar in die ECM al meer oorgeleun na die mistieke spiritualiteit en praktyke en leerstellings van die RKK asook van die oosterse mistiek. Tyd en spasie ontbreek om in detail hierop in te gaan. Ek noem egter die feit dat talle new age praktyke nou geïnkorporeer word soos "contemplative spirituality/prayer", "breath prayer", "fractals", laberinte ens,ens. Radikale navolging van die mistiek kan selfs lei tot 'n totale navolging van Oosterse mistiek en die versaking van die Christelike geloof soos wat inderdaad met 'n Pretoriase predikant gebeur het.

No comments :

Post a Comment