Tuesday, November 24, 2015

NG Gemeente Albertyn verklaar dat die Alegemene Sinode die verlossing van Jesus en Skrifgesag misken.


Die NG Gemeente Albertyn verwerp die AS se Skrifgebruik. Daar is baie waarhede vervat in die kort verklaring. Die vernaamste vir my is die waarheid rondom die verlossing van Jesus. Christene is mense wat wedergebore is en van sonde bevry is. Wat hul sonde met berou bely het en aktief daarteen stry met die krag van die Gees. Dit is nie mense wat slawe van sonde is nie. Dit is wel mense wat foute maak en soms swig onder versoeking en struikel. Daarom skryf Johannes dat ons, ons sondes kan bely en gereinig word deur die bloed van Jesus (1 John. 1:7). Dit is nie mense wat hul sonde ontken nie, maar herken en bely met berou en versaak (1 John 1:8-9). Maar Johannes skryf ook dis nie mense wat 'n praktyk van sonde maak nie, want die Gees en die onverganklike saad van die Woord leef in hulle (1 Pet. 1:23). Mense wat wedergebore is, leef nie in sonde nie (1 John 3:5-10). Die Gees wat inwoon in gelowiges stel hulle in staat om oor sonde te heers deur Sy leiding (Gal. 5:16-25).

Lees gerus hul verklaring hieronder en die punte wat hul maak rondom sonde en die oorwinning oor sonde.


1. In die lig van God se Woord glo ons dat die beoefening van homoseksualiteit ’n sonde is en daarom teen die wil van God is (Lev. 18:22; 20:13; Rom. 1:24-28; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim. 1:9-10).
2. Ons glo dat die Skrif duidelik daaroor is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik teen die wil van God is (vgl. bv. 1 Kor. 7:36).
3. Ons erken dat gelowiges, totdat die Here hulle kom haal, teen sonde sal stry, daarom aanvaar ons elkeen wat in Jesus glo en bereid is om teen sy/haar sonde te stry, met ope arms as lidmate van die gemeente (1 Tim. 6:11; 2 Tim. 2:22; Rom. 15:7).
4. Ons glo dat elkeen wat in Jesus Christus glo met die krag van die Heilige Gees oorwinnend oor sy/haar sonde kan stry (Rom. 6:1-6; 1 Kor. 6:11; 10:13).
5. Ons bely vanuit die Skrif dat ’n huwelik slegs die verbintenis tussen een man en een vrou is (Gen. 2:24; Ef. 5:21-33).
6. Ons glo verder dat die Skrif op geen manier toestemming gee vir ’n burgerlike verbintenis tussen twee mense van dieselfde geslag nie, ongeag of daardie verbintenis gekenmerk word deur liefde en trou.
7. Ons spreek ons diepe kommer uit oor die manier waarop die Skrif hanteer word. Ons sien in die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings ’n duidelike miskenning van die gesag van die Skrif.
8. Ons is diep bekommerd oor die verwarring wat daar veral by lidmate oor hierdie aangeleentheid bestaan, veral by lidmate en gelowiges wat worstel met hulle seksuele oriëntasie.

Die Kerkraad van Albertyn gemeente sal, nadat die Noordelike Sinode reageer het op die AS se besluit oor selfdegeslagverhoudings, besluit oor moontlike inskakeling by ’n ander streeksinode van die NG Kerk en oor die betaal van eweredige bydraes.

Wednesday, November 18, 2015

Een strewe vir Een geloof in Een Here Jesus vir Een Kerk. "Mag hulle Een wees soos Ons Een is!"

Die kerk van die Here Jesus is nie die NG kerk of die Doppers of die Baptiste of die Hervormers of wat ook al nie. Die kerk is die een liggaam van Christus. Die Woord is die enigste gesag oor almal en die saak oor die gay debat raak alle gelowiges. Die praktiese dag tot dag bestuur van 'n gemeente is wel hul eie saak, maar daar is net een geloof, een hoop, een Woord, een Here Jesus en een liggaam. Ons is verbind deur 'n gemeenskaplike verlossing deur 'n gemeenskaplike Here Jesus. Toe Judas aan die gemeentes skryf om te stry vir die geloof het hy hulle herinner dat ons een "common faith" het waarvoor ons stry. “Beloved, although I was very eager to write to you about our common salvation, I found it necessary to write appealing to you to contend for the faith that was once for all delivered to the saints” (Jude 1:3). In die verband is daar nie my geloof en jou geloof en jou kerk en my kerk asof ons twee verskillende godsdienste is nie. Ons is saam in die stryd.

Ek kom ook mense teë wat in die NG kerk is en opinies huldig oor die gay-debat, die maagdelike geboorte van Jesus of die opstanding van Jesus. Ek het ook broers in die NG kerk met wie ek saam gesels oor die sake. My moeder dien nog daar op die kerkraad en ek help haar. Ek het daar groot geword en gooi nie net alles weg nie. Dit raak my op vele terreine direk. Die oomblik as 'n sogenaamde Christen opstaan en beweer gay is nie sonde nie en die Woord is nie onfeilbaar nie, of Jesus is nie deur 'n maagd gebore nie, of het nie liggaamlik opgestaan nie, raak dit my direk. Dit is 'n stryd vir een geloof in een Here Jesus. Ongelowiges dink nie aan my kerk en jou kerk nie. Hulle sê Christene is verward en weet nie wat hulle wil glo nie. Die oomblik as iemand sy geloof en liefde bely in die Here Jesus ervaar ek 'n band deur een geloof. Dit is wat ek in my hart beleef uit die Woord oor kerk.

Ek ervaar ook 'n groot las wat ek glo deur die Here opgelê is in die verband. Kerk is vir my veel groter as net die NG kerk of my gemeente en jou gemeente. As gelowiges huil, huil almal wanneer die Woord vernietig word. As daar herlewing is iewers en oorwinnings word gesmaak,  juig ons saam. As iemand wat myself voorberei vir die bediening is die kerk van Jesus vir my belangrik en nie net my ou klein gemeente nie. As Christene in Sirië doodgemaak word huil my hart. As die NG kerk die Woord verlaat en die skape word mislei, huil my hart. As die kerk in Zambië floreer jubel ek. As die kerk in Amerika terugkeer na die Woord verbly ek my in die Here. As Europa deur liberale teologie oorgeneem word, dan bid ek en smeek "red U kerk." As die charismatiese beweging kerke plaaslik oorneem, waarsku ek. Daar is een Vader, een Gees en een Here Jesus wat die las op my hart plaas want dit is sy mense. Ek glo dit behoort waar te wees vir ons almal en was ook die Here Jesus se gebed en begeerte.

Die Here Jesus het kort voor Sy inhegtenisname soos volg gebid: "Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo - dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het" (John 17:20-21). Sy gebed was nie net vir Sy eie dissipels nie. Sy gebed was vir elke gelowige wat deur die eeue in Hom sou glo. Ons gebed en strewe behoort dieselfde te wees as ons Hoepriester sin. Een strewe vir een geloof in een Here Jesus vir een Kerk.

Tuesday, November 17, 2015

Is die NT stil oor homoseksualiteit soos sommige beweer?

Is die NT stil oor homoseksualiteit soos sommiges beweer? Of sê dit eintlik baie, maar op 'n ander manier. Kan mens regtig die gevolgtrekking maak omdat die NT nie die woord "homoseks" gebruik nie, sê dit niks oor homoseksualiteit nie en daarom is dit reg? Daar is baie manier om iets te sê. Ek kan so hard in een rigting praat dat ek die ander rigting outomaties uitsluit sonder om iets daaroor te sê. In die opsig se die NT dan vreeslik baie oor die huwelik op so manier dat dit homoseksualiteit uitsluit as die wil van God vir die Christelike huwelik. Behalwe dit is daar tog 'n paar duidelike en sterk uitsprake direk teen homoseksualiteit in die NT (Rom. 1:18-32; 1 Cor. 6:9; 1 Tim. 1:10). Ek dink een van die duidelikste beskrywings van die daad en oorsaak van homoseks is in Romeine 1.

Pro-gay propagandiste beweer die NT sê nie veel oor homoseks nie. Ek dink die teendeel is waar. Romeine 1 maak na my mening een van die sterkste uitsprake in die hele Bybel teen homoseks. Dit verklaar dat homoseks 'n daad van rebellie teen God is. Dat die oorsprong daarvan gesetel is in afgodery; die verandering van wie God is na iets anders. Dit rebelleer teen die skeppingsorde van God. Dit rebelleer teen die wese en karakter van God. Dit is die straf van God oor mense wat Hom verwerp inruil vir 'n god van hul eie skepping. Romeine 1 bevestig wat die OT leer (Lev. 18:23; 20:10) aangaande homoseks. Dit verklaar homoseks as 'n direkte uitvloeisel van afgodery (soos enige ander sonde) en bevestig die OT se boodskap dat dit teen die natuurlike skeppingsorde van God is.  Die boodskap van die hele Bybel het net een stem oor menslike seksualiteit en die huwelik en dit is dat God die mens man en vrou geskep het met komplimenterende seksualiteit om een vlees te word. Die prentjie aangaande die huwelik is so duidelik geskilder dat dit geen ruimte laat vir homoseks nie. Jy moet nuwe goed by skilder as jy wil hê die beeld van die huwelik in die Bybel moet homoseks insluit.

Die uitsluitlike doel van die eenheid tussen man en vrou (nie man-man en vrou-vrou nie)  is om God te verheerlik deur 'n goddelike nageslag (Mal. 2:15). Homoseksualiteit pas in by die plan van God met die huwelik nie. Hoe kan mens dan beweer omdat dit nie genoem word nie, is dit ingesluit. Daar is geen stilte hieroor nie. God het gekies om eerder te verduidelik wat die huwelik is as om te verduidelik wat dit nie is nie. Soos ek reeds gesê het daar is verskillende manier om iets te sê. Jy beskryf die item ter uitsluiting van die teendeel. Homoseks is 'n direkte rebellie teen die waarheid. Mense wat nie God aanvaar vir wie Hy is nie, verander die waarheid oor wie Hy is na 'n leuen en hou dit voor as 'n nuwe waarheid wat kontra die Woord van God is. Die uiteinde is die skepping van 'n nuwe god wat dan lei tot Paulus se gevolgtrekking dat sulke mense afgodery bedryf. God se oordeel oor diegene wat afgodery in die vorm bedryf is om hul oor te gee aan hul eie sondige drange deurdat mans en vrouens nou brand met seksuele begeertes na mekaar. Gay propagandiste beweer dit is nie homoseks binne 'n liefdevolle huwelik wat hier veroordeel word nie, maar eerder homoseks buite 'n liefdevolle verhouding. Ek verstaan dan nie lekker hoekom straf God mense wat afgodery pleeg met iets wat nie sonde is nie. Dis mos geen oordeel nie. Romeine 1 verduidelik dan juis dat God sulke mense straf deur hul oor te gee aan die onnatuurlike daad. Hoekom straf en onnatuurlik as die daad wel natuurlik is. Wat se straf is daar in iets goeds. As twee gay ateïste wat God haat in 'n liefdevolle huwelik staan is dit mos nie straf nie? Inteendeel hulle beoefen dan homoseks juis op die "regte" manier volgens die pro-gay teoloë.

Inteendeel, honoseks is teen die skeppingsorde van God en hoe Hy die mens geskep het (Gen. 1:27; Matt; 19:4). Daarom kan Romeine dit as onnatuurlik en 'n straf beskou teenoor die mense wat weier om aan God te onderwerp vir wie Hy is. Die direkte uitvloeisel van die skepping is dat 'n man sy vader en moeder se huis sal verlaat en 'n vrou neem, haar aankleef en een met haar word (Gen. 2:24). Die man kom uit 'n gesin en vorm weer op sy beurt 'n nuwe gesin deur te verenig met 'n vrou wat ook uit 'n gesin kom. Dit is die skeppingsorde van God. Dit was baie goed in God se oë (Gen 1:31). Daar is baie meer in Genesis 2:24 as net die skepping van man en vrou. Dit impliseer dadelik gesin en familie as die basis vir die volgende huwelik. Dit bevestig ook die goddelike huwelik as die bron van prokreasie (Gen. 1:28). Die wat homoseks ontsondig en as deel van God se skepping verkondig, is besig om 'n nuwe godsdiens te skep wat afgodery is. Dit is nie die God van die Bybel nie.

Richard B. Hays, in sy kommentaar op Romeine 1 verduidelik soos volg:

(Richard B. Hays, The Moral Vision of the New Testament: A Contemporary Introduction to New Testament Ethics)

To blatantly deny the exclusive normativity of male/female sexuality, hence, is par excellence an expression of the refusal to honor God as God that Paul sees as the core problem with pagan idolatry.

When Paul writes that same-sex sex is “against nature,” he means it goes against the order of creation, as “nature” for Paul means the created order. Those who engage in sexual relations with people of the same sex are acting “against nature” in defiance of the Creator.

When rebellious human beings “exchange” their created sexuality for same-sex intimacy, they manifestly show how sinful human beings have “exchanged the truth about God for a lie” (Romans 1:25, 388).

The created order, the “natural” pattern, points toward the exclusivity of heterosexual marriage as the context for appropriate sexual intimacy. The entire Bible supports this understanding. This normativity of heterosexual marriage provides the context for the Bible’s univocally negative explicit mentions of same-sex sexual activity (390).

The fact that some human beings might feel a strong sexual attraction toward people of the same sex is not to be understood as necessarily good and trustworthy. That these desires and impulses happen to be involuntary is not evidence that they are appropriately acted on. Due to the depth of the power of sin in the human heart, even our involuntary impulses may well be corrupted.

Wednesday, November 11, 2015

NG Kerk Marquard verduidelik: Ons is verbind tot die Woord van God en daarom tot die huwelik tussen man en vrou!


Uitganspunt: In verbintenis aan die Here en sy Woord en in liefde aan die NG Kerk Marquard en daarmee aan die verband van kerke binne die NG Kerk sê ons hiermee waarmee ons, ons kan versoen en waarmee nie. Hierdie is nie ‘n stryd met mense nie. Met dieselfde liefde waarmee ons met die mense van Marquard omgaan, sal ons met die wat van ons verskil ook omgaan. Om stil te bly sal beteken dat ons dit wat ons glo verloën en dit kon ons nie doen nie.
  1. Die Bybel is die enigste betroubare bron wat ons kan begelei om geloofsbesluite in verantwoording aan God te maak. Alle ander hulp in hierdie taak aanvaar ons net omdat dit in ooreenstemming met hierdie Woord is.
    • Dit is bepalend vir ons verhouding met Hom,
    • die lewe wat ons voor Hom lewe en
    • die verhoudings waarin ons staan, insluitende die aard van gesinne. 
Aanbeveling: Ons is oortuig dat in die lig van die hele Skrif, permanente homoseksuele verbintenisse en – huwelike nie naas die huwelik of as ‘n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie. Die Skrif is konsekwent oor sy getuienis oor die heteroseksuele aard van die huwelik en net so konsekwent teen homoseksuele gedrag. Verder is daar geen internekritiek teen bg. standpunte in die Skrif te vind nie. Verder kan slegs homoseksuele persone wat hulle weerhou van homoseksuele aktiwiteite deel van die ampte van die kerk wees. Gemeentes behoort daarop te let om homoseksuele mense met deernis en liefde binne die veilige ruimte van die gemeente te versorg.
Die roete wat die kerkraad en gemeente in hierdie beslissing volg.

Om tot ‘n besluit rakende ‘n saak soos homoseksuele verhoudings te kom gaan ons soos volg te werk:
  • Raadpleeg die hele Bybel om vas te stel wat die Bybel oor die huwelik en homoseksuele verhoudings sê.
  • Kyk of dit wat die OT oor die huwelik en homoseksuele verhoudings sê, ook in die NT gesê word.
  • Stel vas of die Bybel self kritiek lewer op dit wat in die Bybel oor die sake gesê word.
  • Indien daar nie direkte verwysings is nie, soek na soortgelyke verhale wat lig kan werp op die sake waaroor daar na duidelikheid gesoek word.

Huwelik: Gen 1:27; 2:24; Jesus in Markus 10:1- 12; Ef. 5

Voorbeelde van interne kritiek.

Poligamie meer as een vrou: Daar is interne kritiek. Die verhaal van Abraham wat met sy slavin gemeenskap het en haar later moes wegstuur omdat dit nie gewerk het nie. Die NT gee nie een voorbeeld van poligamie onder gelowiges nie, ook hoe die huwelik tussen een man en meer vroue op ‘n Christelike manier geleef moet word nie.

Om mense te stenig: Om mense wat sondig te stenig soos ons uit die OT aflees, is daar wel interne kritiek. Johannes 8:1-11 is ‘n voorbeeld daarvan.

Wat die huwelik tussen een man en een vrou betref is die hele Bybel helder en duidelik dat dit die manier is waarop lewensgemeenskap gelewe en gevier moet word.

Homoseksuele verhoudinge: Levitikus 18:22 ev. Romeine 1:26 ev. 1 Kor. 6:9-11

Rakende homoseksualiteit is daar kontinuiteit tussen die OT en die NT.

Rakende homoseksuele verhoudings is daar nie;  

  • ‘n Opdrag daartoe soos in die geval van die huwelik nie.
  • Interne kritiek teen die uitsprake in die OT daaroor nie, die NT spreek hom op dieselfde manier daarteen uit as wat ons dit in die OT vind.
  • Daar is ook nie ‘n soortgelyke verhaal wat ons kan laat vermoed dat dit by die wil van God inpas nie.
Die Bybel is konsekwent in die afwysing van homoseksuele verhoudings. 

Die liefde as opdrag om alle mense lief te hê, kry ons in die Bybel. God het sondaars lief (Rom. 5:8). Daarom het die kerk die opdrag om alle mense, alle sondaars en daarom alle homoseksuele mense, ook die wat dit ook beoefen, lief te hê. God se liefde bied vergifnis en ‘n nuwe lewe aan alle mense en dit bly die taak van die kerk om wat God doen in die wêreld voort te sit.

Dit is onmoontlik om te verander. In kerke in die buiteland en in Suid-Afrika waar daar ‘n bediening aan homoseksuele mense gebied word en waar hulle begelei word tot ‘n veranderde lewe, is daar baie voorbeelde van lewensverandering wat die gevolg van geloof in Jesus Christus is.

Jy word so gebore. Identiese tweeling studies het getoon dat daar nie ‘n verband is nie. Daar is nog nie so ‘n geen ontdek nie.

Lidmate wat die kerk wil verlaat omdat hulle nie met die AS se besluit oor selfde geslag verhoudinge saam stem nie. 

Eerder as om die kerk te verlaat word jy aan geraai om die pad wat die kerk in die verlede in tye van gelooskrisis gevolg het. Dit is om te doleer: Om te doleer beteken dat die lidmaat of kerk wat daartoe oor gaan, in ‘n staat van rou gaan oor die dwaling van die kerk, sonder om die kerk te verlaat.

Kennis aan die betrokke kerklike vergaderings.
Hiervan gee die lidmaat of kerk aan die betrokke Ring en Sinode kennis van die stap wat geneem word, met opgaaf van redes waarom die stap geneem word. Hiermee wys die kerkraad die besluit van die AS rakende selfde geslag verbintenisse (huwelike) in sy geheel af.

Versoek aan die AS. Dat die AS asb. aan die kerkraad die volgende inligting sal gee:

Die verslag wat as motivering vir die besluit oor selfde geslag verbintenisse handel, waarin die kerkraad die volgende motivering kan vind;
  • Die Bybelse gronde vir die besluit.
  • Die algemene openbaring waarvan AS gebruik gemaak het.
  • Die leiding wat die AS uit die Belydenisskrifte gekry het.

Tuesday, November 10, 2015

Moreletapark NG Kerk verklaar dat die Algemene Sinode op liberale en humanistiese wyse met die Woord omgaan!

"Ek is gay, ek is 'n humanis en God het my so gemaak." Dit is die hart van die gay-beweging." "God verander selfs Sy planne om by my aan te pas," skryf een NG Kerk teoloog die ander dag. Daarmee word 'n vuis gewys na God wat gesê het die mens is dood in sy sonde (Eph. 2:1-10).

Moreletapark Gemeente het 'n dag nadat die Algemene Sinode besluit het homoseks is nie sonde nie, 'n kort en bondige verklaring uitgereik wat bevestig dat die Woord van God leer dat homoseksuele verhoudings en homoseks sonde is. Nadat die gemeente amptelik vergader het op 29 Oktober, reik die kerkraad van die gemeente 'n meer breedvoerige standpunt uit wat baie duidelik stel dat die Algemene Sinode hul skuldig gemaak het aan humanistiese dwaling. Neem veral kennis van die stelling in hul verklaring: "Die Bybel op ‘n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel."

"Dit is my gebed dat ons Vader elke verklaring sal gebruik om Sy kinders se harte te versterk wat in die tyd deur die vader van alle leuens versoek word met die woorde: 'Het God regtig so gesê.'"

Verklaring van die Kerkraad van Moreletapark Gemeente oor die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslagverhoudings  

Die Kerkraad van Moreletapark Gemeente het tydens hul sitting op 29 Oktober 2015 eenstemmig besluit om standpunt in te neem teen die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings. Die Kerkraad is oortuig dat hulle besluit, wat in hierdie verklaring opgesom is, die weg aandui wat God vir hulle kom aanwys het.

Die eerste en grootste gebod is dat ons God moet liefhê bo alles en die tweede is dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (vgl. Matt. 22:37-39). Daarom verklaar die Kerkraad dat hulle so lief vir God is dat hulle Hom in elke besluit bo alles wil eer deur aan Hom gehoorsaam te wees (vgl. Ps. 119:30-35). Die Bybel is duidelik dat God genadig én regverdig is. Daarom is Hy lief vir alle mense maar keur Hy sonde af, omdat dit ons verhouding met Hom skaad. Alle mense sondig en kan alleen op grond van God se genade vrygespreek en deur geloof sy kinders word (vgl. Rom. 3:23). God se bevel aan sy kinders is dat sonde nie in hulle lewens moet heers nie maar dat hulle moet wegdraai daarvan af en volhardend daarteen moet stry (vgl. Rom. 6:14). Die Kerkraad bevestig daarom dat hulle nooit ‘n besluit sal neem wat enige sonde toelaat of goedkeur nie.

Die Kerkraad het geen begeerte om ‘n enkele sonde uit te lig nie, maar die besluit van die Algemene Sinode dwing hulle egter om in dié geval standpunt in te neem, aangesien geslagsgemeenskap buite die raamwerk van ‘n huwelik tussen een man en een vrou volgens die Bybel, verkeerd is.

Die Kerkraad wil dat die Gemeente se standpunt, sowel as die kerklike proses wat gevolg word om beswaar aan te teken teen die besluit van die Algemene Sinode, ‘n getuienis moet uitdra wat Bybels en Kerkordelik begrond is. Die Gemeente wil in die proses saamwerk om ‘n oplossing te kry waardeur God geëer sal word en die kerk se getuienis na en teenoor alle mense nie sal skade ly nie. As ‘n evangeliese Gemeente, wat die Bybel aanvaar in al die beginsels wat dit leer (Sola Scriptura), wil ons dat ‘n verantwoordelike interpretasie van die Bybel die lig vir die pad vorentoe sal gee.

Die Kerkraad het besluit dat die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslagverhoudings, nie aanvaar kan word nie op grond daarvan dat dit (inter alia):

1. Die sonde van die beoefening van homoseksuele geslagsgemeenskap ontken.

2. Die beoefening van volhardende sonde in leraars se lewens aanvaar.

3. Die Bybel op ‘n liberale en humanistiese wyse uitgelê word wat in stryd is met die byna 2000 jaar oue hoofstroom Christelike en byna 500 jaar oue gereformeerde uitleg van die Bybel.

4. ‘n Verbintenis, ingesluit die beoefening van die seksuele, buite die konteks van die huwelik erken terwyl die Bybel, sowel as in die besluite van die Algemene Sinode, die huwelik slegs as ‘n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou beskou.

Alhoewel die besluit van die Algemene Sinode die reg aan kerkrade gee om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël, glo die Kerkraad dat hierdie ‘n tyd is waar daar opgestaan moet word teen sake wat van kardinale belang is vir die integriteit van die evangelie en die getuienis van die kerk.

Die Kerkraad sal daarom die volgende proses volg om sy getuienis te laat hoor en die onaanvaarbare dele van die besluit van die Algemene Sinode te laat verander of herroep, nl.:

1. Gesprekke sal met die ring van Elarduspark gevoer word.

2. ‘n Brief sal aan die Diensraad van die Oostelike Sinode gerig word waarin die Gemeente haar distansieër van die besluit van die Algemene Sinode en vra dat ‘n spesiale sitting van die Oostelike Sinode gehou word om standpunt in te neem teen die besluit.

3. Indien die bogenoemde proses onsuksesvol sou wees sal die Gemeente, in die lig van die omstandighede dan, herbesin.

4. Die Gemeente sal ingelig bly en die geleentheid gegee word om deurentyd deel te neem aan die proses.

As leierskap van die gemeente wil ons die gemeente lei om te fokus op dit waarvoor God ons hier op aarde geplaas het naamlik deur saam met mense ‘n pad te stap sodat almal Jesus kan leer ken en in verhouding met Hom kan leef (vgl. Matt. 28:19-20). Ons begeerte is dat alle mense die God mag ontmoet wat so lief was vir die wêreld dat Hy sy Seun gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê (vgl. John 3:16). Die Gemeente het begrip vir spesifieke uitdagings waarmee mense sukkel maar wil hande vat sodat ons mekaar kan help in ‘n lewe van groei in Christus.

Soli Deo Gloria

Moreletapark Gemeente
3 November 2015

Monday, November 9, 2015

Hier staan ek; Ek kan nie anders, mag God my help! Piet Retief Gemeente doen dit soos Luther. #AS2015MustFall

Die kerk staan op teen die dwaalleraars. In Piet Retief het die dominees op reformasiedag hulle verwerping van die Sinode se besluit (soos Martin Luther!) aan hulle kerk se voordeur vasgespyker! "Ek bid dat ons regkry om die opregte worstelaar welkom te laat voel terwyl ons die dwaalleraar ontuis laat voel." ~Thys de Jager

Hier volg die verklaring en brief van Piet Retief gemeente.



Geagte Voorsitter Sinodale Diensraad

Na aanleiding van die besluit van die Algemene Sinode oor selfdegeslag verbintenisse, vind asseblief hiermee ‘n verklaring en besluit van die NG Gemeente Piet Retief.

Vriendelike groete en seënwense.
ESTHER FOUCHé
SAAKGELASTIGDE

BESWAAR TEEN DIE BESLUIT VAN DIE ALGEMENE SINODE OOR SELFDEGESLAG VERHOUDINGS

Op Sondag 1 November 2015 tydens die plaaslike Hervormingsfees het die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Piet Retief, soos Martin Luther destyds, ons beswaar teen die besluit van die Algemene Sinode teen ons kerk se deur vasgespyker.

Description: Description: C:\Users\user\Pictures\2015-11-02\519.jpg

Ons aanvaar nie die besluit van die Algemene Sinode nie en beskou dit as dwaalleer. Ons roep diegene wat daarvoor gestem het op tot bekering en vra die kerk om die dwaling reg te stel.


VERKLARING

Die Bybel is die Woord van God en ons staan onder sy outoriteit. Daar is geen verwysing daarin wat homoseksualiteit goedkeur nie. Die 2015 Sinode sê dat die huwelik ‘n verbintenis tussen ‘n man en vrou is, maar maak nou voorsiening vir selfde geslag verbintenisse as ‘n alternatief vir diegene wat nie aan die Bybelse definisie kan voldoen nie. Dis onbybels en ‘n dwaalleer.

“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” 1 Cor. 6:9-11

Dit word goed uitgelig in Johannes 8 met die vrou wat in owerspel betrap is en voor Jesus gebring is. Jesus spreek dié aan wat haar wil stenig en sê: “Laat die wat sonder sonde is, die eerste klip gooi.” As hulle een vir een omdraai, vra Hy vir haar: “Waar is jou beskuldigers? Het niemand jou veroordeel nie?” Dan sê Jesus vir haar (en ek glo Hy het dit met deernis en liefde gesê): “Ek veroordeel jou ook nie, gaan heen en sondig nie meer nie.” Hierdeur het Jesus diegene wat wil klippe gooi aangespreek (en dis wat die Sinode wou doen) en Hy reik uit na die vrou wat gesondig het en sy kry vergifnis. Die geweldige skuld en skaamte wat sonde veroorsaak het, het Hy van haar weggeneem, maar Hy het nie nagelaat om vir haar te sê om nie meer te sondig nie. Dis wat die Sinode nagelaat het. Jesus se waarheid is uit die Sinode besluit gelaat. Die Sinode moes ons eerder toegerus het hoe om in liefde en waarheid ‘n pad te stap met gelowige lidmate wat worstel met hulle seksuele oriëntasie.

Ons kan ons dus ook nie vereenselwig met die kompromie besluite wat deesdae in die Kerk voorgestel en geneem word nie. Daar kan nie ten opsigte van ernstige leerstellings kompromieë wees wat ruimte laat om dit te aanvaar of nie te aanvaar nie.

Vir mense wat worstel met hulle aangetrokkenheid tot mense van dieselfde geslag, wil ons sê dat ons jammer is oor al die spot en verwerping wat u al moes beleef – dikwels ook van mede Christene.

Ons wil graag ons maksimum liefde en ondersteuning aanbied aan diegene wat hierdeur geraak word. Ons vra dat leiding geneem sal word deur die kerk om gemeentes toe te rus om ondersteuningsgroepe tot stand te bring wat diegene sal help en lei tot eer van Christus.

BESLUIT

Tydens die Kerkraadsvergadering van 5 November 2015 besluit die Kerkraad van die NG Gemeente Piet Retief as volg:

1. Ons is oortuig dat die Skrif ons leer dat ’n huwelik die lewenslange verbintenis is tussen een man en een vrou, wat mekaar met die liefde van Christus versorg. Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ’n christelike huwelik tot stand kom, is tussen een man en een vrou, met Christus as die middelpunt. Daarom verwerp ons die Algemene Sinode se besluit wat voorsiening maak vir selfdegeslag verbintenisse wat deur die kerk goedgekeur en voltrek kan word.

2. Ons glo dat die Skrif daaroor baie duidelik is dat alle seksuele verhoudings buite die huwelik teen God se wil en plan is. Die beoefening van homoseksualiteit is dus, soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat, teen God se wil en plan Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.

3. Ons gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus Jesus oop vir alle mense. Wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard, kan hy/sy nie in ’n leiersposisie (leraar, ouderling, diaken, wyksleier of diensgroepleier) in ons gemeente diens doen nie.

4. Ons aanvaar nie die besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor selfdegeslag-verhoudings nie en beskou dit as ’n dwaalleer. Ons is geskok oor die wyse hoedat eeueoue, bewese Gereformeerde eksegetiese en hermeneutiese beginsels tydens ons kerk se beleidmakende Sinode deur ’n meerderheid afgevaardigdes geïgnoreer is en Skrifgedeeltes sodanig geherinterpreteer en gemanipuleer is ten einde die idee te skep dat hierdie dwaalleer Bybels-verantwoordbaar is. Ons roep diegene wat daarvoor gestem het op om om te draai van hierdie verkeerde weg en om terug te keer na die baie duidelike lering daarrondom in die Woord van God en vra die kerk (gemeentes, ringe, streeksinodes en die Algemene Sinode) om die dwaling reg te stel.

5. Ons spreek ons dank uit teenoor die Oostelike Sinode, wat pro-aktief ’n beskrwywingspunt na die Algemene Sinode toe deurgestuur het in ’n poging om bogenoemde dwaling te verhoed. Ongelukkig het genoemde beskrywingspunt nie tot sy reg gekom binne die manipulerende konteks waarbinne die saak behandel is nie.

6. Ons versoek ook die Oostelike Sinode om dringend aandag te gee aan die erg-verskraalde wyse waarop die kerk deesdae in die Algemene Sinode verteenwoordig word en wat, na ons mening, telkens daartoe lei dat besluite, wat totaal onaanvaarbaar is vir die meerderheid in die NG Kerk, deur minderhede deurgeforseer word. Waar is die dae dat elke ring, byvoorbeeld, self die geleentheid gekry het om ’n leraar en ouderling na die Algemene Sinode af te vaardig wat volgens hulle hul saak die beste sal kan verteenwoordig?

Die vorige Algemene sekretaris van die NG Kerk, Dr. Kobus Gerber, het tereg in die voorwoord van die agenda erken dat die leierskap van die NG Kerk rondom artikel 1 besef het dat hulle ’n baie verkeerde idee gehad het oor hoe die gemeentelede op grondvlak daaroor voel. Dieselfde geld die besluit oor selfdegeslag-verhoudings. Ook die feit dat leiersfigure van die NG Kerk onlangs openlik hulle solidariteit vir die betogende studente tydens die Fees must Fall-veldtog getoon het, is vir talle lidmate, wie se kinders emosioneel, fisies, akademies, finansieel en andersins (deur onder andere viktimiasie en vandalisme) gely het onder die chaos, moeilik om te aanvaar. Ons mis daarin ’n sensitiwiteit vir ’n groot deel van ons lidmate en sien daarin ’n oordrewe ingesteldheid om diegene te ondersteun vir wie “om altyd benadeeldes te wees” ’n primere lewenshouding geword het.

7. Ons gee die getuienis rondom die gemeente se onlangse viering van Hervormingsondag sowel as die verklaring en besluit van die Kerkraad aan die Sinodale Diensraad en aan die ASM deur. Die Kerkraad versoek die leraars om ’n brief aan die Diensraad van die Oostelike Sinode te rig waarin hulle standpunt teen die besluit van die Algemene Sinode verwoord word en versoek die Diensraad om binne drie maande ’n spesiale sitting van die Oostelike Sinode byeen te roep waartydens die kerk in sy breë die geleentheid kan kry om hulle weerstand teen genoemde besluit uit te spreek. Ook versoek ons die Sinodale Diensraad om alles in hulle vermoë te doen om die ASM te oortuig om nie die Handelinge van die Algemene Sinode te publiseer alvorens streeksinodes ruim geleentheid gehad het om hulle standpunte te bespreek, te formuleer en na die ASM deur te stuur nie.

8. Indien bogenoemde proses onsuksesvol sou wees, sal die Kerkaad, in oorleg met die gemeente, herbesin, onder andere, rondom die oorbetaal van sinodale bydraes. (Tydens ons vergadering van 5 November 2015 was daar ’n sterk gevoel dat ons as gemeente reeds ons sinodale bydraes moet begin weerhou, maar die leraars het hulle versoek om dit, ten minste vir die huidige, nie te doen nie sodat ons eers alle ander weë kan probeer volg.) Die kerkraad onderneem om die gemeente deurentyd ingelig te hou en om aan hulle die geleentheid te gee om voortdurend hul standpunte te laat hoor.

DR. HANCKE VAN BLERK (VOORSITTER)
DS. ROELF VAN NIEKERK (MEDELERAAR)

Saturday, November 7, 2015

Homoseksualiteit en die Christelike geloof: Wat is die hoop van die evangelie? Dr. Rosaria Butterfield verduidelik!

Dr. Rosaria Butterfield is 'n wedergebore Christen wat bevry is van haar "LGBT" lewenstyl deur die krag van die evangelie (Rom. 1:16). LGBT staan vir "lesbian, gay, bisexual, and transgender". In 'n onderhoud wat deur "Ligonier Ministries" met haar gevoer is, verduidelik sy hoe die kerk en Christene moet reageer teenoor die LGBT gemeenskap en wat die hoop van die evangelie is?

Ek haal die kern punte hieronder aan wat tydens die onderhou aangeraak is. Hier is die YouTube skakel na die onderhoud. (https://youtu.be/TW06rdv1eOo)

  • "Briefly share how you came to know the Lord." (0-5:46)
  • "Do homosexual desires immediately go away upon conversion?" (8:10)
  • "I was not converted out of homosexuality, I was converted out of unbelief." (10:35)
  • "Original Sin distorts us." (11:00)
  • "Indwelling Sin manipulates us." (11:25)
  • "A good question to ask ourselves when we are trying to minister to people in LGBT community is, "Am I reflecting a life of repentance?" (11:46)
  • "What is the hope of the gospel?" (13:13)
  • "The gospel is not a moral makeover." (13:26)
  • "Could you explain why a term like sexual orientation is not helpful?" (16:50)
  • "Sin distorts people; Sin deceives people." (21:10)
  • "Homosexuality is a sin to be mortified; not a behavior to be modified." (22:21)
  • "We are born this way; we are all born in Adam. We are all born distorted by original sin." (26:10)
  • "That guilt and corruption created three levels of war: One; we are at war with God. Two; we are born at war with each other. Three; we are born at war with ourselves." (29:50)
  • "Christians are labeled bigots or homophones. What is behind that thinking?" (33:10)
  • "There are some in the church that focus on love and less so on truth. What do you say to those churches?"  (43:50)
  • "What do you tell Christian parents? What counsel or advise do you give them? (those who's children has come out confession being gay). (50:20)
  • "Do we speak to young children about homosexuality?" (52:19)
  • "What is the message you want the LGBT community to hear at the close of this interview?" (58:42)

Friday, November 6, 2015

Afgevaardigdes van Suid Kaap ring stap uit op NG Kerk moderator

Ongeveer 100 verteenwoordigers van die Suid Kaap se ringe was op 04/11/2015 by ‘n vergadering in George waar die moderatuur die Algemene Sinode van 2015 se besluit oor selfdegeslag verhoudings aan hulle probeer verkoop het. Bart Volsoo het vir omtrent 15 minute gepraat en verduidelik waarom die AS se besluit onaanvaarbaar was, waarna Nelis van Rensburg, die moderator van die laaste Algemene Sinode, repliek gelewer het. Tien minute in Nelis se repliek in het die mense in klein groepies begin uitloop. Daar het net ongeveer 20 mense van die oorspronklike 100 nog oorgebly wat na Nelis geluister het tot hy klaar gepraat het. Daar sou nagmaal bedien word na die vergadering, die uitstappers het nie die nagmaal gebruik nie.
Bart Vosloo skryf in ‘n epos oor die vergadering:
Vriende ek gee net vir julle n kort oorsig wat gister gebeur het. Al die ringe van Suid-Kaap het by George byeen gekom. Ons was ongeveer 100 aanwesig.   Die moderator was self teenwoordig. ‘n Marais van die sinode het die bespreking gelei.  [Ek sal DV oor die naweek volledig rapporteer en my mening gee oor ons pad voorentoe].
Al die aanwesiges het dit duidelik gemaak hul gemeentes verwerp die AS se besluit. Daar was nie een enkele aanwesig wat hulle gesteun het nie. Die taktiek op hierdie vergadering van die moderamen se kant was om alles te herhaal wat ons reeds weet. Ek het hierteen beswaar gemaak en my beswaar is gehandhaaf. Ons het toe dadelik na “luister” oor gegaan.
Pieter Hurter ek het toe die verslag wat jy so netjies vir ons afgerond het voor gelees. Hulle was ontsteld, dit kon jy op hulle gesigte lees. Al opmerking van Marais was dat ek het gemeld dat ek 8 minute sou wees en ek het 15 minute gepraat.   Hulle was duidelik ongemaklik. Hierna het die een na die ander lidmaat of predikant opgestaan en gese hulle verwerp die AS se besluit en hul redes gegee.   Die moderatuur het op al die besware feitlik nie gereageer nie.
Die moderator prof Nelis het toe repliek gelewer en vol selfvertroue weer net die AS se besluit probeer verduidelik. Ongeveer 70-80% van ons teenwoordig het toe uit gestap en huis toe gegaan.
In die begin van die byeenkoms het die moderator versoek dat almal tog teenwoordig moet wees by die “Afsluiting:  Agape Liturgie” [Nagmaal].
Ek glo die uitstap van ons het meer gesê as enigiets anders. Ons kan nie toelaat dat hierdie klein groepie ons kerk verder benadeel nie. 
Groete,
Bart  Vosloo
NS: In reaksie op die berig skryf Düring Cornelius die volgende. "Streeksinodes en ringe sal oor twee goed ernstig moet besin: Om 'n duidelike boodskap aan die AS te gee dat hul op geen wyse deel kan wees van 'n AS wat ruimte maak vir diegene wat nie meer die geloofswaarhede in die 3 Belydenisskrifte wil onderskryf nie (bestaan van die duiwel, hemel, hel, liggaamlike opstanding en hemelvaart van Christus, ens);  Tweedens sal ernstig besin moet word oor die teologiese opleiding van predikante - of daar voortgegaan moet word om universiteite hiermee te vertrou, en of die kerk nie weer die opleiding self moet behartig nie.  Te veel leraars tree toe tot die bediening vir wie die Bybel nie meer die Woord van God is nie.  Hierdie post modernistiese stem begin al swaarder te weeg by instansies soos die AS. Ek is bevrees wat op die spel is is heelwat dieper as net 'n hermeneutiese stryd, soos Henk hierbo na verwys."

Sunday, November 1, 2015

NG Kerk Kokstad herbevestig hul verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God!

NG Kerk Kokstad
Die NG Kerk Kokstad reik 'n sterk verklaring uit vir die waarheid en vir die Woord van God teen die Algemene Sinode se dwaling.

NG Kerk Kokstad skryf: "Ons, die NG Kerk Kokstad, wil op die duidelikste moontlike manier ons verwerping van die Algemene Sinode se ingesteldheid rondom Skrifgesag en spesifiek die Woord van God, soos vertoon in besluite rondom homoseksualiteit, die bestaan van Satan en bose magte, die maagdelike geboorte van Christus, en dergelike sake en uitsprake, uitspreek.

Ons verwerp die nuwe rigting wat die Algemene Sinode inslaan, met die volle hartseer minagting wat dit verdien. Die rede hiervoor is dat die Algemene Sinode die verantwoordelikheid ontvang het om oor die leer en lewe van predikante en kerkraadslede te waak, om die leer van die kerk suiwer te hou, en dit nie meer kan doen nie.

Voorbeeld: as ʼn dominee wat homoseksueel lewe, op die kansel mag diens doen, mag ʼn dominee wat ʼn alkoholis of pedofiel of verslaafde is, ook nie geweier word nie. Die toepassing van ʼn beginsel trek veel weier as net die voorbeeld wat die Algemene Sinode ter tafel gestel het.

Hoog geagte predikante, soos Ronel Bezuidenhout en André Bartlett in die onlangse media, verwerp reeds die onfeilbaarheid van die Woord van God en praat van die Bybel as woorde oor God. Dit lê op die voetspore van ons professors aan die teologiese fakulteite en word dus reeds aan die opkomende leraars verkondig. So val die eerste Solus, Sola Scriptura.

Die maagdelike geboorte, en ander heilsmomente word ook verdag gemaak en so word die tweede Solus, Solus Christus, verwerp.

Die Algemene Sinode se evangelie verkondig nie meer sonde as ʼn breuk tussen God en mens nie, maar as ʼn breuk tussen mens en mens wat herstel moet word. Die uitspraak: “Nou is die kerk se leer in lyn met die grondwet van die land”, herbevestig dit. Hierdeur word sonde verskraal tot sosiale denksisteme waar menswaardigheid en aardse geregtigheid met die gepaardgaande restitusie onderling die allerbelangrikste faktor in die evangelie word.

Ons as NG Kerk Kokstad herbevestig ons verbintenis aan die Bybel as onfeilbare Woord van God en daarmee saam die ankers van die Reformasie soos bely en verkondig deur die ware kerk van God:

Ons verbind ons opnuut tot die:
Sola Scriptura – Alleen God se Woord is waarheid
Solus Christus – Alleen Christus kan ons met God versoen en ons lewens omkeer
Sola Fide – Alleen deur geloof in Jesus Christus se soenverdienste is daar redding
Sola Gratia – Alleen uit genade word ons weer met God versoen.
Alles lei tot die eer van God: Soli Deo gloria.

Ons glo en bely dat die Woord van God helder en duidelik verduidelik word in die drie Formuliere van Eenheid: Nederlandse Geloofsbelydenis, Dordtse Leerreëls en Heidelbergse Kategismus. Ons onderskryf hulle op die Qua standpunt (ons verwerp hiermee die quatenus standpunt)."

NG Kerk Kokostad het verder die volgende op hul Facebook blad geplaas:

"Hierdie skrywe is gister aan die Moderamen van die Sinode KZN voorgehou en die Sinode van KZN het hulle herverbind aan die solas en Gereformeerde Belydenisskrifte soos verwoord in die ware Artikel 1 van die Kerkorde. Daar is ook 'n brief wat na die Algemene Sinode sal gaan om die diep en breë ongelukkigheid in die Sinode van KZN rondom die besluit van eengeslag verhoudinge met redes te verwoord. Dit sal in die Posduif en 'n ope brief aan gemeentes en lidmate deurgegee word."

Gaan lees meer op hul Facebook-blad.